Chris van Comono Eiland

Die wêreld verander teen ‘n vinnige spoed, ons kleinkinders word met ‘n selfoon en tablet in die hande groot. Hulle draai ‘n kraan oop, kry lopende water, sit ‘n skakelaar aan en daar is elektrisiteit. Sit ‘n TV aan en kyk ‘n storie. En dink selfs oumas is, soos Steve Hofmeyr oor spoke sing, so bietjie dom as ons nie so vinnig met die tegnologie is nie. Maar, daar is baie wat hulle nie weet nie, want ons oumas was ook kinders. En ons kan stories vertel … ‘n Bundel kinderstories uit die pen van die Goue Vroue. Kliek op hierdie skakel om die ander stories te lees.https://fresh.inlinkz.com/p/d9a4e9bae6aa4e179beee4acc3690247


……………………………………………………

Chris is ook een van die baie seuntjies wat op Comono Eiland, of Seuntjie-eiland woon, waar daar net seuntjies is. Waar hulle net heeldag speel en seuntjiedinge doen. Waar hulle oefen om s e e r o w e r s te word. Maar Chris is ietwat anders as die ander seuntjies. Hy het einlik ‘n klein probleempie waaraan hy niks kan doen nie, maar dit strem hom baie.

Jy sien, Chris is linkshandig! En op Seuntjie-eiland werk dit nie as jy linkshandig is nie. Kyk nou na swaardveg. Swaarde word gemaak vir regshandiges, want álle seuntjies is regshandig! Waar in die wêreld het jy nou al van ‘n linkshandige seuntjie gehoor? Wil hulle krieket speel, moet Chris verkeerdom staan. Dit gooi almal deurmekaar, want hulle word geleer om te boul vir iemand wat regshandig is. Probeer hy kitaar speel soos Anton, werk dit nie. Die kitaar is gemaak vir iemand wat regshandig is. Dit beteken dat hy met sy sterk hand die akkoorde moet druk, terwyl hy met sy swak hand die ritme moet doen en sy swak hand is stadiger as sy sterk, linkerhand. Hy kry net die die ritme reg nie. Probeer hy met ‘n sker knip, maak die sker hom seer, want die sker het ‘n skuins plek waardeur hy sy duim moet sit, dit wil net nie werk nie. ‘n Sker se lemme lê ook verkeerdom. Gelukkig skryf seuntjies mos nie eintlik nie, maar die skrywery wil ook nie werk nie. Want sien, sodra hy geskryf het, vee hy met die res van sy linkerhand oor die nat ink en is dit ‘n gemors. Dit is net áltyd ‘n gemors!

Die ding is, HY IS VERKEERDOM GEMAAK! En wíé wil nou regtig verkeerdom gemaak wees? Geen mens wil mos verkeerdom gemaak wees nie! Veral nie ‘n seuntjiemens nie!

Chris weet nie meer wát om te doen nie. Hy het al probeer om met sy regterhand swaard te veg, maar dit is selfs ‘n groter gemors as wanneer hy met sy linkerhand veg. Die swaard val sommer uit sy hand uit. Dis of hy geen koördinasie het as hy met sy linkerhand swaardveg nie. Hy het ook probeer om met sy regterhand te skryf sodat hy nie deur die ink vee nie, maar dit wil ook glad nie werk nie. Dan skryf hy so lelik, niemand kan lees wat hy skryf nie. Dalk moet hy sommer glad nie skryf nie. Met ‘n sker knip hy sommer glad nie.

Maar Chris is nie dom nie. Eintlik is hy glad nie onhandig nie! Want iemand wat linkshandig is, leer baie vinnig om by ‘n regshandige wêreld aan te pas. Hy het gou geleer dat dit vir hom beter is om die vurk in sy regterhand te hou as hy eet, want wat maak dit regtig saak dat hy dit nie in sy linkerhand hou nie? En hy verkies om die mes eerder in sy linkerhand te hou, dan kan hy die taai vleis makliker sny, want daardie hand is sterker. En hy het ook geleer dat hy maar die swaard in sy linkerhand kan hou, dat dit hom eintlik ‘n voorsprong gee, want sy opponente verwag nie ‘n linkshandige teenstander nie en dan verwar dit hulle.

