Tipies Toortsie

Môre julle. Ek het goeie nuus, amper goeie nuus en ha, regte Toortsienuus. Ek kon darem nie glo dat my kompetisie-artikels vir die VLV regtig só vlot verloop nie! Ek is in die pylvak en daar is nog genoeg tyd … Toortsie se besigheid werk nie eintlik so nie. Toortsie het gewoonlik haarself én almal om haar op hol. Almal se senuwees kláár teen die tyd wanneer ‘n ding klaar moet wees. Maar nie hierdie jaar nie. O nee, vreeslik ‘boring’, alles in tyd in plek. Betyds. Sy moet nog net die borduurwerk se soom omwerk, dit is seker so ‘n week se werk. Daar is selfs tyd om nog die hekelwerk te doen, en as sy gelukkig is, die denimbaadjie. Verveeeeeelig, sê ek jou. Toortsie raak nou ‘n regte VLV-tannie, haar goetertjies is georganiseer en reg gedoen.

Nè?

Jy dink so?

Regtig?

Dink jy regtig so?

Dink jy maar lekker.

Jy weet, as iets te goed is om waar te wees …

Kombersie in sakkie. Dalk effens hardhandig hanteer, maar wel in sakkie.
Nuwe dialoog geskryf. En oue, vir as jy wonder. Dit moet nog bietjie rus en skawe, maar as die nood regtig druk is dit eintlik heel reg vir die sakkie. Net vir inlewer.
Borduurwerk? Soos reeds gesê, in die pylvak. Nog net die rant se laaste ry borduurwerk klaarmaak en die soom. Seker so ‘n week se werk, maar kom ons sê twee weke. Op die meeste.

Wel …

Haal diepppp asem …

Ek is tans besig om die hele rand uit te trek. Terloops, net vir as jy wonder, ek het al in Desember met die rand begin. Daar is EEN blokkie te min en die een hele kant moet skuif. Die harde waarheid is dat ek dit heeltyd geweet het en eintlik betyds kon regmaak, maar ek hou nie van ‘n uittrekkery by borduurwerk nie. Ek het gedink dat dit sal reg werk. Toe het ek per ongeluk op twee plekkies in my tweede randjie drie drade raakgesteek ipv 2, nou werk dit glad nie uit nie en die derde patroon moes ook geknoei word.
Dit werk nie reg nie. So maklik soos dit. Dit werk nie reg nie.
Die hoeke werk nie reg nie en die beoordelaars gaan nie daarvan hou nie. Want in borduurwerk moet die hoeke perfek wees.
My Frans knope by die goetertjies is ook nie reg nie.

So nou is dit regte Toortsiestyl vir die volgende 17 dae. Volproduksie. Volle kapasiteit. Dag en nag. Ag hoe lekker. 😂 Die uittrek vat amper so lank as die werk, net terloops.
Ek twyfel baie sterk oor ‘n blommetjiehekelry en beslis oor ‘n deminbaadjie. Dalk word daardie lap eerder ‘n moulose omkeerbare baadjie vir 2021.

Wat kan julle van Toortsie verwag in die volgende drie weke? Dat julle haar noooooit gaan sien of hoor nie, want al wat sy doen, is borduur?

Mag dit maar so wees.

Want sien, van nou af werk haar kop oortyd. Die borduurwerk sal op die laaste minuut klaar wees. Jou nerwe gaan deurgeskuur wees. Die kans is goed dat sy in hierdie kritieke sewentien dae die meeste blogs ooit skryf, soos wat hier alreeds aan die gang is. Haar kinderstories op potgooi sit? Nooit! Daar is nie tyd nie! Of is daar? Julle kan selfs ‘n paar nuwe resepte verwag en dat sy tonne kilogramme uie en ander goed gaan inlê. Dalk sommer die hele vrieskas vol gaar vleis maak of iets. Beslis Bredasdorp se berg ‘n paar keer letterlik én figuurlik oor, stappende, kletsende. Jy mag dalk 710 nuwe inskrywings op haar Faceboekmuur en -blaaie sien.

En wat het jy van die hekelwerk en die denimbaadjie gesê? Sê eerder maar niks en hou duime vas dat sy nèt borduur die volgende sewentien dae. Niks anders nie, hoor jy, Toortsie. Niksie nie.

So as julle my nie op die blogs gewaar nie en ek nie by bloglees en skryf uitkom nie, dit gaan okay met my, hoor. Hoop dit sal met jou ook goed gaan.

Baai!

Tot Maart.

Ja, MAART!

Toortsie

Ag ja, hoop dis nie net beloftes nie …

25 thoughts on “Tipies Toortsie

    1. Dankie Trommeltjies. Darem al 5/6 uitgetrek, dan is die gala weer aan. Ek sal net moet fokus en GLAD NIE aandagafleibaar wees en toegee aan al die ekstra planne wat vorendag kom nie. 🙈

      Like

Gesels saam, asseblief!