Die barista

Die hele familie kuier heerlik saam en ouma en die kleingoed ry die hele dorpie se strate plat – dis nou, waar die wind ons toelaat, want as ons enigsins te na aan die see kom wil die wind ons omwaai. Ouma op die driewiel, kleingoed op hulle fietse. En as ons gelukkig is, ry oupa ook saam. Ons ry mooi aan die linkerkant van die straat, het ons valhelms op, mooi agter mekaar sodat die karre kan verbykom.

Aanvanklik het ouma ‘n paar lysies opgestel – ‘n hondebollielys en skottelgoedlys, maar dinge het hulleself sommer uitgesorteer. Een sorg vir die hondeslagysters, ‘n ander een sorg vir die skottelgoed, ouma se klein meisiekind kyk dat daar altyd genoeg toiletpapier en seep is … en dan het ons ons eie BARISTA!

Man, dis ‘n lekker besigheid. Kleinseun het hierdie baie belangrike werk gekry en hy doen dit met ‘n passie. Wil jy ‘n bietjie koffie hê? Of tee? Sit net jou bestelling in! Hoe hou jy van jou koffie? Met suiker? Sonder suiker? Min melk? Baie? Of dalk met ‘n bietjie heuning? En as jy eers een keer jou voorkeur gegee het, hoef jy dit nie elke keer te herhaal nie, dit word sommer onthou.

Die barista neem die werk ernstig op. Die laaste woorde voor hy gaan slaap, is om net vir oulaas almal se bestellings vir môre-oggend opstaantyd te memoriseer. En as hy wakker word in die oggend, is dit die heel eerste wat hy doen, sonder om herinner te word. Jy mag ook jou bestelling lank voor die tyd ingee, soos ‘n koppie tee vir vanaand na ete, asb. Of slaaptyd asb.

Intussen smee ons die yster terwyl hy warm is, ry ons die golf solank hy daar is en geniet ons die vreugde en passie waarmee hy dit doen.

Toortsie

21 thoughts on “Die barista

Gesels saam, asseblief!