Toorts se Toeka-Tokkel: Geskenke

Scrapydo daag ons uit om oor geskenke te skryf. Ek dink nie geskenke is my grootste liefdestaal nie. Tog waardeer ek ‘n geskenk. Die geldwaarde van ‘n geskenk is nie vir my belangrik nie, eerder die gedagte dat die persoon aan my gedink het toe hy dit gekoop of gemaak het. Dat hy/sy dit graag vir my wil gee.

Ek het al baie waardevolle geskenke in my lewe ontvang. Een wat my nou nog by bly, was die kitaar wat ek gekry het toe ek 12 jaar oud was. Ek kan onthou dat ek die middag aan die slaap geraak het met my kitaar op my bed.

Die reis wat John Deere verlede jaar vir ons na Amerika gegee het, was ook vir my ‘n geskenk wat my net stom gelaat het.

Iets wat vir my erg waardevol is, is as ‘n boer vir my vrugte of groente gekenk gee. In die week wat verby is, het ek perskes gekry. ‘n Hele boks vol! Dadelik het my oë geblink, want ek gaan perske-atjar maak. Teen die tyd wat ek toe daarby kom, het die inhoud al baie gesak.  Ek kon wel ‘n bietjie inlê, wat vir my in die toekoms weer baie sal beteken.

Hier is die resep vir 1 kg perskes. Dit gee jou ‘n groot mayonnaise pot en ‘n kleintjie vol. Weet julle hoeveel keer kan jy daarvan eet? Hierdie is nie ‘n ideale resep vir as jy banting doen nie. Dalk kan jy die suiker vervang met xylitol. Tog, as jy nie te veel skep nie, kan jy dit dalk as jou een keer per week kroek gebruik. 😉

Voor jy begin moet jy jou potte steriliseer. Haal die deksels af en sit dit in die oond by 100ºC. Jy kan dit blykbaar ook in die mikrogolf doen, maar ek weet nie hoe nie.

1 kg ryp geelperskes, in stukke gesny.

½ kg uie, fyngekap (Ek maak dit nie so erg fyn nie)

1 en half koppie druiwe asyn

4 lourierblare

10 heel naeltjies

1 E kerriepoeier (oppas vir te veel)

¾ k suiker

½ eetlepel sout

1 eetlepel Maizena (Mielieblom)

½ tl fyn koljander

1 ml rooipeper

½ eetlepel speserye vir suurtjies

20150116_095410[1]Skil die perskes en sny in groterige stukke.

Skil die uie en sny dit fyn.

Verhit die asyn tot kookpunt en voeg die perskes en uie by sodra dit kook. Laat dit weer kook.

Voeg die lourierblare en naeltjies by.

Meng die droë bestanddele met ‘n bietjie van die warm asyn dat dit glad is. Voeg dit ook by.

Laat kook dit net tot die uie en perskes sag is. Moenie dit laat pap kook nie.

Dan moet jy die blare en die naeltjies verwyder.

20150116_103724[1]

Bottel dit terwyl dit nog warm is. Draai dadelik die deksels op. Metaaldeksels sal roes, so jy kan dalk eers ‘n stukkie Glad Wrap oor die potjie sit net voor jy die deksel opdraai. Dis baie belangrik dat jy die pot TOT HEEL BO VUL en die deksel BAIE DIG opdraai sodat daar nie lug kan inkom nie. Die prop suig dan vas as die atjar koud word.

Dit hou baie lank en is heerlik saam met braaivleis.

Lekker eet!

Groete

Toorts

Vir nog inlêresepte, kyk hier. Kliek net op die blou “hier”

Advertisements

About Toortsie

'n Flitsliggie wat oral inskyn, ook waar dit soms ongemaklik is... A Toortsie is a small flashlight, like a torch.
This entry was posted in Kosdinge. Bookmark the permalink.

13 Responses to Toorts se Toeka-Tokkel: Geskenke

  1. Ooo, jy is ‘n flukse vrou!

    Like

  2. Lyk darem baie lekker Dankie vir die deel!

    Like

    • Toortsie sê:

      Dit werk vir my. Dis net baie maklik as hier skielik gaste kom, of as my man moet gaan “uit werk”. Hy neem sommer altyd vleis saam vir braai en so ‘n pot ingelegde slaai werk net die maklikste. En ja, dit is nogals lekker.

      Liked by 1 person

  3. scrapydo sê:

    Dankie vir die geskenke deelname. Sal dit by volgende week se een byvoeg. Dit is soos jy se, die geldwaarde is nie belangrik nie. Dis darem n groot geskenk om deur Deere oorsee te kon gaan. Vars groente en vrugte is ook lekker geskenke. Ek deel op oomblik groente uit vit n vale, boontjies en alle kleure, grootte pampoentjies, wortels, slaai en moenie heerlike vars uie weggooi nie. Gaan volgende week die vars produkte mis.

    Like

  4. Kameel sê:

    Daardie perskes het my aan plaastyd laat dink. Hulle word netso geeët…… die inlê van perskes was my ouma se probleem. Julle Spreuke vroue laat my my kop in skaamte sak.

    Like

    • Toortsie sê:

      Asof JY van Speukevroue kan praat, jy wie self een is!
      Weet jy, ek sit die inlêresepte hier in omdat dit lyk of hier regtig ‘n behoefte aan so iets is. Die mense het mos nie meer die Kook en Geniet soos in die ou dae nie.

      Liked by 1 person

  5. Spokie sny spoor sê:

    Ai, julle boeremense het darm die lekkerste boere-resepte. DAnkie.

    Like

  6. mtn sê:

    Lus het ek nou vir perskes! Dankie!

    Liked by 1 person

  7. Terug pieng: Toeka-Tokkel 5 : Sport en volgende 5 onderwerpe | scrapydotwo

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s