Pa’s en dogters

Elke verhouding in die gesin het sy eie plek en belangrikheid, en iemand het een keer gesê dat God heel eerste vir Adam en Eva geskep het, ‘n gesin, en nié ‘n Raad van Direkteure nie.

Omdat die verhouding tussen die pa en sy dogter nou ter sprake was by die Google soekenjin, is dít waaroor ek wil skryf.

Pa’s julle is nie net die voorsieners wat moet sorg dat daar geld in die huis is nie, julle het ‘n baie prominente doel in die huis. Julle is die hoof van die huis, die vaders in die huis, en as julle daardie rol met liefde vervul en julle vaderskap in liefde uitoefen, sonder om iemand soos ‘n vloerlap te laat voel, baat elke persoon in die huis daarby. Jy inkluis.

Pa, jy is die een wat jou dogter leer hoe ‘n man eendag teenoor haar sal moet optree. Jy leer haar wat liefde en respek is en as jy liefdevol en respekvol teenoor die vrouens in jou huis optree, leer sy weer hoe om in liefde te reageer. Daardeur leer sy om vir jou te eer en respekteer en lief te hê soos ‘n dogter haar pa moet liefhê, maar ook later ‘n vrou haar man moet respekteer.

As jy jou rol as pa uitoefen, soos wat God dit wil hê, as daar ‘n goeie en gesonde verhouding tussen julle is, baan jy die weg dat sy dalk eendag haar man ook sal respekteer en liefhê en dien.

Maar pa, as jy jou dogter op een of ander manier misbruik, verloor sy haar respek vir alle mans. As jy as pa nie gesonde verhoudings handhaaf nie, veroorsaak jy dat sy ook in haar volwasse lewe mans nie kan vertrou nie.

As jy ‘n afwesige pa is, veroorsaak jy dalk so ‘n honger na ‘n vaderfiguur, dat sy op ‘n té vroeë ouderdom uitreik na ander mans op ‘n verkeerde manier.

En pa, weet ook dat jou dogter een dag ‘n geliefde huis toe gaan bring. Ja, dis moeilik, jy wil jou kind beskerm. Ook dít is die normale verloop van die lewe en as jy dit gaan toelaat en haar goeie keuse van man gaan goedkeur, as jy haar laat gaan, help dit haar in haar eie huwelik. Moenie dat sy skuldig voel omdat sy jou verlaat het nie. Moenie dat sy voel sy moet kies tussen jou en hom nie. Sy is mos regtig lief vir jou!

Beskerm jou dogter, maar waak teen oorbeskerming. Gee haar soms ook die geleentheid om haar vlerkies te sprei.

Pa’s, die grootste geskenk wat jy jou dogter kan gee, is, om haar mamma baie lief te hê.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Op die spore van die meesters met Uber

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Transformation Prayer Ministry: Bredasdorp en Riversdal

Advertisements

Mammas met deursettingsvermoë

Die baie oulike buurvrou met die drie klein dogtertjies wat wissel van 2½ tot 7, vra of sy nie asseblief by my kan kom kitaarlesse neem nie. Dit gaan so by die een oor in en die ander een uit, en die volgende vra sy, sal dit reg wees as sy die middag kan kom.

Die eerste les is chaos. Dis kitaarles en ek het nie my kitaar hier nie, die liedjies het iemand sommer vir my gewhattsapp, so dis klein gedruk, en die kinders is tussen ons, oor ons, saam op die kitaar, en nog!

By die tweede les het die kinders goed saamgebring om te doen, so ons speel kitaar en ons sing en die kinders speel op hulle tablette met die klank vol oopgestel, en dis my honde en kindertjies wat mekaar pla.

Maar ons vorder. Om die waarheid te sê, ek is eintlik sommer baie beïndruk. Tussen al die lawaai en steurings deur, snap die mamma die drukke en liedjies sommer vinnig en maklik en by die huis oefen die mamma hard.

Dis ‘n ma wat bedags hard werk aan haar beroep, drie kinders grootmaak, en nog huishou en boervrou wees ook. Dis ‘n ma wat net iewers ietsie vir haarself wil doen en ál manier wat sy dit kan doen, is in samewerking van die hele spannetjie. Dis ‘n ma wat nie moed verloor het, haarself sit en bejammer en in sak en as verval nie. Nee, dis ‘n ma wat deur die stof en die chaos, ‘n manier vind waar sy tog ook vir haarself ietsie bevredigends gedoen kry. Selfs al moet sy oefen met ekstra handjies wat saamspeel. Hou hierdie mamma dop, sy gaan nog ver kom!

Skielik onthou ek hoe ek vir my musiekeksamens geoefen het, as mamma met twee klein seuntjies aan my sy: Ons het altyd in trio geoefen. Die twee buitenste oktawe van die klavier was hulle s’n en die res van die note was myne, en ons het geSPEEL, geOEFEN, uit volle bors, volume oopgedraai. Dit moes verskriklik geklink het en as iemand voor ons huis sou stop, het hulle seker gedink die span het kop verloor, wat waarskynlik waar was, maar in die proses het ek bevredig, en hulle, ingesluit gevoel.

