met dapper en stapper

Mnr Eps Joubert was ons wiskunde onnie. Ons het al in die laerskool van hom geweet, hy was ‘n legende. By hom het jy wiskunde gedoen, goed wiskunde gedoen, of jy is gepos na die geskiedenisklas langsaan…

Hy het gedraf. Padwedlope gedoen. 😯 Dit was iets GROOTS vir ons kleine dorpie in daardie jare.  Hy het GROOT planne gehad… hier, aan die voet van Afrika, gaan ‘n marathon kom, die Voet van Afrika Marathon, en mense van oor die hele land gaan hier kom saam hardloop. Groot woorde vir iemand van so ‘n klein ou plattelandse dorpie.

Hy het ons laat draf, vrywillig natuurlik. So twee maal per week (dalk meer?), het ons mekaar 5 nm by die laerskoolhek gekry. Daar het hy ons ingewag met sy klein, blou Nissan bakkietjie. Dan het hy die roetes verduidelik: Dié wie 3 km wil hardloop, se pad loop só, as jy 5 km wil hardloop, moet jy weer hierdie pad volg, ens. Ek, met my swak sin vir rigting, het natuurlik al by die eerste hek verdwaal, en baie verder, óf baie korter gedraf as wat ek beplan het… Almal spring gelyk weg, en wanneer ons terugkom by die bakkie, het ons ons naam, tyd en afstand in sy swart boek neergeskryf. Die tyd was gemeet met so ‘n groot, wit wekker. 🙂

Sy droom het waar geword. Die Voet het een van die bekendes van die land geword, die 42km een van die moeilikstes… Dis ‘n erkende feit dat die ou wat die Comrades wen, nie noodwendig die Voet wen nie. Eps het dit die “wonder”-marathon genoem, jy wonder voortdurend wat volgende op die pad vir jou wag.

Dit hét ‘n groot wedloop geword, maar later jare die gevaar geloop om te stop. Genadiglik was daar mense wat besluit het om te veg vir die voortbestaan van die Voet, en tans is hy weer sterk besig om sy kop op te tel.  Die roetes van al 3 die wedlope (die 10km, 21 km en 42km) het oor jare verander, maar dit bly steeds ‘n wonderlike ervaring om deel te neem. ‘n Groot pretgeleentheid is natuurlik die Toontjie, oor 4 km, waar almal, honde inkluis, op die Vrydagaand deelneem.

Ekself het die 21 km 10 keer gedoen (sommige jare gedraf, ander gestap), oor ‘n baie baie lang tydperk, maar tans is ek op die “stap”-pad en doen net die 10 km.

‘n Vrou van Johannesburg haal my van agter af in, net om te vra of ek ‘n “local” is, glo omdat ek almal langs die pad ken. Sy sê: “You wil get very old!” 🙂

Nou ja, dis steeds pret om deel te wees van “The Toughest Race with the Warmest Heart.” 🙂

Toorts

8 thoughts on “met dapper en stapper

Gesels saam, asseblief!