Wat sal dit wees? – Jeugverhaal

Petrus is baie bekommerd. Een of ander juffrou het die idee gekry om vir die kinders elkeen ’n spesiale naam te gee. Dis kamtig veronderstel om een of ander goeie karaktereienskap van die kind te weerspieël, maar eintlik dink Petrus dat dit ’n simpel idee is. Dit klink ook vir hom maar baie aperig, want dit is presies wat die Goue Vroue blykbaar gedoen het – Juffrou is glo ’n Goue Vrou. Die Goue Vroue moes elkeen die stukkie goud in ’n ander Goue Vrou raaksien. Nou het die juffrouens hulle uitgedaag om uit te kyk vir stukkies goud in mekaar en dit dan stilletjies vir die juffrouens te gaan sê. 

Petrus loop nou al vir dae en dink, maar kan aan niks dink wat hulle hóm sal noem nie. Ja, hy weet dat hy verondersel is om eintlik die goud in die ánder kinders te soek, maar hy weet ook dat álmal op die ou end spesiale naampies sal hê, net hy nie. Want hy het niks gouds in hom nie. Hy is net ’n eenvoudige ou seun, regtig alledaags. Daar is net mooi níks in hom wat spesiaal is nie. 

Kyk nou vir Susan, sy is ’n regte sonstraal en álmal hou van haar. Hy sal dit nou nooit wil erken nie, maar hy hou óók van haar. Genade, as iemand dít moet uitvind, slaan hy net daar dood neer, want hulle sal hom weer in die afgrond in spot.  

Kosie kon ’n soutpilaar wees, want hy staan altyd daar eenkant, maar juffrou het uitdruklik gesê dat hulle na positiewe dinge moet kyk en geen negatiewe name mag noem nie. Hy sal maar eerder stilbly, want juffrou sal nie daarvan hou nie.

Watter woord sal ’n mens vir iemand met ’n hart van goud noem? Gouehartjie? Nee, dit klink darem te vreemd. Of net Hartjie? Wilma is so-iemand, maar hy kan nie nou aan die regte benaming dink nie. Sy is regtig almal se maat en wil altyd almal help. Sy sal sommer haar toebroodjies vir Gaffie gee as hy nie die dag kos het nie, iets wat nogal baie gebeur. 

Hy wonder of hulle vir Sterretjie ’n ander naam sal gee? Karlien met haar skitterblou ogies? Sy het dan klaar haar naam?

Ag, en ou Willie is wilder as die Wildekus – hy het al gehoor dat sy ma ook so sê, maar gits, is dit nou mooi of is dit lelik om so iets te sê as hulle vir Willie van nou af Wildekus noem? Hy weet darem nie, dalk moet hy dit nie noem nie. 

Vir Stefan met sy baie grappies kan hulle Grapjas noem. Of Kaartman. Ja, hy is ’n regte kaartman, dit kan dalk werk. Carolien kan Bytjie wees, so besig soos wat sy altyd is en vir Leonie kan hulle sommer Musieknoot noem. René is ’n regte skoenlapper, dan hiermee besig, dan daarmee en Sarel is ’n helikopter, jy hoor hom voor jy hom sien!

Maar hy? Wat sal hulle hom noem? Daar is net mooi níks wat by hom pas nie!

Die oggend toe hulle in die klas instap, sê Juffrou dat hulle almal saal toe moet gaan. Dit is die groot dag waarop elkeen húlle spesiale stukkies goud sal kry. Want almal het ’n stukkie goud in hom. Hulle roep die een kind na die ander verhoog toe. Hy sukkel om te konsentreer, so gespanne is hy. Vreemd, sy hande is papnat van die spanning. 

Skielik roep juffrou sy naam uit. Hy moet na die verhoog kom. Juffrou sê hy is ’n steunpilaar. Genade! STEUNPILAAR! Wie wil ’n steunpilaar wees? Dit is amper soos ’n soutpilaar! Nee, regtig? Dan verduidelik Juffrou dat dit eintlik ’n vreeslike mooi naam is. Want hy wat Petrus is, is soos ’n pilaar waarteen mense kan leun as hulle moeg voel en net ’n bietjie kan rus. Dat almal weet dat hy ’n stewige pilaar is wat nie sommer net gaan omval as iemand teen hom druk nie. Dat hy altyd daar is om sy maats regop te hou wat moedeloos voel. En sy, Juffrou, is só bly dat hulle so iemand in hulle skool het. Iemand wat hulle kan vertrou.

Raai, en skielik klink ‘steunpilaar’ nie meer so sleg nie. 

(Soos vir die Ink Metaforiese Projek – Desember)

13 thoughts on “Wat sal dit wees? – Jeugverhaal

  1. Baie dankie hiervoor, Toortsie. Dit het my sooooo bemoedig. Ek is ook een van die gewones. En dit inspireer om die beste in elke mens om ons raak te sien en die Liewe Heer daarvoor te dank.
    Ek hoop jy skryf ‘n hele bundel van sulke stories. Ek sal dit baie graag wil lees.
    Ek gee jou die naam STER, want jou liggie skyn helder en mooi en blink.

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s