Ai tog!!! Die NAME!

Die geheim is mos al lankal uit dat ek nie name kan onthou nie. Ek was al so bekommerd daaroor dat ek al gaan aanklop het by die dokter, maar hy kon nie foutvind nie. Ek het selfs al voorgestel dat my eie kinders naamkaartjies dra! 😀

Die probleem het my al baie in die verleentheid gestel. Want ander mense is vreeslik lief om vir my te vra om mense voor te stel as daar vreemde mense tussen-in is. Dis FATAAL!  Ek sal BESLIS dié een wie se naam ek onder GEEN OMSTANDIGHEDE mag vergeet nie, nie weet nie!!

Nie lank terug nie, kon ek my buurvrou, wat ook my kleinniggie is, se naam glad nie onthou toe ek haar aan iemand moes voorstel nie. Ek het soos ‘n vis na borrels gehap, mense het probeer help deur die naam te fluister, maar ek was te doof en kon nie hoor wat hulle sê nie!!! Gelukkig, net met die volgende funksie, moes ek WEER iemand voorstel. Kleinnigie was weer in die geselskap. Daar vergeet ek toe weer iemand ANDERS se naam en onthou darem toe hare! Die ANDER persoon het later vir my gevra of ek regtig nie kon onthou wat haar naam is nie!!!  😯

Toe die heel eerste “meisie” by die huis aangebring is, het ek ook die fatale fout gemaak! Arme kind! Maar die toppunt was nou die dag by die atletiek. Ek moes help koeldrank verkoop en toe ek daar kom, kyk ek op die lys om te sien wie saam met my werk. Op die lys staan Sarie. Sy het in elk geval nie opgedaag nie, maar daar was twee ander dames aan wie ek myself voorstel. Raai net watter naam gee ek toe myself? Julle sal nie glo nie! Ja! Sarie!!!

Ek het so 10 minute later onthou dat ek mos nie Sarie is nie en toe maar die saak reggestel!Sjoe!!! Wat is volgende!!!????

Groetnis

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad