Mense en beurtkrag

Mense is vir my interessant en ek hou daarvan om te weet hoekom ‘n mens op ‘n sekere manier optree. Want ons omstandighede verskil mos en daarom doen ons dinge verskillend. Ons persoonlikhede verskil ook nog, wat bydra tot ons verskillende optrede.

Ag, en dan wil ons tog so graag uitstaan, of nie uitstaan nie, maar die graagste wil ons net in die boksie pas, optree soos dit in die mode is. En net sodra ons dit regkry, het die mode verander!

Beurtkrag tref natuurlik vir ons almal verskillend. Ek luister gister vir Mariëtta Kruger wat soggens in die donker by die huis wegtrek werk toe, danksy beurtkrag, dan, by die werk tref sy weer beurtkrag, en vanaand as sy by die huis kom, is dit weer beurtkrag! Dit is genoeg om enige mens moedeloos te maak!

Ek is gelukkig dat ek die meeste van die kere om beurtkrag kan werk, daar is genoeg dinge wat ek kan doen wat nie krag benodig nie en dan doen ek dit solank die krag af is. Maar dis my omstandighede wat dit toelaat. Soms moet ek ekstra beplanning daarom doen, want as ek besig is om lone te doen en daar is skielik fase 2, of selfs fase 6 beurtkrag, dan is dit ‘n ander storie. Ons gependel maak dit ook nogal soms ingewikkeld, juis rondom lone, want as ek op die plaas wegtrek nadat ek reeds beurtkrag trotseer het, tref ek dit net mooi as ek weer by die huis ook kom! Gelukkig is dit nie elke dag wat dit so werk nie en gelukkig is dit ook nie elke dag lone nie. 🙂

Beurtkrag het my verlede jaar redelik gekniehalter. Ek moes lisensies uitneem wat al sou verval. Ek is mos nie aldag hier nie. Wanneer ek, as gevolg van my los kop, onthou het van die lisensies, was die kantore al toe, of, was dit nog oop, maar die krag was af. Dit het nogal ‘n hele paar pogings gekos om die lisensies uitgeneem te kry!

Ek kon nie gister help om te glimlag toe iemand kla dat Eskom by hulle skedule moet hou nie, want, hulle sit nie altyd die krag af wanneer dit hulle beurt is nie! Bedoelende: As die krag van 08:00 tot 10:30 moet af wees, moet hulle dit nie eers 08:30 afsit nie. Dan moet hulle dit al 08:00 afsit en klaar! Kan jy dit oorvertel?

Ek is so dankbaar vir elke minuut wat hulle laat is met die afsitslag, dit gee my nog grasie om gou iets te doen!

Ek mag dalk verkeerd wees, maar hoe ek dit verstaan, is dat as die tyd van 08:00 tot 10:30 is, kan dit gebeur dat ons dan sonder krag sal wees. Gestel dit gaan eers half 9 af, sal hulle dit steeds half 11 aansit. Dit het ook darem nog nie gebeur dat hulle die aansittyd oorskry nie. Ek weet nie van by julle nie?

Nou ja, ek hoop julle kry julle dinge gedoen en dat beurtkrag julle nie te veel pla nie. Ek kan verstaan dat mense moedeloos raak hieroor.

Groete

Toortsie

Opstel: Beurtkrag

Met beurtkrag wat vir ons ‘n realiteit is, het ons almal sekerlik iets daaroor te sê.

Ek vra die vrae en jy skryf die antwoorde wat in jou kop opkom. Onthou, dis jou opstel en jy mag skryf wat jy graag wil skryf oor hierdie onderwerp.

Hoe voel jy oor beurtkrag? Is dit nodig? Is dit onvermydelik?

Wie, en wat is die oorsaak van beurtkrag? Probeer om nie afbrekend te wees nie, maar by die koue feite te hou asb.

Hoe het beurtkrag vir jou en jou gesin geaffekteer? Het dit julle baie ontwrig, of het dit nie regtig ‘n effek gehad nie? Watter voorsorgmaatreëls het julle getref om dit vir julle makliker te maak, byvoorbeeld lampies, of ‘n kragopwekker, kerse, herlaaibare gloeilampe?

Hoe, na jou mening, het dit die ekonomie van die land geaffekteer? Besighede? Was winkelsentrums gesluit in julle dorp of stad gedurende beurtkrag? Dink jy byvoorbeeld dat besighede verliese sou ly as gevolg hiervan?

Watter voorstelle kan jy maak om beurtkrag in die toekoms te verhoed? Wat kan die regering doen? Is dit haalbaar dat privaatmaatskappye ‘n nuwe kragnetwerk ontwikkel? Wat sal die koste daarvan wees?

Wat kan ons as gewone burgers van die land doen om onsself teen beurtkrag te bemagtig? Sonpanele? Windlaaiers? Kragopwekker? Herlaaiers? Watter nuwe tegnologie is beskikbaar?

Enige slotopmerking wat jy graag wil maak oor hierdie onderwerp?

Onthou om toortsie.com as bron aan te gee in jou opstel as jy hierdie inligting gebruik. Kom skryf ook asseblief in die kommentare as dit jou enigsins van nut was. Watter ander idees kan jy hierby voeg om die opstel oor beurtkrag nog meer sinvol te maak?

