Mameel? Sameel? Wát het die voëltjie gesê?
Die woud-dogtertjies op die dogtertjie-eiland, Senamé, se dae verloop heeltemal anders as dié van die dogtertjies wat by die see bly. Hulle bly maar bedags in die woud, waar hulle maatjies die eekhorinkies, apies en ander diere is. Hulle het sulke lang swaaie wat hulle hoog in die bome se takke vasmaak. Daarmee swaai hulle hoog, hoog, hoog! Hulle het ook sommer net toue wat hang uit die bome waarmee hulle swaai van die een boom na die ander. Dis tog te lekker!
Hulle swem ook nie eintlik in die see nie, maar dis vir hulle héérlik om in die poeletjie, daar by die waterval, te swem. Partykeer vat hulle sulke plat klippe dan gooi hulle dit so dat dit so wip…wip….wip op die water, sonder dat dit insink.
As hulle moeg is, gaan lê hulle op ‘n tak, en kyk hoe die son sulke patroontjies maak deur die blaredak van die woud, en voor hulle hulle kom kry, is hulle vas aan die slaap…
In die woude is die mooiste, mooiste voëls waaraan jy kan dink. Grotes, kleintjies, party het lang bene, ander groot, plat pote. Party van hulle vlieg tot hoog in die bome waar hulle neste is, maar sommige van die woud-voëls kan glad nie vlieg nie, hulle loop net. Party se pote het webbe waarmee hulle lekker kan swem. Party wip-wip-wip so. Maar die mooiste van alles is hulle kleure! Sjoe, dis mooi! Blou, en groen, en rooi, oranje, geel, noem maar op! En hulle maak die interessantste geluide as hulle met mekaar praat. En weet julle wat? Dis juis met hierdie gepratery van die voëls wat Annemie iets GROOTS gehoor het. Sien, sý kan verstáán wat die voëls praat! En weet julle wat is die GROOT NUUS wat die voëls onder mekaar vertel?
Die blou voël op die grond het by die groen voël bo in die boom gehoor, dat hy by die seemeeu gehoor het, wat dit weer by die pikkewyne gehoor het, wat dit by ‘n ánder voël van ‘n baie ver land gehoor het… dat… daar by die prinses se partytjie glo ‘n vreemde dier gaan wees! ‘n Mameel Wameel Sameel Vameel Gameel Jameel…. Hoe nou weer?
Hóé lýk so ‘n meel-dier? En hoe op aarde gaan hy hier kom, hier by hulle Senamé eiland?
Sjoe! Sy kan nie wág nie!
(toorts)
As jy bedoel ‘n KAMEEL….. weet net hierdie pakdier se maag maak vreemde draaie!!! Sy hoor mense van vêr lande gaan by die partytjie wees….. en sy sal oor hulle moet skryf 😯
LikeLike
Vrek oulik!
LikeLike