Afhandel’mode’

Ek is in afhandel ‘mode‘. Ag, ek is te gejaagd om nou te dink wat die Afrikaans vir ‘mode’ is. Want ek is besig om my jaar af te handel. Alles moet hierdie week klaar kom.

Scrapy daag ons uit om oor ons omgewing te skryf. Afhangende van waar ek is, het ek verskillende omgewings om oor te skryf. Dus het ek gedink om oor my onmiddellike omgewing in hierdie week te skryf.

Soos reeds gesê, is ek besig om goed af te handel, want as alles goed gaan, is hierdie week my laaste week van administratiewe werk doen vir hierdie jaar. Alles moet klaar kom.

Maar, tipies hierdie tyd van die jaar, is dit mos ook partytjietyd en het ons Dinsdagaand gaan uiteet om my broer se sestigste verjaarsdag te vier. Sy eintlike partytjie lê nog voor. Ek kry ook kuiergaste die naweek, so môre moet ek nog gou-gou die laaste kamer regkry.

Dan alles by die huis klaarkry, my hare laat knip, sodat ons hopelik een of ander tyd see toe kan gaan. Alles afhandel.

Want volgende week kom my kleinkinders DV by my kuier. En dan wil ek niks anders doen as om al my aandag aan hulle te gee nie. 🙂 Ek is so opgewonde, my kop werk sommer oortyd.

Sommer so met die klaarkry en die absolute fokus om dinge gedoen te kry, wil ek sommer skryf oor aandagafleibaarheid. Ek het aandagafleibaarheid en is so uiters dankbaar dat dit nie gediagnoseer was toe ek op skool was nie. Ja, dit het beslis my prestasie beïnvloed, maar ek het tog deur skool gekom, al was dit soms moeilik om te leer.

Hierdie baie insiggewende artikel het baie dinge vir my verklaar. Hierdie persoon het met ADHD mense self gewerk en tot interessante dinge ontdek, party van die goed wat ek as volwassene in myself al ontdek het.

Eerstens, dat die ADHD brein (regs) totaal anders lyk en funksioneer as die ‘normale’ brein (links). Dit mag vir baie mense ‘n verskrikking wees, maar die waarheid is dat dit glad nie so hoef te wees nie. Die ADHD persoon hanteer sy emosies en aandag en fokus net heeltemal anders as die persoon wat dit nie het nie.

Die waarheid is dat AANDAGAFLEIBAARHEID ‘n FOUTIEWE TERM is. Daar is soveel positiewe dinge aan die sogenaamde ‘aandagafleibaarheid’, dat, vir hulle wat dit het, dit nie regtig ‘n probleem is as dit reg hanteer word nie. ADHD is NIE ‘n beskadigde of defektiewe senuweesisteem nie.

Volgens hierdie artikel het die meeste ADHD-persone ‘n baie hoë IK, selfs al presteer hulle nie so goed op skool nie. ADHD volwassenes is ook nie noodwendig sigbaar hiperaktief nie, terwyl hulle intern, binne hulle lyf, hiperaktief is.

Dis ook nie dat hulle nie kan aandag gee nie. Die probleem is dat hulle té veel aandag gee aan alles. Terselfdertyd gaan daar in ‘n ADHD-kop gewoonlik vier of vyf dinge aan. Terwyl hy besig is om op hierdie ding te fokus, vra ‘n klomp ander goed ook sy aandag.

Wanneer hulle egter onder druk is, fokus hulle uitsonderlik en kry take geweldig vinnig en goed gedoen. Ongelukkig is daardie fokus nie ‘n knoppie wat jy kan druk nie en weet jy nooit wanneer die fokus jou sal verlaat nie.

Om in fokus te kom, help as die persoon hou van wat hy doen en daarin geïnteresseerd is. Die belangstelling hou egter nooit vir baie lank nie. Iemand anders kan hom nie in ‘n fokusfase in druk of oortuig nie. Die ADHD persoon werk die beste wanneer hy besef dat daar nou nie meer uitsteltyd is nie. ADHD mense is meesteruitstellers, tot groot frustrasie van die mense om hulle.

