Die papierwerke

Tydens ‘n besoek aan Australië jare gelede, waar ek baie met Suid-Afrikaners te doen gekry het wat daar woon, het ek rillerverhale gehoor. Verhale van Suid-Afrikaners wat ge-emigreer het terwyl hul papierwerke nie 100% reg was nie en op die ou end jare se probleme gehad het en gedeporteer is.

Ekself het dit aan my lyf gevoel toe ons ‘n visum vir ons minderjarige dogter wou uitneem. Op die lys van benodigdhede het gestaan: “unabridge birth certificate”. Wat vir ‘n ding is dit? Nee, die gewone geboortesertifikaat wat ons saamgestuur het met die aansoek, was nie voldoende nie, die ouers se besonderhede moet ook daarop wees. Genadiglik kon ons dit in rekordtyd met eksterne hulp regkry, anders moes sy agterbly. Dit het my geleer: Gee hulle wat hulle vra, hoe belaglik dit selfs soms voel. Gee vir hulle selfs meer bewyse as dit sou nodig wees, net om jouself baie moeite te bespaar. Hulle het die hef in die hand.

Op Dubai se lughawe kom vertel ‘n man vir my sy hartseer storie. Hy sit toe alreeds 4 dae op Dubai se lughawe. Hul het jare gelede ge-emigreer na Australië. Ná ‘n paar jaar word hy in sy werk verskuif, en skielik ontdek hulle dat daar fout is met sy papierwerke. Hul moes die land onmiddellik verlaat. Toe is hul na Nieu Zeeland en tans iewers in die Ooste. Hyself het op Dubai vasgesit omdat hy terug is SA toe om sy erfporsie te gaan ontvang, ook met ‘n stertjie aan. Hy vertrek vroeër uit SA en DIS waar die probleme toe begin… Toe ek hom raakloop, was hy op pad terug na SA. Is hy net ‘n persoon met wie ongelukkige dinge gebeur? Of lê die probleem dalk by papierwerk? Ek weet nie. Soms doen mens alles reg en dan kom daar tog steeds ‘n fout. Ek weet, dit gebeur ook met my!

Al wat ek wel wil sê: Jy kan nie na ‘n ander land gaan, hetsy toer of emigreer, as jou papierwerk nie 100% afgehandel is terwyl jy nog in jou eie land is nie. Moenie dink jy gaan dit daar anderkant kan regstel nie. Nee. Dáár is die probleem net soveel keer groter en kan dit jou baie duur te staan kom.

Daar is genoeg ander dinge wat kan skeef loop!

Lekker toer!

Toorts

Lekker dag 85

11 thoughts on “Die papierwerke

  1. Dit klink vir my veiliger om by die huis te bly. Het ‘n tv program gesien van hoeveel mense op lughawens land, en dan nie toegelaat word om verder te gaan nie.

    Like

      1. Ek het probeer dink of dit gevaarlik in die bed is… maar besluit dit is die lekkerste plek 😉 Hoekom dink jy ‘n bed is gevaarlik?

        Like

  2. Moenie praat van paperwerk nie! Het dit self beleef toe my aansoek om permanente verblyf hierdie kant nie afgehandel was of goedgekeur was voor my besoekers visum verval het. Moes terug SA toe en kon nie retoerkaartjie kry nie want ek was nie veronderstel om terug te kom voor dit nie reg was nie! Aangekom in SA die Sondag en die Maandag laat my seun weet ek moet dadelik my paspoort terugstuur want my verblyf is goedgekeur! Al die onkost was verniet. Kannie vir my se dat hul nie geweet het dis reg die week voor ek vertrek en navraag gedoen het nie. Was tot by minister van immigrasie om te hoor of daar nie iets aan gedoen kan word nie. Het meer as n jaar gevat om afgehandel te word

    Like

Gesels saam, asseblief!