Ons hou konsert

Scrapydo se toeka-tokkel: Toneelspelers

In die agterplaas van die “pastorie” waar ons ingetrek het, het ‘n motorhuis grote prefab rondawel, op ‘n netjiese sementblad gestaan.  Die rondawel is vir baie dinge gebruik, tot die Morris Minor het op ‘n stadium daar binne gestaan terwyl hy gerestoureer is.  Die lekkerste gebruik was egter die jaar waarin ek en Ken ‘n “jungle club,” vir die buurt se kinders begin het.  Op ‘n Vrydag middag het skoolgaande kinders tot op ouderdom veertien, na ons toe gekom.  In die rondawel, is daar gesing; my Hollandse vriendin het op haar kitaar gespeel….. en gelukkig het sy ook ‘n pragtige stem gehad.  Daarna het een van die grootmense (soos die klub uitgebrei het, so het ons meer hulp inkry) ‘n bybelles aangebied.  Vir die projekgedeelte van die middag, is die kinders in drie groepe ingedeel.  Halftyd is koeldrank en koekies uitgedeel, en daarna is daar speletjies gespeel.

Die wêreld alte jolig
Die wêreld alte jolig

Ons het besluit om die einde van die jaar ‘n konsert te hou sodat die ouers na hulle kinders se projek kan kom kyk, en ook bietjie vermaak word.  My groepie was die kleintjies, en ons het heel jaar aan ‘n see uit gips, ‘n ark van vuurhoudjies, en mannetjies uit pypstokkies, met linneklere aan gewerk.  Meeste van die mannetjies het in die see beland, party sommer so bene in die lug soos hulle verdrink het.  Daar is besluit om die tema vir die konsert ook Noag, en die ark te maak.

Ek het vir ‘n goeie donderstorm gewag, buite onder die afdak gaan sit, en dit opgeneem. Die konsert sou ook onder die afdak gehou word.  Die kinders se projekte was in die rondawel uitgestal.  Om uit die oë van die buitewêreld te wees, is die afdak met seile toegespan.  Die aand van die konsert breek aan.  Vir die kinders is dit ‘n groot aand waarna hulle lank uitgesien het.

1985 -0129Skaars het die ouers hulle plekke ingeneem, of ‘n storm van storms breek oor ons los.  My opname van donderweer bly vergete in die bandopnemer; die ware Jakob blits, rammel, en donder, en dan gaan die sluise van die hemel oop, en reën sak oor ons neer.  Die geraas van die reën op die sinkdak voeg drama tot die toneel, en die kinders vertolk hulle rolle met oorgawe.  Dat die geverfde ark – deur die wind geruk – lyk asof hy inmekaar gaan saak, maak nie vir hulle saak nie.  Noag en sy gesin kruip die ark binne, en lag toe ‘n kind se kopdoek in die slag bly.

Intussen wonder ek benoud hoe ons die ouers in diè reën by die rondawel gaan uitkry om na hulle kinders se projek te kyk; waar daar ook ‘n teetafel, met koek vir hulle wag.  Die weer speel egter mooi saam.  Skaars het die konsert geëindig of die reën hou op, en opgewonde kinders stap met hulle ouers oor die nat gras rondawel toe.

Die konsertjie sal natuurlik nooit die stadsteater gehaal het nie, maar ek glo dit het baie vir die buurt se kinders beteken, en dit is tot eer van God gedoen.

N.S  Die “jungle club” was die afskop van ‘n groot sendingwerk onder plaaskinders, waar duisende swart kinders bereik is.  My Hollandse vriendin het sterk begin voel om na die plase toe uit te reik met dit wat ons doen.  Sy het aan die begin baie teenstand gekry, maar die Here het oorwin.  Sy het haar naweke spandeer deur van plaas na plaas te ry, en “Sondagskole” op die been te bring.  Op ‘n stadium was dit 2000 kinders sterk, en nou 28 jaar later gaan die werk nogsteeds voort.

12 thoughts on “Ons hou konsert

  1. Dis darem so lekker om die toneelstuk aan te bied aan die ouers. Dis dinge wat die kinders nie sommer vergeet nie. Toe ek nog in laerskool was het ons ook in plaasskooltjie “make shift” verhoog en gordyne gehad. Daardie Bybeltoneel aan einde van jar was altyd hoogtepunt. Ek is bly jou vriendin staan steeds sterk in haar diens an die plaaskinders.

    Like

    1. Die werk wat sy doen is soveel groter. Sy het met baie weggooi kinders te doen gekry. Hulle eers in haar eie huis ingeneem en saam met haar drie kinders grootgemaak. Toe dit te veel geword het, het hulle die huis langsaan gekoop en ‘n kinderhuis begin. Die boer oorkant hulle het vir haar ‘n rugby grote stuk grond gegee as speelplek vir die kinders. Sê altyd sy gaan baie krone van die Here kry.

      Like

    1. Om die kinders wintervakansies uit die kwaad te hou het ons kerk die clubsaal gehuur, en Jungle Club in groot maat gehou. Speletjies is op die rugbyveld gespeel. Aan die einde is ‘n fancy dress gehou. Die kinders het dit so geniet. Ons het besluit om dit vir die area waar ons bly se kinders op Vrydae middae te doen. Die konsert het plek geneem van fancy dress…. en die ouers is betrek. Hopenlik het daar vrug voortgekom.

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!