Kyk, ek het oom Tim se boek mooi gelees, en as jy dit lees, is alles regtig logies. Dis vir hierdie vleisboer so ekstra maklik om sy dieet te volg. Om die waarheid te sê, is dit en elk geval amper hoe ons ons lewe lank eet! Ek moes net meer groente in my dieet insluit en stysel en suiker uitsny. Hoe moeilik kan dit nou wees? En soos ek sê, dis amper hoe ons al vir 50 jaar lank eet!
Nou wat verwar my dan eintlik?
Ek sal julle sê: Die negatiewes.
Weet julle, ek luister regtig ernstig as iemand my waarsku, want dalk praat die persoon die waarheid en moet ek eerder stop met hierdie ding.
Die probleem is egter dat daar nie konsensus is oor die negatiewe gevolge daarvan nie.
Almal bedoel dit só bitter goed. Almal gee vir my om, maar na wie moet ek dan nou luister?
Die een sê ‘n mens kan dit net volg as jy baie oefen saam met dit. Net die volgende een sê dat iemand wat baie oefen, dit beslis moet vermy.
Iemand waarsku my dat dit regtig gevaarlik is. Ek noem vir haar dat my suiker sowel as cholesterol afgekom het. Sy waarsku dat dit in die begin kan daal, maar dat dit net skielik sal begin styg. Dan sê sy, soos Tim, dat mens lewenslank daarmee moet aangaan as jy eers daarmee begin het. Hoekom?, vra ek. Want anders gaan jou cholesterol weer styg. So, moet ek, of moet ek nie?
Ek word gewaarsku oor my niere. Ja, mens word nogals baie dors.
So, ek vra vir die negatiewes baie mooi: Kry eers konsensus, want op die oomblik kry ek nie reg om julle te glo nie. Dalk is julle regtig reg, maar hoe sal ek dit weet?
Intussen Banting ek rustig voort, laat toets my bloed elke 6 maande, en voel goed.
Steeds probeer ek niemand oortuig om dit te doen nie. Ek aanvaar ook geen verantwoordelikheid vir enige persoon wat dit doen nie. Maak soos ek gemaak het: Gaan spreek eers jou dokter voor jy dit probeer.
En nee, ek is nie lus vir ‘n bekgeveg hieroor nie. Ek skryf net my eie ervarings hieroor neer.
Toorts
Etiket: Banting, LCHF
Liewe oom Tim
Liewe oom Tim
Hoe gaan dit met oom? Met my gaan dit baie goed, dankie.
Ek wonder of oom weet dat oom my nuutste hero is? Weet oom dat ek nog nooit in my lewe so vinnig so ‘n groot verandering in my liggaam sien plaasvind het met enige ander gewigsverliesprogram soos wat ek nou met “banting” sien nie? Dankie oom! Dankie dat oom bereid was om oom se kop in die bynes in te steek. Sien oom, die ding is dat die goed waarmee ek nog altyd gekul het as ek op dieet is, MAG ek nou maar eet! Ek MAG nou maar elke oggend begin met gebakte eiers! En ek MAG die vet aan die tjoppie wat ek altyd so skelmpies geëet het, eet en ek mag dit nog geniet ook!! En WEET oom hoe verskriklik lief is ek vir hoendervel? Ek kon dit nog nooit regkry om die hoendervel weg te gooi nie, nou hoef ek tog nie meer nie! Room oor groente!
Sjoe oom, ek eet LEKKER! En ek voel goed! En my klere vertel ‘n storie van sy eie. En die beste van als, oom, is dat my bloedtoetse die beste in jare is. 🙂 My cholesterol is so laag, ek sal moet uitvind of ek nog nodig het om cholesterolpille te drink. Hoe’s daai? 🙂 My suiker is ook heeltemal normaal.
