En wie is die held?

Ek loop en dink hoe ek julle gaan vertel van kleinneef en -niggie, beide ses jaar oud, die een in Graad R, die ander in Graad een, sit en musiek maak op die keyboard en die interessante gesprek, toe hoor ek die ergste onderaardse gille. Hier is minstens ‘n arm en ‘n been af. Dalk nog ‘n rib of twee ook! Dis iets allervreesliks!

Kleinseun, 8 jaar oud, kom gillend van buite af. Sus en kleinneef, besig om wortels in die groentetuin te trek, sê, “hy het baie seergekry.” Ouma storm uit. Verwag die ergste. Al die bene, arms en ribbes lyk reg. Ouma sien genadiglik geen bloed nie.

Kind het in doring getrap. Ouma probeer red met ‘n naald en ‘n tweezer, maar die lyfie werk nie saam nie. Bloedstollende gille laat hoor en sien vergaan. “Bel die dokter! BEL DIE DOKTER!” “Nee, ouma gaan nie die dokter vir ‘n doring bel nie.” Intussen probeer twee sesjariges vir ouma vertel wat gebeur het en raad gee. Ouma se ore is bottoe geslaan.

Graad R nefie kom praat mooi met hom. Hy kalmeer. Drink ‘n bietjie suikerwater en ‘n Panado. Raak rustiger. Ouma raak ook rustiger. Dalk kom oupa gou genoeg terug om te kan kom help kind vashou. Dalk raak kind aan die slaap. Hy vertel dat sy maatjie dood is as gevolg van ‘n doring. Ouma belowe hom dat dit regtig nie ‘n doring was nie. Mens gaan nie dood van ‘n doring nie. Ouma vertel hom dat ouma al baaaaie dorings uitgehaal het. Wie, dink hy, het sy pappa se dorings uitgehaal toe hy nog ‘n seuntjie was?

Intussen onthou ouma hoe haar pa gemaak het: Krap met die agterkant van ‘n mes en dit haak die doring uit. Besef dat geen mes nou naby hierdie voet gaan werk nie. Ouma wys vir hom met ‘n klein skertjie wat sy wil doen en voor hy nog kan keer, krap ouma met mag en mening terwyl sy veg teen ‘n wegrukkende voet en oorverdowende gille wat die hele dorp laat skrik.

Die doring gee mee. Ag dankie tog! Ek moet sê, ek sou dalk ook gegil het. Dit was ‘n lang, diep doring. Amper so lank soos ouma se huis hoog is, as julle my vra! So dik soos ‘n ysterpaal! Ek belowe! Ek sal mos nie jok nie. Oumas jok mos nie!

O, die gesprek. Die tweetjies speel op die keyboard. Nig besluit dat dit eerder by ouma se huis moet bly dan speel hulle daarop as hulle hier kuier. Sy weet nie hoeveel slapies voor dit weer skool is nie. Groot oë kyk my ernstig aan. Sy: “Ek hou niks van skool nie.” Hy: “Ek ook nie. Skool is boring.” Ek: “Hoekom hou jy nie van skool nie?” Sy: “Want pouse is net vyftien minute.” Hy: “Meisiekinders.”

Daar het julle dit. Stilte het oor my huis gedaal. Die keyboard is weer besig, of hoor ek nou die ‘tablets’ se geluid? Ouma sit gou ‘n bietjie op die stoep in die sonnetjie, dis mos wat oumas doen, of hoe? Die Panado doen sy werk. Die Lego’s moet klaar gebou kom voor hulle moet teruggaan môre en kleinneef het besluit dat hy in elk geval sommer vannag hier gaan slaap.

Toortsie

14 thoughts on “En wie is die held?

  1. DIt is so kostelik! Oumas moet alles kan doen, van dorings uit te haal tot melktande trek; baie liefde gee; en weet hoe om kleinkinders te help om weer te lag. Vanmiddag het my oudste een my van oorsee gebel. Sodra ek haar stem hoor het ek geweet iets is verkeerd. “What’s wrong?” “Nothing, it’s just been a bad day …” Na twinting minute het sy weer lekker gelag en ons het albei gelukkiger gevoel.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s