Kruispad vir Kara

Hierdie het my vriendin, Lina, oor die boek geskryf.


Toe my vriendin hierdie boek van Helene de Kock sien, was sy in ekstase, sy is mal oor Helene de Kock se boeke.

Kruispad vir Kara is die eerste boek van Helene de Kock wat ek lees en ek kan hom net nie neersit nie. die skrywer kry dit reg dat ek Kara word, dat ek in Kara se karakter inklim, dat die storie my storie word.

Saam met Kara voel dit vir my of dit ék is wat die verskriklike nuus van bankrotskap hoor. Saam met haar maak ek planne oor hoe om te oorleef, bekyk ek sommer my eie lewe met ‘n vergrootglas en wonder of ék dit sal kan hanteer en hoé ek dit sal hanteer sou dit my oorkom.

Terselfdertyd vra ek vir God vir Sy beskerming oor ons boerdery en finansies, maar ek vra ook, hoekom nie ek nie? Dit kom tog soveel ander mense oor. En ek besef dat elke dag net genade van God is.

Ek is nog nie so ver gelees nie, Kara is nog midde in die krisis en ek weet dat daar sekerlik nog baie groter krisisse gaan kom soos die boek vorder. Kara staan reeds voor groot keuses wat haar lewe radikaal kan verander. Wat sal sy kies?

Soos ek reeds gesê het, sukkel ek om die boek neer te sit en geniet ek dit werklik. Helene de Kock is beslis ‘n skrywer vir wie se boeke ek sal uitkyk.

Toortsie

Volg gerus die boeke wat ek bespreek op Pinterest, of kliek hier vir my boekeblogs.

Lê jou eier – As ek maar eerder

Een ding wat nie altemit is nie, Hester kán interessante onderwerpe uitdink!

Ons maak almal foute. Soms wil ons dalk sê, as ek maar eerder.

Ja, daar ís ‘n as ek maar eerder storie wat ek kan vertel, maar beslis nie gaan nie. Dán gaan ek dalk eendag sê, ‘as ek maar eerder stilgebly het.’ Die waarheid is, ek weet tot vandag tot steeds nie wat daardie ‘eerder’ moes wees nie. As ek dit eerder net vir die Here gegee het. As ek nie probeer het om self ‘n oplossing te soek nie.

Daar was in my lewe al ‘n hele paar ‘asse’ waarmee ek geworstel het. As ek eerder B Mus studeer het as B Comm? As ek eerder Wellington toe gegaan het en hulle musiekkursus gevolg het? Dan kom die besef: Dan sou ek dalk nie my man ontmoet het nie en sou ek nie my kinders gehad het nie. Dan sou ek nie my bietjie kennis kon aanwend in ons boerdery nie. Ek sou selfs nie my boeke so suksesvol kon bemark het nie.

Ek was heeltemal te kwaai met my seuns.

Ek het my op ‘n stadium te veel gesteur aan wat ander mense sê.

As ek maar harder gewerk het op skool. As ek in my later skooljare nie my musiekoefeninge verwaarloos het nie.

As ek nie my geloofslewe soms afgeskeep het nie.

Ek het soms my persoonlikheid en roeping skade gedoen, om die samelewing tevrede te stel, of hoe ék gedink het die samelewing dink ek moes wees.

So kan ek aangaan. Elke keuse wat ons maak, het sy eie gevolge. Ek glo ek het in die spesifieke tydperk in my lewe, die beste besluit probeer maak in daardie omstandighede. As ons terugkyk, dink ons maklik, ons moes eerder iets anders gedoen het, maar toé was dit vir ons die beste opsie.

Vandag is ek dankbaar vir die keuses wat ek gemaak het. Dankbaar vir die geleenthede wat die Here vir my gegee het. Dankbaar vir die aanhou investering in my lewe wat ek gedoen het. Dankbaar dat ek gekies het om eerder met minder geld klaar te kom, maar beskikbaar te kon wees vir my kinders toe hulle klein was.

As ek maar eerder …, sou ek dit dalk maar steeds op presies dieselfde manier gedoen het.

En wat van jou? Wat moes jy eerder doen?

Groetnis

Toortsie

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Toe haal ons die maskers af

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

Dit gaan alles oor keuses

Eintlik bepaal ek ‘n groot deel van my lewe deur my keuses. Goed, daar gebeur dinge met my wat ek nie kan beheer nie, ek beland in slegte situasies waarvoor ek nie gevra het nie, tog bepaal my eie gesindheid, my eie keuses, hoe ek daarop gaan reageer.

Dit gebeur selfs met ‘n kleine kindjie wat sy handjie uitsteek na iets wat hy nie moet vat nie. Sy mamma sê nee, en hy KIES of hy haar gaan gehoorsaam, of nie.

Ek kies of ek my kind gaan ‘n pak slae gee of net mooi met hom praat, of selfs sy verkeerde optrede gaan ignoreer. Ek kies of ek my bed in die oggend gaan opmaak of nie. Ek kies of ek van alles in die lewe ‘n ‘issue’ gaan maak en of ek eerder gaan leef en laat leef.

Ek kies of ek die padreëls gaan gehoorsaam en of ek soms te vinnig of oor ‘n stopstraat gaan ry. Dit is ook my keuse of ek al die ander padgebruikers om my se lewe in gevaar gaan stel deur op ‘n sperstreep teen ‘n blinde hoogte ‘n ander voertuig verby steek.

Ek kies of ek vieslike, pornografiese video’s wat ‘toevallig’ op my rekenaar of foon beland, gaan oopmaak en kyk en dis ook mý keuse om dit uit te vee voor ek dit nog oopgemaak het. Verder kies ek of ek net so siek gaan wees soos die persoon wat dit in die eerste plek vir my gestuur het en dit gaan aanstuur vir die volgende persoon.

Ek kies of ek my taal gaan koester en of ek dit met allerhande anderstalige woorde, anglisismes en vuil taal gaan besoedel. Ek kies ook of ek as ‘n vuilbek bekend wil staan al dan nie.

Dis my keuse hoe ek my tyd en geld spandeer. Gaan ek mooi werk daarmee, of gaan ek roekeloos daarmee werk, onnodig skuld maak, dit spandeer op dinge wat ek nie regtig kan bekostig nie en wanneer die nood druk, ander in die oë kyk en op hulle gevoel speel om my te help.

Netso kies ek om na my gesondheid om te sien, oefening te kry soos nodig en om my liggaam op te pas. Ek kies of ek die dokter se raad gaan volg of eerder my eie kop en goed waarvoor ek allergies is, gaan inneem.

Ek kies of ek Jesus gaan volg of nie.

Die Toortsie het self ‘n paar keusetjies om nog te maak.

Groetnis

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Nie meer ‘n slaaf van vrees nie. 

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap