Geld

Ek is die LAASTE een om oor beleggings te praat, en julle MOENIE luister as ek beleggingsraad gee nie.

Tog het ek in ‘n huis grootgeword wat klem gelê is op “spaar”. Ons het almal ‘n spaarboekie by die bank gehad en ‘n spaarblikkie in my pa se lessenaar se kas, waarvan net hy die sleutel gehad het. Soms, ná ‘n goeie jaar het hy vir elkeen van ons kinders ‘n paar rand belê. Sy woorde was: “My kind, ek kan vanjaar vir jou ‘n paar rand gee, ek weet nie of ek dit ooit weer sal kan doen nie.” Geld was in ons huis ‘n kommoditeit waarmee nie gemors is nie. Ons kon koop wat nodig is, maar NOOIT aanvaar dat ons dit altyd sal hê nie. My niggie haal my pa nou die dag aan: “Hy het altyd gesê geld is net vir ons geleen. Dit moet met respek behandel word.

As ek die radio so luister, klink dit my die aandele val en val en val. Daar’s bloed in die strate. Of verstaan ek verkeerd? Dis die tyd wanneer sekere beleggers paniekerig raak, terwyl ander ‘n koopgeleentheid sien aankom. Mens koop mos nie iets as dit duur is nie? Dis mos beter om te koop as dit ‘n winskopie is. Of hoe?

Ek lees tans Jannie Mouton se boek, “en toe fire hulle my”.  Insiggewend. Soms ‘n bietjie bo my vuurmaakplek, maar tog het dit so baie te leer. Hy beklemtoon wat my raadgewers al die jare sê: “It’s not about TIMING the market, but TIME IN the market.” Hy gaan selfs so ver en sê dat ‘n kind nie ‘n gap-jaar moet doen nie, eerder vroeër begin verdien en belê, sodat daardie geld kan vermeerder en die persoon dan op ‘n later stadium in sy lewe die vrugte daarvan pluk en lekker dinge kan doen. Begin VROEG spaar.

Ek glo steeds aan die 10e reël (wat hy nie hier noem nie). Een 10e vir die kerk, een 10e vir spaar vir die wis en die onwis, een 10e belê, en waaraan jy NOOIT raak nie, ook nie aan die dividende nie. Soos die ou man op die plaas jare gelede vir my gesê het: “Mevrou, mens slag nie jou lammerooie nie.

Hy sê ook, soos al die beleggingskenners dat geld in die mark (aandele) oor die lang tyd baie meer verdien as geld in die bank.  Dit klop inflasie.

My eenvoudige raad bly steeds: As jy NIE ‘n kenner is nie, dink aan een of ander betroubare fondsbestuurder wat jou geld in die mark hanteer. Deur middel van Effektetrusts, met ‘n klein maandelikse bedrag, kan jy maklik deel wees van die mark.

Jannie Mouton sê: “Langtermynbeleggings is soos om ‘n gelukkige gesin te hê – dit verg liefde oor ‘n leeftyd en nie spekulatiewe oonblikke nie. Nes een uitbarsting jou nie gaan ontstel nie, gaan ‘n enkele aandeel wat hik ook nie. Soos wat goeie vriende jou deur emosionele krisisse dra, dra goeie beleggings jou deur ekonomiese storms.” Mooi né? Sommer ‘n les vir die huwelik en vriendskap ook.

Toorts

10 thoughts on “Geld

  1. Ja, om te spaar bly die beste raad. Ons kon ook nie as kinders geld rondgooi, en dit het my geleer om alles mooi op te pas en agter jou geldjies te kyk. (Ons pastoriekinders moes maar leer om sonder geld klaar te kom)

    Like

  2. Met al die krediet wat mens so maklik kry,is dit skrikwekkend hoe jy geld kan uitgee wat jy nie het nie.Ek het ook grootgeword dat mens nie skuld maak nie.Ek het geen rekenings by winkels nie en koop nie as ek nie geld het nie.

    Like

  3. Dit is ‘n waar ding wat jy hier neerpen. Op gelukkies in beleggings kan mens nie staat maak nie.

    Ek het met die vroeg aftree slag ‘n paar rand uit die pakket geleen om die beurs te probeer. Met al die koop en verkoop vir ‘n jaar nou al het ek nog net een gelukkie gehad. Oor die jaar het ek 12.5% gegroei maar of ek my verdubbeling in 5 jaar gaan maak moet nog gesien word.

    Die professonele ouens kon in die tyd datem die pensioen kapitaal met 5,9% laat groei wat uitstekend is as jy ingedagte hou dat hulle my ‘n maandelikse pensioen uitbetaal.

    Het ook nog 2 van die ou polise wat my altesaam R30 per maand kos maar hulle groei is maar baie min

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!