ADHD-persone kry swaar in ‘n gewone skoolsisteem. Hulle vertoon ook ongeorganiseerd. ADHD mense voel ook maklik minderwaardig, nie goed genoeg nie, juis omdat hulle so anders funksioneer.

Wanneer ‘n ADHD-persoon ja sê vir ‘n taak, weet hulle dat hulle dit kan doen.

Ek is dankbaar dat my omstandighede, my onmiddellike omgewing, my gesinsopset my toelaat om my eie ding op my eie tyd te doen, self te kan besluit wat ek wanneer doen en dat ek juis deur dit te doen, baie uitgerig kry. Sonder dat my gesin besef het dat ek ADHD is, het hulle die vaardigheid ontwikkel om my te help fokus. Soms moet iemand vir my sê, kom ons doen gou eers dit of dat, of dat die tyd uitloop. Vir my hou my ADHD geen bedreiging nie en ek dink my gesin leef heel gemaklik daarmee saam.

Toortsie

‘Afhandel’ vir ‘n aandagafleibare

Ahgehandel. Vir jare al is die woord, afgehandel, vir my die heel mooiste woord in Afrikaans. Ek kry baie keer verbaasde kyke as ek dit sê, maar vir my is daar nie ‘n mooier woord as dit nie.

Ek is ‘n ongediagnoseerde aandagafleibare. Op skool was ek nie die tipiese rondspringkind tydens klas-ure nie, omdat ek ook baie gehoorsaam was. Ek het stilgesit in die klas omdat dit van my verwag was. Tog het ek nie naastenby presteer soos ek moes nie.

Dis eers in my latere jare dat ek besef het, ek is wel aandagafleibaar en dis die wonderlikste ding dat niemand dit geweet het en ‘n etiket om my gehang het nie. Tog is dit lekker om te weet en daardeur myself beter te verstaan.

Aandagafleibaarheid kan moeilik wees vir die persoon wat dit het, maar ook vir dié rondom hulle. As dit egter ‘reg’ hanteer word, kan dit net ‘n plesier wees. Hoé die ‘reg hanteer’ is, weet ek nie! Lees bietjie hierdie artikel wat mense skryf waarvan hulle hou in hulle aandagafleibare kinders. Ek het geleer om vir mense te sê, wanneer hulle gespanne raak oor my gefroetel, om dit net te ignoreer. Ignoreer die bolletjie wol wat op die grond val en die rondspring om almal te bedien. Gaan net normaal aan, want anders raak ek gespanne en DAN raak dit ERG! Ek het al gesien hoe my dogter saggies vir ‘n vriendin sê, ‘moenie worrie nie, my ma froetel maar so, ignoreer dit maar net, dis okay’. Sies tog!

Afgehandel. Weet julle hoe ‘n oorwinning is dit vir ‘n aandagafleibare om iets af te handel? Verstaan julle die inspanning in hulle hele wese?

Die ding is, soos hierdie artikel sê, dat jy eers iets effektiefs kan doen wanneer jy in jou eie hart die waarde en dringendheid daarvan besef. ‘n Nuwe ding wat jou aandag gryp, word gedoen totdat die volgende verskriklike interessante ding verby kom. Op die ou end sit jy met hope nuwe interessante goed wat almal gedoen moet word, so, watter een doen jy en op die ou end sit jy met 20 halwe goed! Die oomblik wat ek in my hart vra: ‘Hoekom doen ek dit? en nie ‘n aanvaarbare antwoord kry nie, is dit verby. Daar moet ‘n goeie rede wees, anders kan ek mos my tyd en aandag iewers anders spandeer!

Daarom verg dit inspanning en konsentrasie om met iets sover te kom dat hy afgehandel is.

