Ai tog!!! Die NAME!

Die geheim is mos al lankal uit dat ek nie name kan onthou nie. Ek was al so bekommerd daaroor dat ek al gaan aanklop het by die dokter, maar hy kon nie foutvind nie. Ek het selfs al voorgestel dat my eie kinders naamkaartjies dra! 😀

Die probleem het my al baie in die verleentheid gestel. Want ander mense is vreeslik lief om vir my te vra om mense voor te stel as daar vreemde mense tussen-in is. Dis FATAAL!  Ek sal BESLIS dié een wie se naam ek onder GEEN OMSTANDIGHEDE mag vergeet nie, nie weet nie!!

Nie lank terug nie, kon ek my buurvrou, wat ook my kleinniggie is, se naam glad nie onthou toe ek haar aan iemand moes voorstel nie. Ek het soos ‘n vis na borrels gehap, mense het probeer help deur die naam te fluister, maar ek was te doof en kon nie hoor wat hulle sê nie!!! Gelukkig, net met die volgende funksie, moes ek WEER iemand voorstel. Kleinnigie was weer in die geselskap. Daar vergeet ek toe weer iemand ANDERS se naam en onthou darem toe hare! Die ANDER persoon het later vir my gevra of ek regtig nie kon onthou wat haar naam is nie!!!  😯

Toe die heel eerste “meisie” by die huis aangebring is, het ek ook die fatale fout gemaak! Arme kind! Maar die toppunt was nou die dag by die atletiek. Ek moes help koeldrank verkoop en toe ek daar kom, kyk ek op die lys om te sien wie saam met my werk. Op die lys staan Sarie. Sy het in elk geval nie opgedaag nie, maar daar was twee ander dames aan wie ek myself voorstel. Raai net watter naam gee ek toe myself? Julle sal nie glo nie! Ja! Sarie!!!

Ek het so 10 minute later onthou dat ek mos nie Sarie is nie en toe maar die saak reggestel!Sjoe!!! Wat is volgende!!!????

Groetnis

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad

12 thoughts on “Ai tog!!! Die NAME!

  1. ai tog ai tog hoe lekker lag ek nou, net wat ek nodig het. Ek is ook maar sleg met die name, nie net nuwe mense sin nie, mense met wie ek elke dag in kontak is, maar as ek skielik daardie persoon se naam moet se is dit asof ek ‘n blank slaan, dit is verskriklik al is dit so snaaks, so jy het al my simpatie. Dankie tog vir jou eerlikheid, want ek het al gedink dit is net ek.

    Like

  2. Nee carin. Dis beslis nie net jy nie! As my man vra wat iemand se naam is en ek kan nie onthou nie, antwoord ek dat die persoon nie daarvan hou as ek sy naam vir ander mense sê nie!

    Like

  3. Ai, tog, ek het al selfs eenkeer my ma se naam vergeet toe ek haar moes voorstel. Ek dink daardie skielike naamonthouvaardigheid wat mens moet he tydens so ‘n voorstel ,kry ‘n ernstige knou agv seuwees/stres/sommer plein onvermoe?
    Maar ek was darem nog nooit Sarie nie! Lekker gelag!

    Like

  4. Is baie maklik om te hanteer. As ek in so ‘n situasie kom dan vra ek “wat is jou naam nou weer” en as die persoon antwoord, “Sarie” dan se ek, “ja ek weet jou naam is Sarie, maar jou van” As jy nie goed kan onthou nie, en ook nie mooi is nie, moet jy slim wees. Verstaan jy.

    Like

      1. Nee, nee sus. Jy verstaan toe nie. Ek praat hier van myself. Niks hoegenaamd met jou te make nie. Maar, wie het gepraat van dom en lelik? Nie ek nie. As jy nie mooi is nie is dit nie te se jy is lelik nie. Dieselfde geld vir slim wees. As jy nie slim is nie, beteken dit nie jy is dom nie. Jy is net minder mooi of slim. Maar ek dink ek verstaan. This is a woman thing. Lees hoor mos maar meestal goed raak wat nooit geskryf of gese is nie. Nou is ek in hierdie geval minder slim want ek kan nie vir jou ‘ gesiggie neersit wat lekker lag nie. Verstaan jy nou?

        Like

  5. O aarde ja, ek “ly” ook waaraan jy praat. Jare gelede moes ek en my man nogal baie funksies bywoon en ek het omtrent nooit die name kon onthou van die mense waaraan ek reeds seker tien of twintig maal voorgestel is nie. Dan sorg ek maar dat ek die heeltyd naby hom bly en as hy sê: Jy onthou mos vir so en so, dan knik ek ewe entoesiasties. Wanneer dinge te warm raak, gaan sit ek in die toilet en lees my boek wat ek in my handsak ingesmokkel het. My man weer, sal iemand een keer in ‘n ry by P&P ontmoet, sy geskiedenis binne minute tot by sy oor,oorgrootjie navors en hom onthou 10 jaar later wanneer hulle by mekaar in die straat verbyloop. Ek dink in my geval stel ek net nie genoeg in mense belang om om te gee wat hulle name is nie. Maar ek IS baie goed daarmee om hulle troeteldiere se name te onthou 😉

    Iemand sê mens moet vra: Hoe spel ‘n mens nou weer jou naam? En dan hoop dis nie Jan Nel nie.

    Like

Gesels saam, asseblief!