Daar is natuurlik baie ander dinge wat hy goed kan doen en waar dit glad nie saakmaak of hy links of regs is nie. Dinge soos swem, alekreukels uithaal, seekat vang, hardloop, rugby speel. Ag, daar is nog baie ander dinge!

En Chris het geleer om sy verkeerdomheid, sy andersheid, nie as ‘n bedreiging te sien nie. Nie as ‘n nadeel te beskou nie. Hy het geleer om sy andersheid te omhels, om aan te pas in ‘n regsomwêreld, om sy sterkpunte te ontdek en ‘n mens in eie reg te wees.

Toortsie

Liewe maatjie, hierdie was die laaste van my stories van seuntjies wat op Seuntjie-Eiland woon. Baie keer voel ‘n ou seuntjie dalk nie so slim of sterk of mooi of vinnig of oulik of wat ookal soos ‘n ander seuntjie nie. Dalk voel ‘n seuntjie hy is dom. Of lomp. Of stadig.

Maar weet jy wat? God het elkeen van ons spesiaal gemaak met goeie eienskappe. God het ook vir jou spesiaal gemaak. Elkeen van ons het ietsie goeds in ons en die groot geheim is dat ons daardie ietsie goeds in onsself moet vind en dit nog beter maak. Ook jy is spesiaal. Ook jy het ietsie goeds in jou. En God is lief vir jou. Baie lief.

Gideon van Comono Eiland

Die wêreld verander teen ‘n vinnige spoed, ons kleinkinders word met ‘n selfoon en tablet in die hande groot. Hulle draai ‘n kraan oop, kry lopende water, sit ‘n skakelaar aan en daar is elektrisiteit. Sit ‘n TV aan en kyk ‘n storie. En dink selfs oumas is, soos Steve Hofmeyr oor spoke sing, so bietjie dom as ons nie so vinnig met die tegnologie is nie. Maar, daar is baie wat hulle nie weet nie, want ons oumas was ook kinders. En ons kan stories vertel … ‘n Bundel kinderstories uit die pen van die Goue Vroue. Kliek op hierdie skakel om die ander stories te lees.https://fresh.inlinkz.com/p/d9a4e9bae6aa4e179beee4acc3690247


……………………………………………………

Comono Eiland is mos die seuntjie-eiland, waar net seuntjies woon. Geen dogtertjies nie. Ook nie mammas en pappas nie. ‘n Eiland waar seuntjies net speel en seuntjiedinge doen, enige seuntjie se droom.

Op hierdie eiland is Gideon. Gideon is nie heeltemal so slim soos die ander seuntjies nie. Onthou, seuntjies is eintlik almal slim, want hulle moet planne kan maak. En as hulle dalk s e e r o w e r s word, moet hulle baie slim wees om die ander bote te kan uitoorlê. Seerowers moet slim wees.

Maar Gideon kan veg met ‘n swaard soos nie een van die ander seuntjies nie. Hy wen vir almal! Nie dat Gideon enigsins ‘n bakleierige seuntjie is nie, nee. Hy kan maar net goed veg met ‘n swaard en dit maak dat die seuntjies almal baie respek het vir hom, selfs al is hy nie heeltemal so slim soos hulle nie.

Wanneer hulle seerower-seerower speel en ander bote ‘aanval’, wil almal altyd hê dat Gideon moet saamspeel, want dan weet hulle dat hulle sal wen.

Tog, al is ou Gideon nie heeltemal so slim soos die ander nie en kan hy goed met ‘n swaard veg, het Gideon ‘n ander baie mooi eienskap. Iets wat gewone seuntjies nie sommer sal raaksien nie, want seuntjies is rof en seuntjies speel en is partykeer manman-vir-homself en ander kere eerder vir die span. En seuntjies hou van die sterker outjies wat goed kan bal skop en vinnig kan hardloop en sien nie altyd die sagter dinge in die lewe raak nie.

