Liewe oom Tim

Liewe oom Tim

Hoe gaan dit met oom? Met my gaan dit baie goed, dankie.

Ek wonder of oom weet dat oom my nuutste hero is? Weet oom dat ek nog nooit in my lewe so vinnig so ‘n groot verandering in my liggaam sien plaasvind het met enige ander gewigsverliesprogram soos wat ek nou met “banting” sien nie? Dankie oom! Dankie dat oom bereid was om oom se kop in die bynes in te steek. Sien oom, die ding is dat die goed waarmee ek nog altyd gekul het as ek op dieet is, MAG ek nou maar eet! Ek MAG nou maar elke oggend begin met gebakte eiers! En ek MAG die vet aan die tjoppie wat ek altyd so skelmpies geëet het, eet en ek mag dit nog geniet ook!! En WEET oom hoe verskriklik lief is ek vir hoendervel? Ek kon dit nog nooit regkry om die hoendervel weg te gooi nie, nou hoef ek tog nie meer nie! Room oor groente!

Sjoe oom, ek eet LEKKER! En ek voel goed! En my klere vertel ‘n storie van sy eie. En die beste van als, oom, is dat my bloedtoetse die beste in jare is. 🙂 My cholesterol is so laag, ek sal moet uitvind of ek nog nodig het om cholesterolpille te drink. Hoe’s daai? 🙂  My suiker is ook heeltemal normaal.

Ag oom, ek weet steeds nie van die rooiwyn nie. Sien, oom skryf in oom se boek dat ons mag droë wyn drink, maar weet oom, die glasie rooiwyn lyk regtig nie vir my nat nie! So, ek drink maar elke aand my glasie, en per geleentheid selfs twee. Sommige aande is ek steeds lus vir ‘n glasie brandewyn saam met my man met Coke Lite. Ek weet dis NEE, NEE’S, maar so af en toe enetjie. Dis nou so een maal ‘n week of twee.  En toe ek in Amerika is, het ek ‘n glas bier gedrink. (Weet oom dit was ‘n 500 ml glas?) Terloops oom, in Amerika het ek nou behoorlik ge”bant”. Ek het behoorlik weggelê in kaas en ham en bacon, en wors en eiers en salm… en gewig verloor! 🙂

My kind het gister getrou, oom. Oeee dit was lekker dat ek by die voorgeregte tog nie die ou broodjies en goedjies hoef te geëet het nie, maar wel die verskeidenheid kase kon beproef! Wie wil nou meer hê as dit? Die beeshaas (fillet) was HEERLIK en ek het nie eers die aartappelskywe gemis nie, die slaai daarmee saam was net te lekker. Maar ek moet bieg, oom, ek hét wel twee stukke vrugtekoek en twee van daardie fantastiese cherrie/sjokolade/brandewynballe geëet. Dit was verruklik! 🙂

Maar oom, eintlik dink ek oom kan regtig trots wees op my. Vanoggend het ek weer mooi begin met eiers en varkkaasworsies. Oeps! Ek het die tamatie vergeet!!

Dankie oom, en tatta hoor. Sê groete vir die tannie.

Liefde,

Toorts

Lekker dag 98

Soos voorheen, hierdie is my weergawe. Dit het nie ten doel om iemand te oortuig om Banting te doen nie. Ek aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige person wat dit doen nie. Ek sou aanbeveel dat jy eers jou dokter raadpleeg voor jy dit oorweeg.

16 thoughts on “Liewe oom Tim

  1. Eks bly dit werk vir jou. Oom Tim sal natuurlik nie daarvan hou dat jy ham en kaasworsies eet nie. Verwerkte vleis is nie op sy lysie van kos wat goed is vir jou nie. Vlgs hom. Ek het die eetstyl 2 jaar gelede gevolg, gewig verloor en tekorte ontwikkel met aaklige nagevolge. Ek het navorsing gedoen oor watter voedingstowwe slegs in sekere stysels voorkom en besef dat daar sekere vitamines is wat jy uitsny as jy sg lae koolhidraat dieet volg. Mens maak die fout om Voedselgroepe en Nutriente met mekaar te verwar. Proteiene en Koolhidrate is nie voedselgroepe nie, maar nutriente wat belangrike funksies vervul in mens se liggaam. Daar is sekere vitamines wat jou liggaam nodig het, wat slegs in graan voorkom.

    Liked by 1 person

  2. Jammer om te vra is jy ernstig (en dom) of spot jy fyn met Tim Noakes se dieet? Miskien moet jy bietjie gaan naslaan wat sê navorsing en laat weet, dokters en dieetkundiges en ander professioneles vra dit ook en sal dus ook belangstel.

    Like

  3. Ek is bly as oom Tim se program vir jou werk. Ek sien nog nie kans om van my broodjie en chippies ontslae te raak nie en het toe besluit om dit maar net minder te maak. Ek soek nog die permanente leefstyl wat vir my gaan werk sonder om tjoklits uit te skakel….

    Like

    1. My dokter beveel aan dat ‘n mens in die week dit voluit volg, en dan een dag van die week, die Sondag, mag jy “normaal” eet. Dan behou jy jou gewig. So ek sal dalk dit so begin doen as ek my doelgewig bereik het.

      Liked by 1 person

    1. Ek sal nog vertel van die Kentucky. Dit was ‘n oggendtroue en die foto’s is eers na die onthaal geneem. So die aand, toe die foto’s klaar is, was die paartjie honger, en so in bruidsgewaad en al het hulle toe Kentucky genader vir ‘n bietjie kos. 🙂

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!