Toortsie se Woordsnoere 3

Drie professionele ouens stap tegelyk, skertsend, saam by ‘n kuierplek in: Jackie, Jamie en Christian. Hulle het groot planne. Die gedagte is dat elkeen van hulle die ander iets nuuts moet leer. Elkeen van hulle het spesiale gawes wat hulle tog te graag met die ander wil deel.

Die kuierplek sit vol nuuskieriges, dit was regtig ‘n groot lokaas om hierdie drie manne van aansien in lewende lywe te sien en te kan ontmoet. Almal weet tog van die lof wat al drie hierdie manne al, elkeen op sy eie terrein, ontvang het.

Heel eerste is Jamie aan die beurt, Engelse sjef en restauranteur, wie se grootste droom is om kos toeganklik te maak vir almal. Hy demonstreer die gaarmaak van ‘n lieflike bladtjoppie, sodat dit sag is, selfs by die Cloete-se-oor. Hy is ‘n regte causeur en gesels vlot oor hoe om taai vleis te vertroetel sodat dit uiteindelik lieflik sag en eetbaar in die mond beland. Die ander twee manne probeer hulle bes om hom na te doen en kry dit tog reg.

Nou kom Christian aan die beurt. Almal weet hoe hy gevaarlike toertjies kan uithaal. Jackie voel gemaklik, hy is tog self ‘n akteur, ‘n noeste man met vele talente en nie ‘n lui haar op sy kop nie, iemand wat die Oosterse vegkuns bemeester het.

Jamie, aan die ander kant, voel ietwat angstig, hy weet nie wat om te verwag nie en vrees dat Christan nie by ‘n eentonige roete sal hou nie en ‘n paar aksies uitvoer wat hy nie sal kan navolg nie. Hy suig senuagtig aan die shandy wat in ‘n roemer gegooi is, slukkie vir slukkie in die hoop dat die voggies hom sal kalmeer.

Net soos Jamie verwag het, is die beweging wat Christian dink eenvoudig is, heeltemal bo sy vuurmaakplek. Christian, atleties gebou en baie slap in die lyf, doen dit, tipies in sy styl, eenvoudig en maklik. Jackie volg hom, nie heeltemal so maklik nie, maar hy ken die plan en werk daarvolgens. Hierná volg Jamie. Eers voel dit of hy knoop, dan probeer hy homself spaar, om Batman te versinnebeeld, maar selfs dít help nie. Dit voel of hy van die tafel geveeg word, en hy val neer. Elke vesel in sy lyf jeremieer terwyl hy op die vloer lê, platgeslaan. Hy voel nietig, of iemand hom streepsuiker gegee het, met platjan toegetakel het. Eintlik voel hy of hy hallusinieer, in ‘n chimera.

Die toeskouers geniet elke oomblik, ‘n klomp ramme wat aangehits word deur die opwinding.

Ná ‘n ruskansie en ‘n hele paar drankies verder, is dit Jackie se beurt. Almal verwag dat hy ‘n stukkie vegkuns gaan demonstreer, maar verras die hele gehoor. Wat min mense weet, is dat hy ‘n operasanger van formaat is, en besluit om sy twee maats ‘n stukkie te laat sing. Christian is moedeloos, maar Jamie kry ‘n tweede asem, hy kán sing. Die twee van hulle sing Barcelona soos niemand anders nog ooit gehoor het nie en stilweg wonder Christian of hulle nie agter die coulisse gekonkel het om hom terug te betaal vir die streep wat hy vir Jamie getrek het nie.

Natuurlik was alles wat julle nou hier gelees het, pure verbeelding van Toortsie, in ‘n poging om al die moeilike woorde wat Lekkervurig uitdink, te gebruik. Die woorde is almal in bold, net ingeval jy wonder watter woorde dit is.

Toortsie

35 thoughts on “Toortsie se Woordsnoere 3

    1. Ag man, oor ek met my selfoon werk en soveel gesukkel om daar in te kom en dan vra hulle ‘n password wat ek gewoonlik nie by my het nie, dan los ek sommer en hoop dat jy of Hester my sal opsit. 😊

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!