Gideon sal altyd uitkyk vir die eenkant-outjies. Daardie outjies wat nié so vinnig en so sterk is nie. Vir die stadige een wat dalk sukkel om die rotste uit te klim. Of wat agter raak as hulle ver hardloop. En dan sal Gideon by daardie seuntjies agterbly sodat hulle nie bang word of verdwaal of heeltemal agter raak nie. Of sodat hy hulle kan help wanneer hulle val, of as die rots te hoog is, hom druk of trek sodat hy ook die rots kan uitklim. En min seuntjies weet regtig daarvan, omdat hulle gewoonlik daar in die voorste bondel is en dit nie raaksien nie, en ook omdat die seuntjies wat nie so sterk is nie, partykeer maar skaam ook is en dit dan nie sommer oral sal vertel nie. En Gideon is ook nie een wat dit sommer sal uitbasuin nie. Dit is eintlik ‘n stille band tussen hom en die nie-so-sterk seuntjies waarvan net hulle weet.

En dan wonder ek, is Gideon nie dalk baie slimmer as al die ander seuntjies nie?

Toortsie

Anton van Comono Eiland

Die wêreld verander teen ‘n vinnige spoed, ons kleinkinders word met ‘n selfoon en tablet in die hande groot. Hulle draai ‘n kraan oop, kry lopende water, sit ‘n skakelaar aan en daar is elektrisiteit. Sit ‘n TV aan en kyk ‘n storie. En dink selfs oumas is, soos Steve Hofmeyr oor spoke sing, so bietjie dom as ons nie so vinnig met die tegnologie is nie. Maar, daar is baie wat hulle nie weet nie, want ons oumas was ook kinders. En ons kan stories vertel … ‘n Bundel kinderstories uit die pen van die Goue Vroue. Kliek op hierdie skakel om die ander stories te lees.https://fresh.inlinkz.com/p/d9a4e9bae6aa4e179beee4acc3690247


……………………………………………………

Anton is ook ‘n seuntjie wat op die seuntjie-eiland, Comono, woon waar daar net seuntjies is en glad nie dogtertjies nie. Ook nie eintlik pappas en mammas nie. Dit is ‘n eiland waar seuntjies net kan seuntjies wees, kan speel en baklei en maak net wat hulle wil, waar hulle eintlik oefen om s e e r o w e r s te word.

Anton het ‘n spesiale eienskap: Hy kan al die diere se geluide presies namaak. Die voëltjies maak hy die heel mooiste na. Wanneer hy dit doen, weet ‘n mens nie altyd of dit hy is en of dit ‘n voëltjie is nie. Baie keer antwoord die voëltjies hom as hy soos hulle fluit.

Anton hou nie daarvan om altyd rowwe seuntjiespeletjies te speel nie, wat veroorsaak dat hy soms geboelie word. En die ander seuns terg hom soms en noem vir hom lelike name. Dit maak hom hartseer, maar eintlik gee hy nie regtig om wat hulle van hom sê nie, want in sy hartjie is hy gelukkig. Hy kan homself vir ure besig hou deur na alle klanke in die natuur te luister en dit ná te maak.

Anton is musikaal. Hy sing ook mooi en kan kitaar speel, iets wat baie van die ander seuntjies hom beny. Party sal vir hom vra om vir hulle ook te leer.

Saans, wanneer dit stil raak op die eiland, wanneer die seuntjies almal om die vure sit en dink oor die dag wat verby is en wat hulle alles môre gaan doen, haal Anton sy kitaar uit en tokkel hy saggies daarop terwyl hy saamsing en party van die ander seuntjies ook begin saamsing. Dis dán wat baie van die seuntjies wonder of daar dalk ‘n plek is, ‘n ander plek as seuntjie-eiland, waar daar pappas en mammas en boeties en sussies is. Sussies wat sagtheid bring. Mammas wat lekker kos maak en ‘n pleister opsit waar dit seer is, wat troos as jy wil huil. En pappas wat vir hulle sorg en by wie hulle veilig kan wees. Dan wonder hulle by hulleself, al vra hulle dit nie vir die ander nie, of seuntjie-eiland regtig die beste en lekkerste plek is om te wees.