Ag oom, ek weet steeds nie van die rooiwyn nie. Sien, oom skryf in oom se boek dat ons mag droë wyn drink, maar weet oom, die glasie rooiwyn lyk regtig nie vir my nat nie! So, ek drink maar elke aand my glasie, en per geleentheid selfs twee. Sommige aande is ek steeds lus vir ‘n glasie brandewyn saam met my man met Coke Lite. Ek weet dis NEE, NEE’S, maar so af en toe enetjie. Dis nou so een maal ‘n week of twee. En toe ek in Amerika is, het ek ‘n glas bier gedrink. (Weet oom dit was ‘n 500 ml glas?) Terloops oom, in Amerika het ek nou behoorlik ge”bant”. Ek het behoorlik weggelê in kaas en ham en bacon, en wors en eiers en salm… en gewig verloor! 🙂
My kind het gister getrou, oom. Oeee dit was lekker dat ek by die voorgeregte tog nie die ou broodjies en goedjies hoef te geëet het nie, maar wel die verskeidenheid kase kon beproef! Wie wil nou meer hê as dit? Die beeshaas (fillet) was HEERLIK en ek het nie eers die aartappelskywe gemis nie, die slaai daarmee saam was net te lekker. Maar ek moet bieg, oom, ek hét wel twee stukke vrugtekoek en twee van daardie fantastiese cherrie/sjokolade/brandewynballe geëet. Dit was verruklik! 🙂
Maar oom, eintlik dink ek oom kan regtig trots wees op my. Vanoggend het ek weer mooi begin met eiers en varkkaasworsies. Oeps! Ek het die tamatie vergeet!!
Dankie oom, en tatta hoor. Sê groete vir die tannie.
Liefde,
Toorts
Lekker dag 98
Soos voorheen, hierdie is my weergawe. Dit het nie ten doel om iemand te oortuig om Banting te doen nie. Ek aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige person wat dit doen nie. Ek sou aanbeveel dat jy eers jou dokter raadpleeg voor jy dit oorweeg.
Met Tim op toer…
Met Tim op toer…
Ons was bevoorreg om deur een van ons verskaffers oorsee genooi te wees om hulle fabrieke te kon besoek. Dit was ‘n groep van 50 mense.
Wonderlik! Maar wat nou van my nuwe dieet? Gaan ek regtig so laf wees om met dieet te wees op ‘n toer waar drie ongelooflike maaltye daagliks voorgesit word, met net die beste? Wat van die harde werk wat ek vooraf gedoen het? Is dit nou sommer in die water gegooi?
Dis moeilik met so iets as jy op toer is, veral as jy in ‘n groep is en beslis nie die aandag op jou etery wil vestig nie.
Genadiglik stuur die organiseerders al die
spyskaarte vooruit en ek sien dat daar regtig geen rede is om tou op te gooi nie, elke ete is heel geskik vir ‘banting’. In elk geval het ek mos besluit dat dit ‘n leefwyse moet word, eerder as ‘n dieet.
Nou, ná die tyd kan ek eerlik sê dat ek dit so ver as moontlik volgehou het deur steeds alle gebak, rys, chips, aartappels, pasta en poedings nie te eet nie. Ja, in Duitsland het ek wel ‘n groot glas bier gedrink. Een dag het ek en my vriendin cocktails geniet, wat my die volgende dag laat lus kry het vir soetgoed.
Waar eetplekke dit toegelaat het, kon ek vra dat chips, rys of aartappels vervang word met slaai. Soms was dit nie toelaatbaar nie en dan het ek eenvoudig die stysel uitgelos,
en beslis nie honger gely nie.
Waar ek beslis oortree het, was met die hoeveelhede. Ons het BAIE geëet, beslis baie meer as by die huis. Drie groot etes per dag. Die ontbyt is sommer met ‘n kaasbord begin, gevolg deur salami, ham, aarbeie en room, met gebakte eiers of omelet om die ete mee af te sluit!
Wat gemaak as jy nie etes ingesluit kry nie maar van wegneemetes moet leef? Ook dit is uitvoerbaar, het ons die dae wat ons vir onsself moes sorg, gesien. ‘n Hamburger met dubbele patties kan sonder die broodjies bestel word met slaai. Mc Donalds se een pattie is ook voldoende, maar sit die broodjie eenkant. ‘n Worsrolletjie waarvan net die worsie geëet is, was ook heeltemal genoeg.
Dan is daar nog ook bv. ‘n hoenderslaai wat mens kan bestel. Tussenin eet raak mos met ‘banting’ ‘n rariteit, maar ‘n amandel hier en daar het goed gewerk.
