Toortsie se voelgoedstorie 23 – Die groenteboer van Suurbraak

Soos dit verskyn het op Finesse se Voelgoedblogs ‘n jaar of meer gelede.

Die groenteboer van Suurbraak

Elke keer as ek deur Suurbraak ry, dink ek aan my skoonpa.

Hy was ‘n groenteboer en het, behalwe die groente wat hy verbou het, ook verskeie vrugtebome gehad. Selfs nadat hy afgetree het en in die dorpshuis op De Rust gaan bly het, het hy aangehou om groente te plant en het hy ‘n groot verskeidenheid vrugtebome gehad. Behalwe die pampoene en aartappels en uie en wat ook nog, kon ons perskes, avokado’s, nartjies, lemoene en vele ander vrugte direk van hul bome af pluk en eet. Hulle was so te sê selfversorgend en het die minimum goed in ‘n winkel gekoop. Die hele erf was uitgelê met sementslootjies wat sy waterbeurt vergemaklik het.

‘n Mooi groentetuin het nie sommer ongemerk by skoonpa verby gegaan nie en een spesifieke tuin in Suurbraak het gou sy aandag getrek. Kort voor lank het hy by die groenteboer gestop en heerlik groentetuin gesels. Hy kon by hierdie man patatranke koop en ek glo dat skoonpa hom weer met ander groentesaad sou help. Hulle het mekaar se taal verstaan en lank nadat my skoonouers op Bredasdorp afgetree het, het skoonpa, wanneer hulle aartappels nodig gehad het, dit by sy groenteboervriend op Suurbraak gaan koop.

Toe ons die dag ná skoonpa se begrafnis deur Suurbraak ry, staan die groenteboer toe sowaar in sy groentetuin en kon ons vir hom ‘n begrafnisbriefie in sy hand gee. “O, is hy dood?”

Die Suurbraak-ryloper wat ons nou die dag oplaai vertel vir dat daar ‘n hele klomp denominasies van kerke is, dis VGK, Ou Apostels, AGS, nog ‘n hele paar kerke waarvan ek nie die name ken nie. Daar is ook ‘n paar Moslems, dis regte Moslems, mevrou. En ja mevrou, daardie oom, die groenteboer, is al ‘n hele paar jaar oorlede. Sy kinders woon nou daar in sy huis.

In hierdie bloginskrywing bring ek eer aan my skoonpa wat ons so mildelik geseën het met die groente wat hyself geplant het, maar ook aan die groenteboer van Suurbraak wat vir hom oor grense heen ‘n vriend was.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Stel jou voor!

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Radio Tygerberg resensie

 

Ek het laat slaplê!

‘n Mens vergeet so gou! Ek het al vergeet hoe verskriklik geëerd ek gevoel het toe Gerda my destyds genader het om vir Finesse se Goedvoelblog te skryf. Dit was soos tjoklits vir my siel!

Ek het geskryf en geskryf en gevoel of ek vlieg! Toe daar sowaar een van my bloginskrywings in die regte tydskrif gepubliseer is, kon jy met my toor.

Toe kom 2017. Die uitdaging was steeds om elke week te skryf, al het dit dol gegaan. Ek het getrek en gependel en my agterstallige werk probeer inhaal en geskryf en kos gemaak vir die nuwe Toortsie en iewers het ek Finesse se goedvoelblogs verloor. Iewers het ek inspirasie verloor tussen al die geskarrel deur.

Tot ek en Annabelle gesels so deur die wifi en Finesse ter sprake kom. Ek gee my flou verskoninkies en sy noem terloops die fantastiese blootstelling wat ons by Finesse kry en ek besef: Toortsie! Jy is simpel as jy so iets deur jou vingers laat glip! Hoe dom kan jy nou regtig wees!

So, dames en here, ek het my sokkies opgetrek. Daar lê sommer drie bloginskrywings in die boksie, reg om gepubliseer te word, ewe met die prentjies en al. Julle besef nie hoe ek altyd soek vir die regte foto nie, dit maak my sommer moedeloos.

Dankie, Annabelle, jy is ‘n inspirasie. Dankie Gerda, jy het my die eerste vlerke gegee.

Groetnis

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Gryp die bul by die horings

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap