Nog baie te leer

‘n Lieflike, jong vrou vir wie ek baie lief is en wat op haar jong ouderdom al soveel wysheid besit, want wysheid kom deur die Here te dien en dit is presies wat sy baie graag doen, sy dien die Here, sê dat sy nog so baie te leer het in die lewe. En my antwoord? O, ek ook!

Hoe sê hulle? Hoe meer jy leer hoe minder weet jy en hoe meer moet jy leer! En dis baie waar. Hier op ‘n stadium in my lewe het ek gedink dat ek al die kennis en pag het, net om elke dag meer en meer te besef hoe min ek regtig weet!

My ma het altyd vertel van die stadums waarin die kinders is. Deesdae praat hulle van fases. Baba, peuter, kleuter, grondslagfase in die laerskool, ouer laerskoolkinders (standerd vyfs!%%), begin tienerjare, volwaardige tieners … dan is daar puberteit en watter tye ookal. En net sodra jy gewoond is aan die fase waarin hulle is, is hulle in ‘n nuwe fase. Of die kinders dit soveel besef, betwyfel ek, dis meer die mense wat met hulle werk wat dit besef.

Maar die harde waarheid is dat daardie fases nooit opraak nie. Dis die storm-en-drangjare, jou jongdae wat jy alles beproef, verliefweesjare, troustadium, kinders kry, kinders grootmaak, deur werke worstel en net wanneer jy dink dat jy nou darem op ‘n lekker plek in jou lewe is, tref ‘n nuwe stadium jou. Kom die brille en die pille en die skete wat daarmee saamkom. Begin jou liggaam stukkie vir stukkie afskakel. Werk die ou rug nie meer soos hy moet nie. Verander jou bysiendheid in versiendheid en moet jy die boek al hoe verder en skewer hou om te sien, moet jou gewone brilletjie skielik verander na ‘n multifokaal. Begin jy afskaal met die idilliese hoop om af te tree en dalk ‘heeldag niks te doen nie’, tot die realiteit jou tref: HEELDAG NIKS DOEN NIE? HOE OP AARDE GAAN EK DIT MAAK? Is jy en jou man skielik meer op mekaar aangewese as voorheen en moet jy van voor af leer. Raak jou kinders groot en selfstandig en moet jy ook dít leer hanteer.

Ja nee wat, in hierdie lewe van ons is daar nooit ‘n vervelige oomblik nie en asseblief, ek wil nie vervelige oomblikke hê nie! Wat gaan julle dán met my maak? Maar leer sal ek leer aan hierdie lewe of ek nou wil of nie, tot ek die dag my koppie neerlê en dan gaan ek seker die minste van altyd weet. 🙂

Toortsie

14 thoughts on “Nog baie te leer

Gesels saam, asseblief!