Mammas met woema. Soms is dit ál manier! Soms klink dit onmoontlik, maar dit werk, omdat die mammas dit laat werk.

Aan al die mammas met woema, mammas met deursettingsvermoë, sê ek: Ek salueer julle!

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Op die spore van die meesters met Uber

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Transformation Prayer Ministry: Bredasdorp en Riversdal

Oor kinders en leer en speel

In die afgelope week het twee artikels my aandag getrek, en ek wou al skryf met die eerste een. Dit gaan sommer oor kinders en leer en sommer volwassenes ook daarmee saam.

https://www.vincegowmon.com/wp-content/uploads/2016/11/Logic-Intuition.jpg

Ek weet ek is outyds, en dan kom ek nog hier van die suide van die land af ook en kyk dalk die lewe uit ‘n ander hoek as gevolg van my ligging, maar ek het ietsie op die hart vandag.

My bekommernis? Dat kinders te vroeg ryp gedruk word. Ek is sommer bekommerd dat kinders nie meer genoeg speel nie. 

Ja, kinders het meer speelgoed as wat ons ooit in die geskiedenis gehad het: Elke denkbare ding, maar speel hulle daarmee?

Natuurlik kan en sal kinders oor die algemeen nie meer speel soos ons gespeel het nie, omstandighede en tye het verander, maar word daar nie te veel klem gelê op die ontwikkeling van die brein dat speel in die proses agterweë bly nie?

Die een artikel waarvan ek praat, het vanoggend iewers op Facebook verskyn. Die persoon vra:

Hi Almal. My seuntjie (5) het nou begin skryf in grR en dit lyk of hy sy nommers omdraai en omruil. Kan dit net die leerproses wees of moet ek hom dalk laat toets vir dyslexia? Indien so ‘n evaluasie nodig is, met watter mense moet ek in verbinding tree. Dankie vir raad.

Mense, mense, mense! Ons moenie die baba saam met die badwater uitgooi nie! Kan julle glo hoeveel mense voel daardie mamma moet DRINGEND hulp inroep. Joewieeee! Daardie kind is ‘n volle VYF jaartjies oud. 1 2 3 4 5! Vyf! 

Op vyfjarige ouderdom is ‘n kind nog nie veronderstel om te moet kan lees en skryf nie. Hy moet omtrent tot by vyf kan tel, dalk tot by tien. Dis die tyd van sy lewe wat sy ma en sy ouma hom nog op sy skoot moet tel EN VIR HOM LEES. Dis die tyd van sy lewe wat hy op die vloer en in die stof en modder met sy KARRETJIES moet speel en blokkies blou, legkaarte pak, bal skop en klip gooi en alles leer wat hy kan leer deur ervaring en speel. DIS NIE DIE TYD WAT HY AL MOET KAN LEES NIE.

Ja, daar IS kinders wat op vyf al kan lees, my eie dogter kon lees toe sy skool toe is, want sy was die laaste kind in die huis en sy het saam met die boeties geleer wat al in die skool was.

Ja, ek weet die hele onderwysstelsel het verander en kinders moet nou al baie vroeër leer lees. Wie se simpel idee dit in elk geval was, weet ek nie.

EK HET REGTIG NIE ‘N PROBLEEM MET BEGAAFDE KINDERS WAT OP ‘N VROEË OUDERDOM LEER LEES NIE, maar ek het ‘n MASSIEWE PROBLEEM dat ALLE KINDERS nou in daardie drukgang gedruk word en gedwing word om vroeër te moet kan lees. My persoonlike mening? Ons ontneem ons kinders van GROOT dinge.

Lees ASSEBLIEF hierdie artikel.  Hulle bevestig wat ek voel. Hier is sommer net so een sinnetjie uit die artikel, lees asseblief die res:

Pushing literacy and numeracy on children before age seven may just be harmful to their little, developing brains. Without the capacity to use their academic minds in the ways that are being asked can cause children to gain what’s called “learned stupidity.” They believe themselves to be incapable and lose their natural desire to learn.

Toortsie

Toortsie by Finesse: Op die spore van die meesters met Uber

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Transformation Prayer Ministry: Bredasdorp en Riversdal

As jy musikaal is

Dirkie skryf van die oulike dogtertjie wat voor haar in die kerk gesit het, doodstil. Sy, en haar pop, het hulle gedra. Niemand het met mekaar gepraat nie. Toe die musiek egter begin speel, begin sy dirigeer. Perfek. Op maat van die musiek. ❤️

As jy musikaal is, is jy musikaal.

Ander goed seker ook. As jy sportief is, is jy sportief. As jy syfervaardig is, ís jy syfervaardig. Kleintyd al.

