Kameel se sewe skandes

Die dag toe die kameel besluit het om na prinses Senamé se partytjie te gaan, was daar gróót opgewondenheid in die land waar sy woon. Al die diere het die storie vir mekaar vertel. Die donkies het op en af gespring, so bly was hulle. Die olifante het trompetter, die honde het geblaf, die hiënas het gelag, die jakkalse het gedans, want hulle het geweet dat die kameel net die regte een is om te gaan. Sy is baie lief vir dogtertjies en ken baie speletjies wat sy met hulle kan speel.

Die mossies het bly met mekaar gekwetter en het later gesê dis omtrent sewe speletjies wat die kameel kan speel. Die hadidas het dit behoorlik uitgeskreeu. Die swaeltjies het met die blye nuus ver gevlieg, waar die pikkewyne dit gehoor het.

Die pikkewyne kon nie meer lekker onthou wat die sewe goed is wat die kameel het nie. Dit begin met ‘n s. Skoene? … slange? … skulpe? … nee wag! Skandes! Dis sewe skandes wat die kameel het! Hulle was só opgewonde hieroor dat hulle dit dadelik vir die seemeeue vertel het. Húlle het dit opgewonde vir die groen voëltjies bo in die boom vertel. Hulle kon dit net nie lekker verstaan nie, skande is mos ‘n lelike ding? Hoekom sal prinses Senamé ‘n skandelike kameel hiernatoe nooi?

Hulle het toe vir die blou voëltjie op die grond gevra, want hulle weet dat die blou voëltjie die regte antwoord sal hê. Hulle sê hy is wys. Die blou voëltjie het gesê sy dink nie dit sal te lelik wees nie, hulle moet eerder wag en kyk as die kameel opdaag. Dalk is die storie nie heeltemal reg nie. Dalk is dit sewe ander goed wat die kameel het, dalk sewe mooi goed. Hulle moenie hulle te veel daaroor bekommer nie. Prinses Senamé sal mos nooit ‘n skandelike kameel na die eiland toe nooi nie!

Wat sý weer oor wonder, is, hoe sal die kameel in elk geval hier kom? Het ‘n kameel dan vlerke?

Dís waar Annemie die storie gehoor het!

Maar hóé sal die kameel hier kom? Sal sy moet swem? Dis bitter ver? Sal sy dalk op ‘n walvis se rug sit? Of sal ‘n baie groot voël haar in sy kloue vashou? Hoe sal sy hier kom? Sal sy régtig kom?

Toortsie

Na aanleiding van Spokie Sny Spoor se kommentaar hieronder, wil ek net sê dat hierdie storietjie deel is van ‘n lang storie.

  1. Senamé
  2. Coroli
  3. Wameel?
  4. Senamé se partytjie (Kameel het dit geskryf)
  5. Annemie
  6. Kameel se sewe skandes

Annemie

Annemie is ‘n wouddogtertjie wat op die dogtertjie-eiland, Senamé woon.

Annemie is ‘n pragtige wouddogtertjie. Sy het lang, donkerbruin hare wat tot in die waaie van haar bene hang. Haar ogies is groen, net so groen soos die varings wat onder die bome groei. Sy het baie dogtertjiemaatjies, maar haar eintlike maatjies, saam met wie sy die graagste speel, is die eekhoringkies en apies. Sy is veral lief daarvoor om sommer net in die waai van ‘n boom te lê en luister na al die woudgeluide.

Annemie se oortjies is effens kleiner as die ander wouddogtertjies s’n, en vroeër het die ander dogtertjies soms vir haar “Oortjies” genoem. Dan was sy baie hartsteer. Annemie het saam met daardie spesiale oortjies ‘n spesiale gawe gekry! Sy kan sowaar verstaan wat die voëltjies praat! En dís die rede hoekom sy soveel keer sommer net doodstil sit en luister, want sy is mal oor die voëltjies se stories.

Een dag het sy mos so sit en luister, toe hoor sy die vreemdste storie. Dit was ‘n rukkie voor prinses Senamé se verjaarsdagpartytjie. Daar sou ‘n vreemde meeldier na die partytjie kom! ‘n Mameel … of Jameel … of Lameel … Sameel … Nameel … hoe nou weer? Sy is doodseker sy het reg gehoor, maar hóé noem ‘n mens daardie dier?  Die blou voël op die grond het by die groen voël bo in die boom gehoor, wat dit by die seemeeu gehoor het, wat dit weer by die pikkewyne gehoor het, wat dit by ‘n ánder voël van ‘n baie ver land gehoor het dat daar so ‘n dier gaan kom na die partytjie. Sy was só bang om dit vir die ander wouddogtertjies te sê omdat hulle dan weer met haar sou spot oor die snaakste stories wat sy kamtig altyd by die voëls hoor. Tog is sy doodseker dat sy reg gehoor het, as sy net die naam van die meeldier kan onthou!

Sy was sowaar reg! Daar was sowáár ‘n meeldier by prinses Senamé se partytjie! ‘n Ma- ma- ma- k- ke- ka- KAMEEL! Ja! ‘n Vriendelike kameel! Ek sal nog vertel wat die kameel alles saam met die dogtertjies gedoen het. Dit was net ‘n ekstra-spesiale partytjie net omdat die kameel daar was!

Nou spot die ander woudmaatjies natuurlik glad nie meer vir Annemie met die klein oortjies en die snaakse voëlstories nie! Hulle glo haar en wil tog te graag hoor wat sy alles te vertelle het.

Tatta!

Toortsie

Toeka Tokkel oor Kinderstories

In opdrag van Scrapydo. Sy sê die opdrag is glo spesiaal vir my. 🙂

Ek is lief vir kinderstories. Ek het grootgeword met Rooikappie, die drie beertjies, Hansie en Grietjie, Aspoestertjie, al daardie Europese stories. ‘n Hele paar jaar terug was daar ‘n hele polemiek oor kinderstories, veral hierdie wat ek nou opgenoem het. Dis blykbaar wreed. Die wolf vreet die ouma op en die bere wil vir Goue Lokkies iets aandoen. Ek was natuurlik heeltemal te dom om dit te besef! Wat wel baie waar is, is dat daar lewenslesse verskuil lê in hierdie stories. Ek sal nou nog vir my dogter sê, “Pas op vir die wolf” dan weet sy presies wat ek bedoel. Toe ons in Europa was het ek ‘n intense behoefte gehad om in ‘n woud te gaan stap. Vir wie sou ek daar wou raakloop? Sneeuwitjie, dalk?

Kinderstories op TV of in ‘n fliek is vir my nét so lekker. Ek het met graagte saam met my kinders ‘n Walt Disney, gerig op kinders, gaan kyk. Ek is steeds mal oor Peter Pan, Madagascar, ag noem maar op. Of Mary Poppins, My fair lady en Sound of music as kinderstories tel, weet ek nie, maar ek en my kinders het dit maklik jaarliks uitgeneem om dit weer te kyk. Dan was daar die TV reekse oor Heidi en Pinoccio. Ek het die volledige reekse op video opgeneem en dis oor en oor en oor gekyk tot die video’s later gebreek het.

Watter kinderstorie is dit waaroor die vervaardigers glad nie gaande was nie?  Om alles te vererger, het die regisseur boonop gevra dat daar vir die weeshuis se kinders komplimentêre kaartjies gegee moes word en hierdie kinders moes verspreid oor die hele teater tussen die stywenek volwassenes geplaas word. Die kinders se gegiggel maak toe dat die volwassenes ook die vreugde en humor begin raaksien het. Ek dink dit was Annie. Anders as wat die vervaardigers voorspel het, was dit ‘n weghol sukses.

Ek was standerd 6 toe ons skool in die Hel gaan stap het. Een dag was my een been effens lam en ek moes mooi loop met hom. Om my aandag daarvan af te kry, vertel ek en my vriendin toe vir mekaar kinderstories. Die ander kinders het natuurlik gedink ons us heeltemal laf, tieners vertel nie kinderstories nie. Daardie dag het die stories my oor ‘n baie moeilike terrein gesleep!

Ek het graag kleintyd vir my kinders húlle storie vertel, waaroor hulle natuurlik mal was. Blykbaar is dit ekstra moeilik om kinderstories te skryf. Dis ‘n spesiale vaardigheid waaroor jy moet beskik. Ek het al ‘kinderstorietjies’ op my blog geskryf, maar ek vermoed dat dit nie heeltemal vir kinders bedoel is nie, dat kinders nie daarmee sal kan assosieer nie. Hulle was Senamé, Coroli en Wameel? Daar was ook ‘n trolstorie en sy opvolg,  maar dis meer vir grootmense.

Onthou om baie stories vir jou kinders te lees!

Toortsie

Wameel?

Mameel? Sameel? Wát het die voëltjie gesê?

Die woud-dogtertjies op die dogtertjie-eiland, Senamé, se dae verloop heeltemal anders as dié van die dogtertjies wat by die see bly. Hulle bly maar bedags in die woud, waar hulle maatjies die eekhorinkies, apies en ander diere is. Hulle het sulke lang swaaie wat hulle hoog in die bome se takke vasmaak. Daarmee swaai hulle hoog, hoog, hoog! Hulle het ook sommer net toue wat hang uit die bome waarmee hulle swaai van die een boom na die ander. Dis tog te lekker!

Hulle swem ook nie eintlik in die see nie, maar dis vir hulle héérlik om in die poeletjie, daar by die waterval, te swem. Partykeer vat hulle sulke plat klippe dan gooi hulle dit so dat dit so wip…wip….wip op die water, sonder dat dit insink.

As hulle moeg is, gaan lê hulle op ‘n tak, en kyk hoe die son sulke patroontjies maak deur die blaredak van die woud, en voor hulle hulle kom kry, is hulle vas aan die slaap…

In die woude is die mooiste, mooiste voëls waaraan jy kan dink. Grotes, kleintjies, party het lang bene, ander groot, plat pote. Party van hulle vlieg tot hoog in die bome waar hulle neste is, maar sommige van die woud-voëls kan glad nie vlieg nie, hulle loop net. Party se pote het webbe waarmee hulle lekker kan swem. Party wip-wip-wip so. Maar die mooiste van alles is hulle kleure! Sjoe, dis mooi! Blou, en groen, en rooi, oranje, geel, noem maar op!  En hulle maak die interessantste geluide as hulle met mekaar praat. En weet julle wat? Dis juis met hierdie gepratery van die voëls wat Annemie iets GROOTS gehoor het. Sien, sý kan verstáán wat die voëls praat! En weet julle wat is die GROOT NUUS wat die voëls onder mekaar vertel?

Die blou voël op die grond het by die groen voël bo in die boom gehoor, dat hy by die seemeeu gehoor het, wat dit weer by die pikkewyne gehoor het, wat dit by ‘n ánder voël van ‘n baie ver land gehoor het… dat… daar by die prinses se partytjie glo ‘n vreemde dier gaan wees! ‘n Mameel Wameel Sameel Vameel Gameel Jameel…. Hoe nou weer?

Hóé lýk so ‘n meel-dier? En hoe op aarde gaan hy hier kom, hier by hulle Senamé eiland?

Sjoe! Sy kan nie wág nie!

(toorts)

Coroli

Op die dogtertjie-eiland, Senamé, is ‘n groot bedrywigheid, want prinses Senamé verjaar binnekort en almal is besig met voorbereidings vir die partytjie. Kameel gaan loer wat daar gebeur, terwyl die stoute Seegogga  op en af spring van opwinding.

Maar Coroli se hartjie is baie seer. Sy het ‘n probleempie. Sien, dis haar hare. Al die dogtertjies op Senamé het sulke mooi, lang hare, hare wat tot onder hulle boude hang. Heel dag is hulle besig om hulle hare mooi te maak, dit te kam of te borsel totdat dit blink in die son. Soms maak hulle linte van palmblare en bind dit in hulle hare. Hulle kan hulle hare op die mooiste maniere vleg. Soms ryg hulle klein skulpies in hulle hare.

Maar sy? Nee. Haar hare krul vreeslik. Hoe meer sy dit probeer borsel, hoe meer staan dit in alle rigtings en kroes dit. Sy is MOEDELOOS! Sy het al ALLES probeer. As sy dit vleg terwyl dit nat is, maak dit net meer kartels. Soms bind sy dit styf om haar kop vas met seegras om te kyk of dit nie wil help nie, maar dit bly net krul en kroes. Soms sit sy dit tussen 2 warm klippe, maar niks gebeur nie. Sy wil so graag mooi lyk vir die prinses se verjaarsdagpartytjie, maar wat kan sy maak?

Vanoggend het sy sommer haar hare onder ‘n waterval gewas en net so gelos en glad nie geborsel nie. Daarná het sy op haar eie ‘n ent gaan stap, die woud in. Sy het sommer net met haar vingers so deur die hare gewoel.

Sy is so diep ingedagte dat sy nie die vreemde woud-dogtertjie sien nie en skrik haar boeglam toe sy die stem by haar hoor: “Hello, wat is jou naam? Sjoe jy het die mooiste hare. Ai, ek wens my hare kon so krul.” Coroli kan haar ore nie glo nie! Kan dit wees dat iemand van haar hare hou, so deurmekaar? “Dis só mooi”, sê die dogtertjie. Sy pluk ‘n blommetjie van ‘n boom af en kom steek dit bokant Coroli se oor in haar hare in.  “Kom, kom kyk hier in die poeletjie hoe mooi lyk dit.”

Coroli kyk en kyk en kyk. Sy kan haar oë nie glo nie. Want, ja, sy lyk regtig mooi, net soos sy gemaak is!! Sy hoef nie soos die ander te lyk nie.  Sy gaan dit altyd net so dra! 🙂

Toorts