Hoekom aanhou?

Hoekom aanhou met my boekvoorlesings? Hoekom dit enigsins doen?

Wel, ek het dit begin doen, sommer as bekendstelling daarvan. Om die waarheid te sê weet ek nie of ek ‘n grap van myself maak nie, maar eintlik gee ek nie om nie. Ek geniet dit nogals om elke oggend my stukkie te lees, dit op te neem en op SoundCloud te sit. Vir wat dit werd is. Sommige dae luister drie persone, ander dae meer as twintig.

Gelukkig maak dit nie regtig vir my saak hoeveel mense luister nie. Ja, dit ís lekker as mense luister, net soos dit lekker is as mense jou blog lees. Hoe lank ek sal aanhou daarmee, sal ek ook maar nog sien.

Soms sit ek dit by my eie Facebook op, maar ek wil ook nie die mense verpes nie. Die dae wat ek dit opsit, lees daar beslis meer mense.

Hoekom aanhou daarmee?

Soos ek gesê het, geniet ek dit, maar hier en daar kry ek uit die bloute reaksie.

Soos:

Dit breek ander mense se herinneringe oop en hulle vertel daarvan vir my via whattsapp.

‘n Vriendin skryf vir my: “Hoe heerlik. Ek het vandag vir die eerste keer tyd gehad om jou voorlesings te luister. Wow. Ongelooflike nalatenskap vir kinders en kleinkinders in boekvorm en ouma se stem.” (Die res is persoonlik.)

‘n Ander persoon stuur my hierdie: “Ek het vanoggend ‘n stukkie van jou voorlesing geluister. Ek hou van jou vertellings. Ek sal dit so stuk vir stuk luister, want ek koop nie meer boeke nie.” Ek voel gemaklik hiermee.

Die hoogtepunt was toe ‘n graad 1 seuntjie vir my uit die bloute vra: “Tannie, wie was die spook in julle huis?, na aanleiding van een van my voorlesings. As ek dit net vir hom kan doen en hy geniet dit, is dit die moeite werd.

Dit laat my dink aan Annelie Botes wat vertel het van ‘n boek van haar wat op die radio voorgelees is. Haar tuinman het haar iets na aanleiding daarvan gevra. Kort daarna sou die boekvoorlesings op die radio stop as gevolg van die koste daaraan. Sy het ‘n boek geskenk wat hulle kon voorlees. Vir mense wat dalk nooit die voorreg sal hê om so ‘n boek self te lees nie.

So, liewe kind, vir JOU sal tannie aanhou om dit voor te lees.

Mooi loop

Toortsie

Hier is vandag se storie.

19 thoughts on “Hoekom aanhou?

  1. Rika Sennett het wyle Elsa Joubert se “Spertyd” voorgelees en ‘n nuwe wereld het vir my oopgegaan in ‘n tyd dat ek vier beroertes in tien maande gehad het en vir lank gladnie kon lees nie. Jy is noodsaaklik vir ander, moet nooit vergeet nie.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!