Singing all the way!

Die Here bring wonderlike geleenthede oor my pad wat ek met al my hande aangryp, maar soms, vermoed ek, gryp ek nog ‘n ekstra paar ook nog by.

Annabelle Lombard het al ’n paar keer geskryf van die Capital Singers en dan kwyl ek behoorlik van lus en wens dat ek daarvan deel kan wees, maar helaas. Dis in Pretoria en ek sit mos hier onder aan die Suidpunt van Afrika. Skud julle die landkaart, val ons in die see!

Die Stellenbosch-geleentheid kon ek nie bywoon nie en toe kom die advertensie: Belangstellendes kan inskryf vir die kersuitvoering van Capital Singers in Pretoria. Ek soek maats, vra op Facebook, maar niemand reageer nie. Dis ook maar die beste so, daar is regtig nie nog daarvoor ook tyd hierdie jaar nie.

Uit die bloute vra iemand anders vir my of ek saamgaan, sy gaan dit doen, en tipies Toortsie, doen ek voor ek dink en skryf in, bespreek verblyf en betaal vliegkaartjies. Ek gaan sing in Capital Singers! 😁💃

Die verstand het wel later ingeskop, maar gedane sake het geen keer nie. Oor 6 weke sing ons!

En nou leer ons liedjies aan vir ‘n vale. Pak ek skottelgoed weg, sing my selfoontjie met Toortsie agterna. Pendel ek, blêr die musiek op die radio. Ry ek gou winkel toe, dan Jingle Toortsie All the Way. Toortsie sing in die stort en in haar slaap en op alle moontlike plekke. Dis hoog, maar sy kom by. Die keel is skoon seer!

As alles goed gaan en die Here dit so wil, sing Toortsie vanjaar by die Capital Singers se kersuitvoering. Dis nou rof, maar weet julle hoe bly gaan ek wees dat ek dit gedoen het? Dis ‘n eenmaal-in-‘n-leeftyd geleentheid en ek hanteer dit so. Ek doen dit voluit. Nog iets spesiaals wat ek op my lewenservaringslysie kan sit. En wie weet, dalk kom hulle weer eendag Stellenbosch toe en kry ek dalk weer die geleentheid. Maar vir nou gaan ek voluit.

Onthou om te kom kyk, dit gaan mooi wees! 😁💃❤️

Groetnis

Toortsie

39 thoughts on “Singing all the way!

    1. Hester, ek besef die tyd begin uitloop. Daar is alreeds baie goed wat ek nie meer kan doen nie. Daarom moet ek nou skep en inpak en aanpak soveel as ek kan, binnekort is ek dalk te oud! 😱 En nou is ek doodernstig. En as die kleinkinders moontlik my aandag in die toekoms sou vra, sal ek inspring en dit voluit doen, want dan het ek mos die ander goed ook reeds gedoen. 😁

      Liked by 1 person

        1. Nou ek maak nou op vir al daai moes doen en dit wat langs die pad verlore geraak het. 😁 Dis vir my makliker om een keer ‘n leeftyd in so ‘n koor te sing as om aan ‘n permanente koor te behoort wat weekliks oefen. Ek sou dit graag wou doen, maar sal dit tans nie in my lewe kan inpas nie.

          Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!