Toortsie se Toeka Tokkel oor Televisie Programme

In opdrag van Scrapydo.

Dit was in 1975 toe TV begin het. Eers het net die Transvaal TV gehad, en later het die Kaap ook gekry. Twee ure per aand, een uur Engels, een uur Afrikaans, wat mekaar afgewissel het, wie eerste is. Toe TV uitkom, het my ma onmiddellik vir ons een gekoop, en vir maande het ons elke aand na strepe gekyk… 🙂

In my lewe was daar tye wat ek baie TV gekyk het, en ander tye wat ek min gekyk het. Toe my oudstes nog klein was, was daar ‘n tyd wat ek omtrent alles gekyk het, van Liewe Heksie, regdeur tot by Louis Motors, die komminste program wat daar seker was!

Op ‘n stadium was daar omtrent elke aand een of ander goeie reeks in Afrikaans te siene. Uitstekende reekse. Toe skielik, een aand, raak die SAUK SABC, en als verander, sommer net ter wille van verandering. Op daardie selfde tydstip was my TV kamer se banke ingestuur om oorgetrek te word… en ek sterf af van TV!

In al die jare was ek nog nooit lief vir TV nuus nie, ek het regtig nie nodig om van elke moord, elke slegte ding te hoor en te sien nie. ‘n Rukkie terug kyk ek die TV nuus, en binne 5 minute was ek só ontsteld. 😦 Die lot staak oor daar nie genoeg openbare vervoer is nie, en om hulle misnoë te wys, brand hulle die busse en treine af… Dít het ek nie in my lewe nodig nie, ek sny dit sommer uit en leef lekker voort.

Ek en sepies het nog nooit regtig maats geword nie, en sitkoms het deesdae so kommin geraak, ek geniet dit regtig nie. Laas toe ek gekyk het, was die hoofstorie in die sitkom dat almal vir almal verneuk, dis reg en aanvaarbaar, solank jy nie uitgevang word nie. Wel, dís nie ‘n boodskap wat ek nodig het nie.

Maar kom ek raak meer positief! My man is lief vir TV kyk, en ek sal saans by hom gaan sit en kyk wat hy kyk. Ek hou steeds van ‘n goeie reeks, en het Vlug na Egipte en sy opvolg baie geniet. Nou is dit weer Getroud met Rugby. In beide gaan daar maar onheilighede aan, maar dis darem nie ál wat gebeur nie. Hopelik nie! Ek geniet Karin Zoid se program as ek toevallig daarop afkom, en baie aande is daar programme soos Pasella waarvan ek baie hou. ‘n Fliek is eintlik die ding wat ek die meeste geniet op TV.  Ek het selfs Saterdagaand die rugby gekyk, en onthou, as ék die slag kyk, wen die Springbokke altyd! 😉

Geniet julle TV. Ek glo daar is baie oulike programme op TV, ek weet net nie van hulle nie!

Groete

Toortsie

21 thoughts on “Toortsie se Toeka Tokkel oor Televisie Programme

  1. Onthou, jy onderbrekings met “Please be patient we have a problem” in die beginjare? Nou nie tersake – jong Polisiemannnetjie wat teenoor my man destyds gekla het oor hul finansiëel gesukkel het, skryf hy so onderaan sy rekening ..Please be patient we have a problem ..en pos dit terug aan winkel. Foeitog !

    Liked by 1 person

  2. Ons was almal voorheen maar TV verslaafdes, maar mettertyd het ons ontslae geraak van DSTV (te veel herhalings), die SABCs is bloot vervelig en assuransie vir al die TV-stelle wat buitendien nie gebruik word nie, het buitensporig geraak. Ons het nou net die een skerm wat teen die muur gemonteer is en wat ons gebruik slegs wanneer ons flieks huur of ons rekenaars / Wii wil koppel aan ‘n groot skerm. Tot my frustrasie mag ek dit nie afskakel nie (iets sal roes of tot niet gaan sê die TV dokter) en ek moes vrede maak met SABC wat 24/7 beelde wys waarna niemand kyk nie. Ek voel wel soms ‘n bietjie “uit” as mense begin gesels oor soapies en sportkanale.

    Like

  3. Ek kyk soms KykNet,maar deesdae herhaal hulle sulke ou programme soos Spies en Plessis…dis so outyds en onvanpas in vandag se tye en dis interessant om te sien hoe alles in dertig jaar verander het.

    Like

  4. Groot veranderinge vandat TV begin het. Ons het nie krag by die huis gehad nie. Ek het later n swart en wit klein TV gekoop en my pa het die kragopwekker aangesit sodat ons kon kyk. Dit het nie goed gewerk nie. Vreeslik gesneeu en dan die opwekker se lawaai het gemaak dat ons dit nie gebruik het nie! Ek het self lank geen TV gehad nie. My vriendin en buurvrou het my 8 uur saans saam met haar laat kyk vir n uur terwyl ons tee drink! Lekker ou dae. Dankie vir jou TV storie! 🙂

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!