My eie kamer

Anders as Maankind, het ek, as enigste dogter in ‘n groot plaashuis, my lewe lank die voorreg van ‘n eie kamer gehad. Eie aan my persoonlikheid, en daarmee saam ‘n streep bediendes, was my kamer maar geneig om erg deurmekaar te wees. Die kamer was dalk netjies, maar die speelgoedkas….. 😯 Ek dink tog ek het later ‘n bietjie “bygekom”… in die koshuis is ons kamers en kaste elke oggend geinspekteer. Soms moes ek wel my kamer by die see afgee, want daar was ‘n dubbelbed in. Dan het ek sommer op die sitkamerbank geslaap, want ek was te bang om in die buitekamer, wat eintlik die gastekamer was, te gaan slaap. Terloops, “bangwees” is een van die eienskappe van ‘n nr 7.  Interessant as jy daaraan dink dat ‘n nr 7 ook avontuurlustig is.

Toe trou ek en word ‘n mamma… van ‘n tweeling. En DIT maak dinge van die begin af anders. Op ‘n gewone dubbelbed is daar net SOVEEL plek. As ‘n pa sy regmatige plek in die bed opeis, en twee klein woelwaters wil ook lêplek hê, en NIE by die voete nie, is daar regtig nie plek vir die ma ook nie. So my kinders is vroeg-vroeg geleer: Pappa en mamma slaap bymekaar, en die boeties slaap in een kamer. Ek het hulle toe hulle klein was, saam op ‘n ¾ bed laat slaap. As dit dan wel nodig was, het ek by hulle gaan lê in hulle kamer. Ek het ook in hulle kamer en die hele res van die huis met hulle en hulle speelgoed gespeel. Middae 5 uur was “mammatyd”, dan het ek in hulle kamer met hulle gaan speel en speel en speel, of ons het buite gaan speel.

Maar MY kamer mag nie vol speelgoed gelê het nie. Ook nie my badkamer nie. Genadiglik het ons later ‘n tweede badkamer gehad, en ek kon saans, nadat ek heeldag met almal en hulle dinge besig was, SALIG gaan bad, op my eie. Ag, dit was laterjare. Want kleintyd was ons almal saam in die bad,… ek, die kinders en al die speelgoed… 😉

My kamer was my plek waar ek net ‘n bietjie privaatheid kon kry, al was dit dan ook net saans wanneer die kleinspan geslaap het, en ek dit met my man gedeel het, maar dit was MY kamer. ‘n Voorreg, maar MYNE.

Groete

Toorts

Ns. Ek weet dat Seegogga, wat sielkunde studeer het, aanbeveel dat kinders eerder by hulle ouers in die kamer en bed moet slaap. Ek respekteer dit. Persoonlik voel ek net dat, veral in vandag se tye wat huwelike alreeds onder soveel druk is, dit selfs meer nodig is dat die kindjie maar eerder in sy eie kamer moet slaap. Sit ‘n enkelbed daarin, en sou dit nodig wees, staan dan eerder in die nag op en gaan slaap by die baba. Hou jou bed vir jou en jou man, en hou jou huwelik heel. Dis my raad. Jy’s welkom om te verskil.  Onthou, as die huwelik stukkend is, kry daardie kindjie baie seerder as om alleen in haar eie kamer te slaap.

6 thoughts on “My eie kamer

  1. Met my man wat skofte gewerk het was die kinders lief om by my te kom inklim. So halfpad deur die nag het ek hulle terug gedra kamer toe…… Ons dubbelbed was die lekkerste kuierplek 🙂

    Like

  2. My kinders het sommer klein klein al in hulle eie kamers geslaap. Ek sien regtig nie skade nie. Die oudstes het die vroeë voorreg van ‘n eie kamer gehad, die jongeres het weer die voorreg gehad as tieners om ‘n eie kamer te kon hê. Die kamer was nogal ‘n gewilde kuierplek, daarom was dit om die beurt al die slaapkamers. Stories gelees, gespeel, gebid. Elke kamer het ‘n beurt gekry.

    Like

  3. hallo daar toorts,

    ai dis lekker om weer bietjie hier tussen julle te kom snuffel!!!

    ek stem 100% saam met jou, ek het vir klonkie ook so groot gemaak hy was van babatyd af in sy eie kamer, en ek weet in my hart dat al het van my familie my daaroor effe skeef aangekyk, hulle vandag seer sekerlik spyt is dat hulle dit nie ook gedoen het nie, want ek het ‘n rotsvaste huwelik en my klonkie kind weet waar sy grense is, en hy is ‘n selfstandige mannetjie wat enige moeder se hart trots sal laat klop

    ek gaan gou loer wat die nommer 7 is want smaak my ek het baie uitgemis terwyl ek nie hier rond was om al die kennis en lekker kuier op te slurp nie, anyway ek terug en nou ga ek weer lekker kuier hier tussen my blog familie

    Like

  4. en nog een ding wat ek vergeet het om te noem is dat ek toe ek nog kinners was so gedroom en wens het vir ‘n eie kamer dat ek dit vir my kids klonkie sowel as die pragtige leen dogters gegun het. ‘n eie plekkie is vir my vreeslik belangrik………………..

    Like

Gesels saam, asseblief!