My dogtertjie was nog baie klein, sou sy drie jaar oud wees? Ons het Holiday on Ice in die Kaap gaan kyk, ons en my broer-hulle en hulle dogter. Die niggie, nie musikaal nie, maar met baie ander talente, het by liedjie nommer 2 al verveeld geraak. Die aand het vir haar ekstra lank geraak. Gelukkig het ons redelik agter gesit en was daar ‘n bietjie ‘spasie’.

Ons dogter het daardie aand vir my baie meer openbaar as wat sy ooit sou weet. Sy was van die eerste oomblik af ‘in die musiek’ . Haar lyfie het reageer op die musiek, soos net ‘n mysieklyfie kan reageer daarop. Sy het redelik stil gesit, maar die lyfie het saamgedans, beweeg, presies in tyd, in ritme. Onopgesmuk. Niks oordadig nie. Nie ‘afshowerig’ nie. Natuurlik. Vanself. Sy was vasgevang in die vertoning tot die heel laaste noot.

Daardie aand het hierdie moederhart geweet wat sy moes weet, wou weet. Daardie aand het my in my besluit gehelp dat ek vir haar, binne my vermoë, die hekke sou oopmaak, dat, sou sy ooit in so ‘n rigting wou gaan, die fondamente reg gelê sou wees. Sou sy iets anders kies, sou dit ook reg wees.

Vandag kyk ek met ‘n dankbare hart terug. My gewaarwording was nie verkeerd nie.

Groetnis

Toortsie

Die ouers, of die kind?

Ek kan nie anders as 100 persent met hierdie man saam te stem nie, en nou skok ek seker die hele bloggosfeer!

Ja, my kinders is vir my verskriklik belangrik, seker dié belangrikste wesens in my bestaan. Ja, ek moet my kinders versorg en beskerm na die beste van my vermoë. Ja, as die kinders in ‘n sekere rigting belangstel en daar is die fondse en tyd en fasiliteite en ons gesin kan dit akkommodeer, sal ek probeer om dit vir hulle beskikbaar te stel om te ondersoek of probeer of doen.

Maar nooit soveel dat die hele gesin gedurig daaronder moet ly nie.

Ons wil regtig graag die beste vir ons kinders hê, dis reg! Maar ons moet oppas dat ons kinders se wille en grille só prioriteit in ons lewens raak, dat álles wat ons dink en doen nét daarom gaan om ons arme bloedjies te dien. Ons hardloop ons kapot, ons breek ons rûe, ons benadeel onsself só dat ons kinders tog net alles kry wat hulle begeer, alle moontlike blootstelling kry, oorgestimuleer word en in die proses breek ons onsself in 60 stukke, is ons oormoeg, oorsensitief, tot op breekpunt gestres en suig ons huweliksmaat en huwelik aan die agterste speen. Om die waarheid te sê, dit suig nie eers aan ‘n speen nie! Want dit het ‘n nul op die kontrak geword!

Liewe vriende, liewe jongmense met kinders in die huis, die grootste geskenk wat ons ons kinders kan gee, is gelukkige huwelike. Ja, elke huwelik gaan deur sy krisisse. Ja, ook ek en my man het soms so op mekaar geskree dat die kranse antwoord gee. Ja, daar ís tye wat die res van die gesin ter wille van een gesinslid moet opoffer, dit gebeur, maar ons moet oppas dat ons nie ons huwelike en huislike stabiliteit verwaarloos en sodoende dít wat ons die graagste wil hê, om gelukkige kinders te hê, juis van hulle ontneem nie.

Laat jou kind haar eie taak doen, dis goed vir haar. Jy het jou beurt gehad toe jy op skool was, dis nou jou kind se beurt. Laat sy dalk ‘n paar punte minder kry vir haar eie werk, maar laat dit haar eie werk wees. En as sy te lui is om dit behoorlik te doen, laat sy die swak punte aan haar eie bas voel.

Laat haar die buitemuurse bedrywigheid kies wat sy die graagste wil doen, maar sy hoef regtig nie alles te doen wat sy wil nie, sy gaan nog 100 jaar oud word, sy gaan nog baie geleentheid in haar lewe kry om die ander goed óók te ondersoek.

Kinders moet ook leer om soms terug te staan, om keuses te maak, maar die meeste van alles moet hul leer dat jou huwelik vir jou belangrik is. As hul dit nie by jou leer nie, waar moet hulle dit leer?

Ek wéét die druk van buite is kwaai. Jy en jou huweliksmaat is egter verantwoordelik vir jou kinders en op die ou end gaan die keuses wat jy gemaak het, die bepalende faktor wees. Lees asseblief daardie koerantuitknipsel, dit het op Facebook rondgeswerf. Maak ‘n verskil, jy kan. Jy is die ouer in die huis, nie jou kind nie. En onthou, julle was eers getroud, en toe kom die kinders en een dag verlaat die kinders die huis, en dan moet jul steeds mekaar hê en kan ondersteun, jy en jou huweliksmaat.

Groetnis

Toortsie