Zola

Molo. My naam is Zola. Ek kom van die Ciko in die Transkei. My ma en broers en susters bly nog almal daar by die Ciko. My man is Joseph. Sy broer is Godfrey. Godfrey hy werk in die Kaap.

Een dag het Godfrey vir Joseph laat weet hy moet ook Kaap toe kom. Hy het gesê dat daar baie werk is en die geld hy is ook goed. So ons het al ons goedjies opgepak, dis nou ek en Joseph en die twee babas. Die een baba is een jaar oud, die ander baba hy is nou twee. Ons het al onse goedjies gepak en die bus gevat na die Kaap.

Maar Godfrey hy het nie reg gesê nie. Toe ons by die Kaap aankom het ons nie geweet waar om te bly nie. Godfrey bly in ‘n klein kamertjie van hout agter iemand anders se huis. Ons het toe maar almal by hom in daardie kamertjie gaan intrek. Ons baklei baie want die plekkie is maar klein. Daar was ook nie vir ons werk nie.

Ons geld het gou opgeraak en die gangsters het vir Joseph aangerand toe hy in die strate rondgedwaal het. Hulle het vir Joseph so seergemaak hy sal nou nie meer swaar werk kan doen nie.

Ek is so bang om in die strate te loop, die gangsters is orals. Ek is bang hulle maak die kinders seer. Ek het ook nie eintlik werk nie. Party dae kan ek so vir ‘n dag gaan uithelp, maar die geld is maar min. Alles hier kos baie geld, die kinders bly honger. Ek weet nie meer wat om te doen nie.

Ek wil so graag teruggaan Ciko toe. Ons het daar ook swaar gekry maar dit was anders. Daar het ons vir mekaar gesorg. Almal het swaar gekry. As iemand kos het, het hy dit met almal gedeel, hier is dit net man-man vir homself. Ek wens so ek kan teruggaan Ciko toe. Daar het ons ons land koring gehad en ons kon daarvan eet. Nou is ons net honger.

As ek net weet hoe om te kan teruggaan.

Weet jy dalk hoe ek kan maak?

………………

Suiwer verbeelding van Toortsie met geen spesifieke persoon in gedagte nie.

Toortsie by Finesse: The hills are alive!

22 thoughts on “Zola

    1. Ja. Nie net op mense wat uit die Transkei Kaap toe gelok word nie. Ook op opgeleides wat gelok word om te emigreer en dan dalk nie die fondse het om terug te kom as hul graag sou wou nie. So jammer.

      Liked by 1 person

      1. Ja, maar soms, net soms, werp die kans wat jy gevat het, vrugte af en jy bou ‘n heerlike nuwe lewe. Ek dink, wanneer die heimwee jou tref, verlang almal maar na die vleispotte van – Egipte.

        Like

Lewer kommentaar op rondomtaliedraai Kanselleer antwoord