Wat sê die skaal aan die einde van ‘n ryk en romerige toer? … Ek wonder of jul my gaan glo?
Soos in my vorige skrywes oor banting, aanvaar ek geen verantwoordelikheik vir enige persoon wat dit doen nie. Ek skryf hier my eie ervarings neer. Ek weet steeds nie of dit gesond is nie en raai almal wat dit wil doen aan om eers hul geneesheer te raadpleeg. Wat ek wel weet, is dat dit vir my werk. Ekself sal binnekort my bloed laat toets om seker te maak dat ek nie besig is om groot moeilikheid te veroorsaak nie.
Groete, Toorts
Heerlike dag 95
Kopskuif
Om oornag te verander vanaf ‘n Hoë Koolhidraat, Lae Vet dieet na ‘n Hoë Vet, Lae Koolhidraat dieet is geen grap nie. Dis soos om van ‘n totaal westerse land te verhuis na ‘n totaal oosterse land, soos om jou geloof te verander.
Toe Tim Noakes die eerste keer bekend gemaak het dat sy siening oor eet verander het, het my man my dadelik daarvan vertel. Ons sien sulke dinge raak, ons is immers VLEISboere! Ons eet Vleis. Darem nie soos in sekere dele van die land waar hulle drie maal per dag vleis eet nie, maar ons eet rooivleis en baie daarvan. Rooivleis MET vet aan.
Toe manlief my daarvan vertel het ek net my kop geskud. Nee. My bloedgroep sê ek moet eerder BROOD eet, wat ek doen. Sien, eintlik eet ons die graagste sommer vleis en brood, of rys en vleis en aartappels. Dis hoe die boeremense eet! Groente is ‘n bysaak, dis te sê as ons onthou om dit te koop en voor te sit. Behalwe dat my bloedgroep eerder koolhidrate voorskryf, het ek nog ‘n soettand ook en is ek mos darem oor baie jare onderrig deur Weigh Less en Weight Watchers – sny die vleis, eet die groente, en veral by Weight Watchers het koolhidrate baie minder getel as die vette. Los die kaas! 😦 … Selfs die voedseldriehoek sê dat ons eerder meer koolhidrate moet eet.
Maar ek HOOR wat die mense sê. Suiker is GIF. Maar my maerwordprogramme WERK! Ek verloor MAKLIK ‘n klomp gewig… en tel dit net so vinnig weer op! 😦 Geen mens kan lewenslank kos afweeg nie!, of met ‘n lysie loop en neerskryf wat jy eet nie!
Iemand op die dorp verkoop een of ander program, wat ook op hoë proteïn geskoei is, maar saam daarmee moet mens dan produkte by haar koop. NEE. ‘n Besliste NEE. Ek soek iets wat ek LEWENSLANK mee kan volhou, sonder poeiertjies en pille. Maar sy laat my tog dink: Ons eet dan so graag vleis! En eiers…
Wel, Tim Noakes beklemtoon dat dit NIE ‘n hoë proteïendieet is nie, jy haal slegs alle koolhidrate en suiker uit jou dieet. En jy eet DIEREproteïen, met VET aan. Geen laevetprodukte nie. Kaas. 🙂 Maar saam met elke ete eet jy GROENTE. Oeps. En dis ook nie ‘n ooreetbesigheid nie. ‘n Goeie porsie vleis is so groot en dik soos die palm van jou hand, sonder die vingers.
Nou ja, koolhidraatvry in hierdie huis… geen meel (of minimaal meel)… geen suiker… geen brood… geen konfyt… … … ek mag weer BAIE eiers eet! 🙂 … en Avokado’s … en die lekker stukkie vet aan die vleis… en KAAS…
Ek leer nog!
Groete
vleistoorts
lekkereetdag 87
Disclaimer: Ek doen hierdie dieet op eie risiko. Dis beslis nie ‘n dieet wat ALMAL sommer goedsmoeds kan doen nie. Ek aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige iemand wat hierdie lees en besluit om dit ook te doen nie. Dis jou EIE keuse en ek sou jou aanraai om eers jou dokter daaroor te spreek en ‘n verantwoordelike keuse te maak.
Toortsie se Bantingboerekosfaceboekblad.
Bestel Toortsie se Bantingboerekos HIER.