Vir nog opstel- of mondelingonderwerpe, kliek HIER.

Lekker skryf!

Toortsie

.

Lekker skryf!

Toortsie

.

Lekker skryf!

Toortsie

.

Lekker skryf!

Toortsie

Toortsie en die beurtkrag

Toe beurtkrag weer aangekondig word, het Toortsie ewe besluit dat sy nie gaan deelneem nie. Hoe sy dit wou doen, weet ek nie. Ek vermoed Toortsie het nie ver genoeg gedink nie! Sy het ook nie gedink Fase 4 beurtkrag gaan realiseer nie.

Toortsie het besluit om haar só min aan die beurtkrag te steur, sy gaan nie eers die app aflaai nie! Gelukkig is daar genoeg mense rondom haar wat presies weet wanneer die krag sal afgaan.

Toortsie het besluit om maar aan te pas, sy werk mos gelukkig nie voltyds nie.

Die stemmetjie in haar hart het haar meermale gewaarsku dat sy ‘n plan B in plek moet kry om in haar huis te kom as die krag af is, selfs presies vir haar gesê hoé die plan B daar uitsien. Sy hét die voordeur se sleutel aan haar karsleutel gesit, maar ja, selfs al het die stemmetjie haar gewaarsku, het sy vergeet om die sleutel wat in die deur gesteek was, uit te trek.

Maar tipies Toortsie het geluk weer eens sy kant gebring en kon haar kleine kleindogter deur die venster klim en hulle red.

Dit was ook vir haar effens rowwerig met die kleinkinders by haar en kos wat betyds gaar of warm moet kom, maar verder werk dit eintlik heel goed. Toortsie val maar in by die liggies se aan en af..

So, Toortsie móét ook effens beplan om kragdinge te doen as die krag aan is en sonderkragdinge as dit af is. Dit behels dalk dat sy kos vooraf moet maak, of nat wasgoed in die huis moet hang omdat die dagligure haar ingehaal het. En dalk sal dit goed wees dat sy genoeg kerse aanskaf, batterye kry vir haar flitsie en haar Kindle laai vir die donkertye.

Toortsie reageer egter nie goed op doem-smsse van hoe sy moet voorberei nie. Nog nie. Sy mag dalk later spyt wees, maar nog nie nou nie.

Ons sal hierdeur ook kom.

Mooi dag!

Toortsie

die krag, o die krag

Iemand skryf ‘n brief aan RSG en vra hoekom hulle dan nie beurtkrag op ‘n Sondag het nie, in plaas van in die week. Die meeste mense het af op ‘n Sondag, so dit sal dalk die minste mense ontwrig.

Sy verstaan dit, soos baie mense, dat krag opgegaar kan word. So, as ons dan op ‘n Sondag amper heeldag geen krag het nie, is daar mos genoeg opgepot vir die res van die week.

Die probleem is, het iemand aan my verduidelik, dat krag nie opgegaar kan word nie. Daar’s nie batterye waarin die krag gestoor kan word nie. Krag word nou vervaardig vir nou se verbruik. Sê ek nou reg? Eskom kan soveel krag op ‘n slag vervaardig, en as ons op ‘n gegewe oomblik daardie maksimum oorskry, word beurtkrag ingestel. Ek dink dis een van die redes, dink ek, hoekom dit so werk dat hulle die een oomblik aankondig dat daar geen beurtkrag gaan wees nie, en net die volgende oomblik is ons in fase een en ‘n halfuur later in fase 2.

Juis om hierdie rede het ek die vraag oor die afsit van die geizer gevra. Want sien, die heel dag is die geizer af, en vanaand, wanneer dit reeds spitstyd is, sit almal dan gou hulle geizer vir ‘n halfuur aan om die water weer warm te maak. Almal gelyk, wat die stelsel dan net meer oorlaai.

Toe het ek nou só gedink, en ekself pas dit nog nie toe nie, ek dink nog maar net.

Ek weet baie mense het tydskakelaars (timers) op hulle swembadpompe en geizers en ander goed wat krag gebruik. Soos dit vir my klink, word die heel minste krag in die nag verbruik, van 10 nm tot so 6 vm, of is dit 5 vm? Is dit dan nie ‘n goeie ding om jou swembadpomp in die nag te laat loop, in plaas van in die dag nie? En as jy in elk geval jou geizer net ‘n halfuur elke 2 dae aanskakel, kan jy hom nie só stel dat hy dalk vanaf 4 uur in die oggend  loop sodat dit lekker warm is as jy opstaan nie? Dalk moet ons boervrouens die boud deur die nag in die oond druk, soos ons in die ou dae gedoen het. Droog jou beskuit deur die nag uit, ek doen nogals, en sit jou skottelgoedwasser aan net voor jy gaan slaap.

Die goed wat ek nou genoem het, is goed wat kan gebeur sonder dat jy dit die hele tyd hoef dop te hou. Die oond se tydskakelaar werk so maklik, so ‘n mens kan regtig van dit gebruik maak.

Watter voorbeelde kan julle nog noem van goed wat nie noodwendig in die dag hoef te gebeur nie, maar wat kan gebeur terwyl jy slaap, sodat die verbruik van die elektrisiteit meer versprei is?

Groete

Toorts

Ek plaas interessante bloginskrywings wat ek raakloop ons faceboekblad.