Hoe gaan dit met die Banting?

Iemand vra my hoe dit met die Banting-dieet gaan. Sy sukkel met die ryk kosse, of dalk voel sy nie konfyt genoeg om die resepte te maak nie.

Ek antwoord toe dat ek mos maar kook soos altyd, of moet ek sê, “amper”. Dit neem die liggaam 3 dae om aan te pas by die nuwe eetplan. Ek is nie seker of dit aanpas deur “in ketose” te gaan, en of jy sleg voel weens onttrekking aan suiker en stysel nie.

Sy vra of ek dit dan nie 100% doen nie. En nee, ek doen dit seker so 99%. ‘n Mens MOET dit 100% doen, anders gaan jy vet word. Die logika daaragter is dat jy nou skielik ryker kosse eet, en as jy dan nog die koolhidrate en suikers ook in oormaat eet, die liggaam gaan dink hy is in Kanáán.

Ek het my kokery effens aangepas. Ek kook amper nog nes altyd. Ons eet mos maar vleis, en sit meer groente by, sonder stysel.  Soms sit ek aartappels by, of kook rys, ter wille van my gesin, en dan is dit vreeslik kophou om dit nie in te skep nie. Herhaaldelik skep ek ‘n GOEIE porsie rys, net om skielik te besef ek eet nie rys nie, en moet dit dan vinnig terugskep. Soggens bak ek vir my eiers. Ek maak nie vreeslike “grand” Banting goed, soos Banting Brood, Banting koekies nie. My gesinslede eet nog gewone beskuit, ens. Hier en daar sal ek lus kry vir iets en maak dit dan, maar dis nie die norm nie.

Wat natuurlik baie belangrik is, is dat jy groente eet by ELKE ete. Dit help jou metabolisme om aan die gang te kom. Ek gooi sommer ‘n sade-mengsel oor die eiers as ek dit soggens bak. Avokado is natuurlik ‘n WENNER! Ek eet sommer ‘n halwe saam met my gebakte eiers in die oggend.  Maar avo is nie ‘n groente nie. ‘n Tamatie of ‘n paar komkommerskyfies werk goed by ontbyt. Tamaties is my redding. Ek is mal daaroor en eet dit amper soos ‘n vrug.

Van vrugte gepraat: Ek eet een per dag.

Ek glo dat mens binne die Banting Reëls moet probeer bly. Ek eet wel soms ‘n verwerkte iets, soos Russians, maar dis een maal in twee of drie weke, ek glo nie dit sal die appelkar omgooi nie. Ek laat soms ‘n “kroek” toe, maar beslis nie meer as een keer per week nie, en eers vandat ek nader aan die doelgewig kom.

Ja, dankie, dit gaan goed met my Banting LEEFSTYL. Ek glo ek sal hiermee kan aanhou, dit pas in in ons leefstyl. En nee, ek probeer jou nie oortuig om dit te doen nie. As jy dit sou wou doen, gaan sien asseblief eers jou dokter. Ek het. Ek is ook nie lus vir ‘n bekgeveg nie.

Groete

Toorts

Lees meer oor Banting:

Op Toorts se blog

Op Pinterest: Banting Resepte, Lae koolhidraatresepte, Vleisresepte

11 thoughts on “Hoe gaan dit met die Banting?

    1. Dit werk vir my. In die eerste week het ek 4 kg verloor. Daarna het dit stadiger gegaan. So half kilo per week. Op hierdie stadium neem dit 6 weke vir ‘n kilogram. Ek gee nie omdat dit nou so stadig gaan nie, ek is gemaklik met my lyf en as ek nou gaan stilstaan sal ek tevrede wees. Ek moet wel nog ‘n paar kg gaan maar ek is rustig. Dit werk nie vir almal nie, vir my is dit die maklikste van alle eetprogramme wat ek nog gevolg het.

      Liked by 1 person

  1. As jy dit so beskryf, klink dit eintlik heel maklik. Ek is gelukkig baie lief vir groente, maar ek gaan sukkel met die rys gedeelte. En die soettand neuk ook maar

    Like

    1. Oeeee die soettand neuk erg. Ek het ‘n ERGE soettand. Weet jy, solank ek nie die soetgoed sien nie, kry ek nie lus nie. Mens kry nie cravings nie. Maar as hulle die dag oor die radio van ‘n kaaskoek praat, kan ek later nie meer my lus hou nie. Daar is nogals heelwat resepte vir soettande, maar ek is maar lui, gehoor! 🙂

      Like

Gesels saam, asseblief!