Wat is daar nou eintlik om te verloor?

Hier is drie stories, eintlik vyf wat ek wil vertel.

  1. Die VLV het elke jaar ‘n skryfuitdaging vir die konferensie. Verlede jaar was die uitdaging: Skryf ‘n ballade. Ek hou nie van gedigte skryf nie. Ook nie eintlik daarvan om gedigte te lees nie. Tog, die hedendaagse gedigte geniet ek nogal. Dalk was ek as kind net eenvoudig te dom om dit te verstaan en nog meer dom om dit te skryf. Nou ja, ons hét mos soms ‘n gedig ook geskryf in die opstelklas. Of het ons nou nie? Maar wat is daar om te verloor? Danksy blogging het ek mos al lankal my skaamte vir skryf verloor, ek het reeds my naam al soveel keer met ‘n plank geslaan, hoekom nie inskryf nie? Ek skryf ‘n donker, donker ballade, om die waarheid te sê, ek skaam my eintlik oor dit. Donker, hoor. Donker. Willemien. Kom tweede in die Overberg.
  2. In Desember 2018 daag Scrapydo ons uit om limerieke te skryf. Ek dink dit was deel van ‘n klomp dig-uitdagings wat sy gegee het. Weer eens het ek nie eers regtig daarná gekyk nie om dieselfde rede wat ek reeds by nr 1 genoem het. Maar ‘n ander blogger skryf ‘n limeriek en ek is laf genoeg en skryf ook een. En nog een en en en … Soveel so dat ons op ons gesinsgroep toe ook begin limerieke skryf vir die lawwigheid daarvan.
  3. In 2019 skryf ek by Udemy in vir ‘n kortverhaalkursus en ek moet nou met ‘n rooi gesig erken dat ek dit nog nooit voltooi het nie. In daardie tyd waag ek my hand aan ‘n kortverhaal wat ek net daar op die rekenaar los en so met tyd ‘n bietjie daaraan karring.
  4. 10 Junie vanjaar moedig Woordnoot ons aan om in te skryf vir die Ink-kompetisie vir digters, skrywers en skoliere. Wel, ek kwalifiseer nie by een van hierdie groepe nie, maar wat is daar nou eintlik om te verloor? Net my naam, en regtig, op hierdie ouderdom is dit maar reg as ek dit verloor. Wie weet tog in elk geval dat ek inskryf? Ek stuur die ballade (Willemien) in en die vriendelike dame aan die ander kant moedig my aan om nóg in te skryf. Ek druk oë toe en skryf die kortverhaal (Tweede Kanse) ook in en toe raak ek heeltemal wit. Waaghalsig. Amper voorbarig, as jy my vra. Ek stuur toe sommer vier van daardie limerieke (Lekker lawwe limerieke) ook in as een geheel.
  5. Vandag kry ek hierdie e-pos:

Beste Madelé Burger
Ons is baie opgewonde om jou mee te deel dat die volgende gedigte en kortverhaal vir publikasie in INK SKRYF IN AFRIKAANS se bloemlesing INKSPRAAK2 opgeneem sal word: 1) Willemien 2) Lekker lawwe limerieke 3)Tweede kanse Baie geluk met die prestasie!
Dankie dat jy aan Ink skryf in Afrikaans se 2021-poësiekompetisie deelgeneem het. Ons het altesaam 1560 inskrywings van 344 digters en skrywers ontvang, en 616 gedigte en 136 kortverhale word in die 2 bloemlesings opgeneem.

Wel, wel, wel. Ek slaan net my hande saam in ‘wat sal dit wees’? Ongeloof? Verbasing? Want dít het ek regtig nie verwag nie. Rêrig êrig nie. Ek kan net aan my Here die eer gee.

Toortsie

34 thoughts on “Wat is daar nou eintlik om te verloor?

            1. Dis presies hoe ek ook gevoel het. Genade, dis die enigste gediggies en kortverhaal wat ek in my lewe geskryf het! Tog sê die organiseerder vir my dat die kompetisie regtig kwaai was. Ek voel regtig bevoorreg.

              Like

        1. Dit wys jou net: ‘n mens weet nie wat die klein, soms onbenulligheidjies wat jy vandag doen, nog gaan oplewer nie. Ek onthou daai dag nog so goed. My kop het oortyd gewerk met die een lawwe limeriek ná die ander. Daai dag het God al geweet van hierdie kompetisie … en hoef ek nou nie iets uit te gedink het nie, want dit sou geforseerd wees.

          Like

          1. Vandag het juis ook weer iets gebeur wat aangedui het dat daar ‘n doel is en dat alles reeds uitgelê is. Gaan juis nou n stuk opplak wat vandag gebeur het. Alta Cloete het n stuk oor depressie gesit op Goodread wat ek op af gekom het en gelees het. Dit het gemaak dat ek my stuk geskryf het want dit moet gedoen word.

            Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!