Soveel vreugde

Kleinboeta is vier en ‘n halwe maand oud. Opvreetbaar dierbaar. Reageer as ‘n mens met hom praat. Ogies sien baie raak, gesiggie lag terug.

Maar kleinboeta was siek. Baie siek. Eers erge koors gehad en toe in die hospitaal beland vir ‘n hele vyf dae. Ons is bekommerd. Almal help bid.

Dinge werk mooi uit. Net toe kleinboeta en mamma ontslaan raak uit die hospitaal, moet pappa vir werksdoeleindes ‘n paar dae elders wees. Ouma gaan haal die baie moeë mamma en kleinboeta om ‘n paar dae by ouma te kom aansterk en te rus. Kleinboeta raak beter alhoewel ‘n lelike verkoue sy gesig kom wys. Tog raak hy meer glimlaggerig en geselserig, maar nie te erg nie. Sê ouma ietsie van pappa, is kleinboeta huilerig. Dan troos ouma en sê, nog twee slapies, nog een slapie … en wonder hoeveel kan so ‘n kindjie regtig verstaan?

Gisteraand gee kleinboeta lang gape. Hy moet eintlik al gaan slaap, maar sit nog ‘n bietjie op oupa se skoot. Toe stap pappa by die deur in … en kleinboeta se hele gesiggie helder op. Dit lag en dit kraai en gesels soos ouma die hele week nog nie gesien het nie. Soveel vreugde oor sy pappa wat by die huis is!

Toortsie

Nie my ouma nie!

Die maatjie is nie heeltemal tevrede met waarmee die tannie die klomp wil besighou nie. Dis boring.

Op ‘n stadium kan hy dit nie meer hou nie. “Tannie is boring.”

En so ‘n rukkie later kan sus dit ook nie meer hou nie. “Hoekom sê jy my ouma is boring?” kom dit kwaai uit haar mond.

Nie my ouma nie. No ways.

Toortsie

Bybel@kinders

Die tannie vertel hoe wonderlik God is. Sy vertel sommer dat haar eie kleinkinders ook hoor. Dat God op baie maniere met ons praat, maar veral ook deur die Bybel. Dat hulle mos saam met Lego’s ‘n boekie kry wat wys hoe hulle dit moet bou. En dat daar ‘n eienaarshandleiding saam met oupa se kar ook kom vir as daar fout kom.

Nou, God het die mens gemaak en die Bybel is die boek wat Hy saamgegee het sodat ons altyd kan weet wat die regte ding is om te doen. Die eienaarshandleiding. Dat Hy vir ons antwoorde op al ons vrae gee in die Bybel.

Ouma lees uit dieBybel@kinders. Ouma besef nou weer wat ‘n wonderlike weergawe van die Bybel dit is. So verstaanbaar en lekker om te lees. En die kleingoed onthou wat ouma al die hele week gelees het! En blaai sommer self ook daardeur.

Toortsie

In net 6 maande

Ek kan my altyd verkyk aan hoe mense, veral kinders, ontwikkel.

Ses maande gelede was ons met die kleinkinders op die plaas. Ouma op haar driewiel en die kleingoed elkeen met ‘n eintlik tè groot fiets. Eers het oupa en ouma al hulle dae om die kleingoed te oortuig om op te klim en te ry. Hulle sal ry wanneer hulle 10 is.

Intussen, met baie oortuiging, raak die span aan die ry. Ouma kry baie meer oefening as wat sy op kan hoop, want die kindertjies kan mos nie alleen ry nie! Wanneer hulle ry, ry ouboet soos ‘n wafferse fietsryer. Die volgende oomblik is al die kragte op en stop die hele prosessie.

Ses maande later is ons weer op die plaas. Ouma nooi die kleinnefie saam. Skielik is hulle wat die oortuiging nodig gehad het, die voorryers. Voorvatters. Wat die plaaspaaie ken. Wat voortou neem, oor die damwal of onderom. En ouma? Sy dek steeds die agterhoede.

Maar toe ‘n pedaal per ongeluk vol beesmis raak en ons ry met kaalvoete … eeuwww!

Ek moet fluister dat my mond oophang oor die intelligensie wat ek hoor!

Toortsie

Skattejag

Hierdie idee het ek by ‘n vriendin gekry, toegepas en dink dat dit ‘n vervolgverhaal gaan word.

Kleingoed kuier by oupa en ouma. Ouma moet plannetjies maak om kleingoed besig te hou. Toe gaan haal ouma ‘n kleine skatkis en skryf ‘n klompie briefies daarin. Nommer die briefies van een af aan.

Die kinders maak beurte om die briefies te lees. Eers gaan soek ons die oupa- en ouma grootjie. Ons volg die instruksies presies. Ry tot by … (dan soek ons die punt) . Draai regs. Ry tot by ‘n vulstasie op regs. Draai links. Stop langs die pad. Koop blomme.

So gaan soek ons in die begraafplaas die oupa en ouma se graf en sit blomme neer. Ons volg die instruksies tot by die veearts, die koöperasie. By die silo’s is die oom so oulik en gaan wys vir ons waar die graan afgelaai word, die kontrolekamer, vertel dat hier 100 silo-buise is, wys die lang silosakke vol graan. Daarná neem die instruksies op die briefies ons na ‘n skrynwerker. By Kapula kerse sien ons die mooiste kerse en koppies wat dieselfde patrone ophet. Die ‘hear no evil, see no evil, speak no evil’ uile is beslis ‘n hoogtepunt. En die goudvisse in die dam ‘n bonus waarop ouma nie gereken het nie. Die volgende briefie neem ons tot by ‘n restaurant met ‘n speelplek, net betyds vir middagete. Daarná lei die instruksies ons tot by die plek waar ons al ons herwinningsvulles moet afgee. Daarná verby die brandweerstasie met nóg ‘n lekker instruksie: soek die helikopter!

Toortsie

Ongelukkig haal die tyd ons in terwyl daar nog ‘n hele klomp briefies in die skatkis is. Die lekker daarvan? Volgende keer kan ons voortgaan en sommer nog baie skatte soek en wie weet, dalk het daar dan sommer nog ‘n klomp nuwe briefies ingekom. Ons moet net onthou waar ons laas gestop het, anders gaan ons verdwaal! (Dit was by die polisie op links.)