Is the sky the limit?

Alles is nou weer stil en rustig op Rebusfontein. Die Goue Vroue geniet sommer net die saamwees en rustigheid ná hulle ervaring van ‘n leeftyd, die Jumanji-uitdaging wat behoorlik adrenalienbelaai was. Kort-kort bars een uit van die lag oor iets wat gebeur het. Hulle hou behoorlik nabetragting. Hulle kuier van die een huisie na die ander, hulle drink romerige koffie by Appeltjie, Seegogga sorg vir gluhwein teen die koue, Toortsie dra groentesop met baie vleis in aan, VirgoC het die heerlikste, baie gesonde patee gemaak met sadebeskuitjies. Trommeltjies het gaucamole gemaak om saam met beskuitjies te eet. Frannie het heerlike vars gebakte broodjies sonder klippies in gemaak. Christa bied van die heerlikste Kazakstan tee aan. Almal bring iets.

Dis tóé wat Toortsie vir Trommeltjies vra: “Trommeltjies, onthou jy toe ABBA die dag weg is, hulle vir ons elkeen ‘n briefie gelos het? Ons het mos nooit jóú nota gelees nie? Hoe het dit dan gebeur?” Trommeltjies: “Ai, ou Toortsie, jy weet, alles was so deurmekaar, almal was nog so ‘n ‘n dwaal dat dit net per ongeluk by my verbygegaan het.” Positief: “Maar het jy dit dalk iewers, ek sal ook graag wil hoor wat daarin staan.” “Ja,” antwoord Trommeltjies, “wag, ek kry dit gou.”

Liewe Goue Vrou, jy met die goeie hart wat so omsien na almal. Ons het gehoor hoe jy kop gehou het daar in Ruanda by die Gorillas toe die Goue Vroue almal verskrik was en jy hulle liefdevol daar uitgekry het. Jaag jou drome na, reik na die sterre. The sky is the limit.

“Haai, dit is mooi”, sê Appeltjie. “Leef jou drome, reik na die sterre. The sky is the limit.”

Tannie Frannie: “‘The sky is the limit’ nogal. Hulle ken nie die Goue Vroue nie. Asof hulle hulle enigsins só sal beperk.”

Una: “Frannie, verstaan ek jou reg? Bedoel jy dat die Goue Vroue baie verder as die wolke sal mik? Verder as die blou lug?”

Frannie: “Ja. Dink net, selfs die maan is nie meer vir ons Goues ontoeganklik nie.”

Aalsie: “Wel, verder as dit beteken die ruimte.”

WoordNoot: “Nou raak julle darem waaghalsig, maar hoekom nie?”

Seegogga: “Wel, ons hét al die hele Suid-Afrika platgetoer in ‘n giggelgroenbus, ‘n stukkie van die res van die wêreld verken met ‘n tent, wat keer ons om nie die ruimte te gaan besoek nie?”

Sonell: “Die ruimte? Julle weet nie hoe graag ek nog altyd dit wou doen nie! Kom ons doen dit dadelik! Oeeeee sterre, planete, komete …”

VirgoC: “Star Wars, Marsmannetjies. Ag, dis opwindend!”

Christa: “Die lekkerte van ruimte toe gaan is dat ons nie eers ‘n Covid toets hoef te ondergaan nie.”

San: “Praat jy! Daai toets is regtig geen grap nie. Maar kom, ons kan mos nie so sit en niks doen nie?”

Ekmyselff: “Ek wou nog altyd ‘n ster vir my gepluk het. Nou is ons kans! Kom, dat ons begin!”

Catch a falling star and put it in your pocket

never let it fade away

Catch a falling star and put it in your pocket

save it for a rainy day …

Trommeltjies, sal jy ons in die ruimte kry asb? Dit was tog immers jóú brief wat ons aangespoor het?

….

Ons is ‘n groep vroue, bloggers, en tussen ons klompie het ‘n dorp ontstaan, Rebusfontein. Iewers in Suid-Afrika. Iewers in ons lieflike land.
Hierdie hoofstuk sluit by ‘n menigte voriges aan. Jy sal dalk frons, jy sal dalk wonder. Ja, Rebus bestaan. Vir ons, en dalk vir jou.
Rebus is ons wegloop-plek, en soms ons wegkruipplek. Maar feite is, Rebus is ONS s’n.
As jy ooit lus is om deel te word, om deel te neem, sê net, en jou droom sal bewaarheid word.

Die Goue Vroue gaan die Ruimte ontgin! Maar nie net die Goue Vroue nie, enige een wat graag deel wil wees van hierdie ervaring, mag saamskryf! Laat weet net vir een van ons en ons sal jou graag verwelkom. Nuwe mense bring altyd nuwe idees, nuwe entoesiasme, nuwe gees. Ons skryf in geen spesifieke volgorde nie, maar soos wat elkeen van ons aandui dat sy graag volgende wil skryf. Vier dae word toegelaat voor ‘n volgende persoon haar storie plaas sodat almal genoeg tyd het om dit te kan lees. Dit sal goed wees as ons stories by mekaar kan aansluit. Komaan dames, kom ons kyk wat die ruimte ons bied. The sky is NOT the limit! Veral nie vir die Goue Vroue nie!

Volg die storie deur op HIERDIE SKAKEL te kliek.

Toortsie

21 thoughts on “Is the sky the limit?

Gesels saam, asseblief!