Mense en beurtkrag

Mense is vir my interessant en ek hou daarvan om te weet hoekom ‘n mens op ‘n sekere manier optree. Want ons omstandighede verskil mos en daarom doen ons dinge verskillend. Ons persoonlikhede verskil ook nog, wat bydra tot ons verskillende optrede.

Ag, en dan wil ons tog so graag uitstaan, of nie uitstaan nie, maar die graagste wil ons net in die boksie pas, optree soos dit in die mode is. En net sodra ons dit regkry, het die mode verander!

Beurtkrag tref natuurlik vir ons almal verskillend. Ek luister gister vir Mariëtta Kruger wat soggens in die donker by die huis wegtrek werk toe, danksy beurtkrag, dan, by die werk tref sy weer beurtkrag, en vanaand as sy by die huis kom, is dit weer beurtkrag! Dit is genoeg om enige mens moedeloos te maak!

Ek is gelukkig dat ek die meeste van die kere om beurtkrag kan werk, daar is genoeg dinge wat ek kan doen wat nie krag benodig nie en dan doen ek dit solank die krag af is. Maar dis my omstandighede wat dit toelaat. Soms moet ek ekstra beplanning daarom doen, want as ek besig is om lone te doen en daar is skielik fase 2, of selfs fase 6 beurtkrag, dan is dit ‘n ander storie. Ons gependel maak dit ook nogal soms ingewikkeld, juis rondom lone, want as ek op die plaas wegtrek nadat ek reeds beurtkrag trotseer het, tref ek dit net mooi as ek weer by die huis ook kom! Gelukkig is dit nie elke dag wat dit so werk nie en gelukkig is dit ook nie elke dag lone nie. 🙂

Beurtkrag het my verlede jaar redelik gekniehalter. Ek moes lisensies uitneem wat al sou verval. Ek is mos nie aldag hier nie. Wanneer ek, as gevolg van my los kop, onthou het van die lisensies, was die kantore al toe, of, was dit nog oop, maar die krag was af. Dit het nogal ‘n hele paar pogings gekos om die lisensies uitgeneem te kry!

Ek kon nie gister help om te glimlag toe iemand kla dat Eskom by hulle skedule moet hou nie, want, hulle sit nie altyd die krag af wanneer dit hulle beurt is nie! Bedoelende: As die krag van 08:00 tot 10:30 moet af wees, moet hulle dit nie eers 08:30 afsit nie. Dan moet hulle dit al 08:00 afsit en klaar! Kan jy dit oorvertel?

Ek is so dankbaar vir elke minuut wat hulle laat is met die afsitslag, dit gee my nog grasie om gou iets te doen!

Ek mag dalk verkeerd wees, maar hoe ek dit verstaan, is dat as die tyd van 08:00 tot 10:30 is, kan dit gebeur dat ons dan sonder krag sal wees. Gestel dit gaan eers half 9 af, sal hulle dit steeds half 11 aansit. Dit het ook darem nog nie gebeur dat hulle die aansittyd oorskry nie. Ek weet nie van by julle nie?

Nou ja, ek hoop julle kry julle dinge gedoen en dat beurtkrag julle nie te veel pla nie. Ek kan verstaan dat mense moedeloos raak hieroor.

Groete

Toortsie

15 thoughts on “Mense en beurtkrag

        1. Dit is! Huur is hoog en elke sent tel. Ek dink hier’s te veel en tog sit die meeste nog bankvas tot 2vm, mits die krag aan is. Reg onder my woonstel staan ‘n reuse generator wat vreeslik raas. Dit was salig 02h30 toe dit afskakel.

          Liked by 1 person

  1. Beurtkrag het al ons lewens verander. Natuurlik is ek bly wanneer die krag nie af gaan nie, tog moet ek volgens die horlosie werk as ek middagete betyds op die tafel wil kry. Gister het ek die oond afgeskakel and die kokende water in my teepot gegooi to die krag 1nm afgegaan het: how’s that for good timing!

    Liked by 2 people

  2. Dis daai Clicks toe gaan vir medisyne en dan kan hulle nie help mie want hulle kopieërder werk nie. Dit lyk soos op die plaas hier by my… lampies, blakers en kerse. Was daar werklik ‘n tyd wat ek uit vrye keuse oral kerse laat brand het, want dit gee so ‘n romantiese atmosfeer.

    Liked by 1 person

      1. Ek het aangedring dat hulle my te minste een elk van my aand en oggend pille moet gee… die res kan hulle op hulle tyd opmaak dan kom haal ek dit volgende dag. Sy wou eers nie byt nie, maar ek kon haar uiteindelik oorreed. Wat het ons oupas en oumas op die plase sonder voorskrif medisyne gedoen? Hulle het ook nie die frustrasie van kragonderbrekings geken nie.

        Liked by 1 person

  3. Weet julle hoe mooi die naglug is as die krag af is? Ewe skielik is daar miljuisende sterretjies oor Tafelberg, Leeukop en Seinheuwel. Mense loop steeds in die straat, al is dit laat. En almal is veilig.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op rondomtaliedraai Kanselleer antwoord