So, dames en here, wanneer ek die oomblik daardie nuwe boek in my hande hou, o, genade, dit moet nou gebeur en klaarkry, weet, die oorwinning is groot. Nie oor die boek of die inhoud of die werk daaraan nie, maar oor die ‘afhandel’ daarvan. Om dit reg te kry, moes hierdie aandagafleibare baie leisels op haarself intrek, totaal teen haar geaardheid in. Die uitdaging is: ‘Kan ek dit regkry? Kan ek dit klaarmaak?’ En die dringendheid nou? Daar het al mense betaal daarvoor! Ek Mag hulle nie teleurstel nie!

Afgehandel. Mooi woord, né? ‘n Woord wat inspanning verg om dit reg te kry. ‘n woord wat oorwinning verteenwoordig.

My raad aan ouers met aandagafleibare kinders? O, ek weet julle het hare op julle tande nodig en voel soms om hulle hare te trek, maar geniet hulle uniekheid so tussendeur. Moedig hulle aan met: ‘Ek weet dis nie nou lekker om dit te doen nie en dat jy eintlik iets anders wil doen, maar jy gaan só bly wees as jy klaar is.’ Hulle is eintlik baie spesiaal, het julle geweet? Hulle sal altyd sorg vir ‘n verrassing of twee. Geniet dit!

Groetnis

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Die Aus-car wisseltrofee

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

Ek is aandagafleibaar….

Nooit so “gediagnoseer” nie, maar oeeee, soos ek ouer raak, raak dit al hoe erger. Vandag kan ek nie op die rekenaar sit en tyd mors nie, ek het verskriklik baie werk wat ek moet doen. My adminwerk hoop op en ek kry kuiergaste die naweek. Daar is ‘n paar voorbereidings wat ek wil tref, 2 stolslaaie maak, koek bak. Gelukkig het ek al gister beskuit gebak.

Ek lê nog in my bed en dink wat gedoen moet word toe die voordeurklokkie lui. Dis een van die werkers wat vra of hy die dag kan afkry. Nee, jy moenie dit vir my vra nie, maar vir meneer. Stap by die kantoor verby en loer gou op my blog en fb. O, ek moet klaar maak, die tyd loop aan. Loer gou by af.wordpress en lees een of 2 blogs, net gou weer op fb loer. Ek is honger. Stap kombuis toe en skep vir my muesli en joghurt in. Hap een hap. O gits! Ek moes al lankal vir die ouetehuis gebel het oor die vleis wat ons moet bring en vir die buurvrou oor die bybelstudie volgende week. Number does not exist. Intussen loer ek op fb. Eet my pap klaar. Pak skottelgoedmasjien uit en maak kombuis netjies. Gee die hond kos. Haal die vleis uit vir vanaand en die maalvleis vir môre se lasagne. Gooi wasgoed in die masjien. Gaan kamer toe om my bed op te maak. Begin om my naels te knip, een skerp nael sny my, so ek moet ‘n pleister gaan haal. Was eers my gesig. Ek wonder of ek nog die wit romp het wat ek een keer losgetorring het om kleiner te maak. Gaan kyk en kom op ander lappe af. Ek kan nie nou lappe kyk nie! Terug badkamer toe om room aan my gesig te smeer. Borsel en flos tande. Ek is dors. Drink ‘n glas water. Haal my pille uit. O ja! Ek was mos besig om my naels te knip. Knip naels klaar. Drink pille klaar. Maak bed op. Neem vuil wasgoed waskamer toe. O, die masjien is klaar. Stap terug kamer toe om skoene te gaan aantrek. Kom by die masjien. Ai tog! Het dit nooit aangesit nie! En hier sit ek nou VIR DIE LAASTE KEER VIR VANDAG!!! 9:24

Toorts, het jy gehoor? Vir die laaste keer vandag!!!

Toorts

Ns, iewers het ek nog vir ‘n dun dubbelbed duvet ook gesoek, kan net nie onthou waar dit in die program inpas nie!1

BAAI!!!