‘n Volstruisstorie

‘n vriend vertel my hierdie storie. Dit gaan oor sy groot-oupagrootjie, indien nie nog vóór hom nie.

Hierdie oupagrootjie se oupa of hoe ook al, was ‘n togryer. Dis nou dieselfde as ‘n lorriedrywer in vandag se dae, of omtrent so iets. Hy het nie geld gehad nie. Hy het vir iemand anders die wa en perde gedryf.

Hy was op pad Kaap toe met sy wa en perde, toe hy oornag omtrent daar waar Buffeljagsrivier se tronk nou is. In daardie dae was dit nog woeste wêreld. Daardie aand is hy honger en gaan jag, en skiet ‘n paar volstruise. Onthou, tóé het volstruise nog wild geloop, dit was vóór die volstruisera.

Van die vleis het hy seker biltong gemaak, maar die vere het hy mooi bymekaar gevat en in bossies gebind.

Op die Kaapse hawe was daar ‘n skip aan wie hy die volstruisvere verkoop het. Met daardie geld kon hy vir hom ‘n plasie koop. Hy het begin om volstruisies te vang en mak te maak … die begin van volstruisboerdery … die vere raak gewild en álmal soek vere!

‘n Geslag of wat later, toe hulle al groot en ryk volstruisboere was, was daar drie broers. Twee van hulle was boere, die derde een ‘n wêreldreisiger. Hý gaan toer in Europa en sien dat die Europeërs met motors begin ry. Onthou, die ou motors het afslaandakke gehad. Hy voorsien ‘n probleem: Die vrouens gaan binnekort nie meer volstruisvere in hulle hoede sit nie, dit gaan afwaai in die nuwe, ‘vinnige’, motors. Toe hy terugkom in Oudtshoorn by sy mense, sê hy: “Verkoop DADELIK al die volstruise, hier kom moeilikheid,” wat hulle toe doen. Onthou, volstruise was toe op sy top, hul het goed gedoen met die verkoop daarvan. Dit was hulle redding. Kort daarná het die volstruisvere se prys geval.

Mooi storie, né? ‘n Ware verhaal. ‘n Ware verhaal van versiendheid, dalk ‘n bietjie geluk ook, maar ‘n gewilligheid om aan te pas, veranderinge te maak.

Groete

Toortsie

12 thoughts on “‘n Volstruisstorie

    1. Die storie gaan nog aan ook. Omdat hulle al hulle volstruise in die piektyd verkoop het, het hulle geld gehad en toe die volstruise val en die mense raak bankrot, kon hulle plase koop. Die verskil was dat die ander mense wat plase uitgekoop het, die boere van die plase laat afgaan het. Hulle het egter die plase uitgekoop en die boere toegelaat om as bywoners aan te bly. Dit het gewoonlik so gewerk dat die persoon dan kon aanhou boer, maar ‘n gedeelte van die oes was die nuwe eienaar s’n. Hoop ek verduidelik dit reg. Ek dink hulle het toe om die helfte geboer.

      Liked by 1 person

  1. Dis nou n goeie voorbeeld van met oop oë deur die lewe te gaan. Dan jou opvolg stukkie oor die opkoop van plase en boer om die helfte is ook werklik besonders. Die mense het nie net aan hulself gedink nie maar ook aan die verloorders. Is ook mal oor die storie! Dis n regte Afrikaanse storie die!

    Like

Gesels saam, asseblief!