Toortsie

Kosie van Comono Eiland

Die wêreld verander teen ‘n vinnige spoed, ons kleinkinders word met ‘n selfoon en tablet in die hande groot. Hulle draai ‘n kraan oop, kry lopende water, sit ‘n skakelaar aan en daar is elektrisiteit. Sit ‘n TV aan en kyk ‘n storie. En dink selfs oumas is, soos Steve Hofmeyr oor spoke sing, so bietjie dom as ons nie so vinnig met die tegnologie is nie. Maar, daar is baie wat hulle nie weet nie, want ons oumas was ook kinders. En ons kan stories vertel … ‘n Bundel kinderstories uit die pen van die Goue Vroue. Kliek op hierdie skakel om die ander stories te lees.https://fresh.inlinkz.com/p/d9a4e9bae6aa4e179beee4acc3690247

……………………………………………………

Kosie is ‘n seuntjie wat op Comono Eiland, die Seuntjie-Eiland woon. Kosie is groot. En sterk. En ongeskik. Almal is bang vir Kosie. As hulle onderlangs van hom praat, daar waar hy nie by is nie, noem hulle hom Boeliebul. Want hy is eintlik ‘n boelie. Hy weet dat hulle hom Boeliebul noem en dit maak hom baie kwaad, maar dit laat hom einlik stilweg lekker voel ook. Dis vir homlekker dat die ander seuntjies vir hom bang is. Versigtig is. Doen wat hy sê.

Boeliebul is die kaptein van ‘n b e n d e. Hulle noem hulleself die Bullebakke. Want bullebakke is hulle sowaar. Hulle stamp die kleiner seuntjies om. As hulle sien ‘n seuntjie eet iets waarvoor hulle lus het, sal hulle dit sommer afvat en opeet. Hulle is altyd besig om iewers skoor te soek. Baklei te soek. Wanneer hulle die slag saamspeel, is daar altyd ‘n geniepsigheid by. Hulle kyk hoe hulle ander kan seermaak. Boelie. Nes hulle kaptein, Boeliebul. Want Boeliebul moedig hulle aan om dit te doen. Hy hits hulle aan om ander seer te maak. Want as hulle dit nie genoeg doen nie, dan mag hulle nie deel van die bende wees nie. Die ander kinders is bang vir hulle en speel eerder daar waar hulle nie is nie.

Andries is ‘n lang, maer seuntjie, maar hy is baie sterk. Hy is gespierd. En baie rats. Hy hou nie van bakleiery nie en hou al lankal vir Boeliebul en sy bende dop. Hulle karring nie sommer aan hom nie, dis of hulle nie heeltemal seker is hoe sterk hy is nie. Hy het agtergekom dat Boeliebul net die ander seuns aanhits en aanpor om te baklei, dat hy eintlik net ‘n grootmond is en glad nie so sterk is nie. Om die waarheid te sê, baklei hy self nooit, hy laat die ander seuns sy vuil werk doen. Boeliebul maak maar net of hy so sterk is. Sodat ander vir hom bang moet wees.

En toe kry Andries ‘n plan. Hy daag vir Boeliebul uit om teen hom arm te druk.

Eers skrik die ander seuns toe hulle sien wat Andries maak. N i e m a n d daag vir Boeliebul uit nie. Jy kan dit nie waag nie! Want as jy vir Boeliebul uitdaag, beteken dit jy daag al die Bullebakke uit! Dis lewensgevaarlik! Niemand doen dit nie!

Ewe selfvoldaan lag Boeliebul en die Bullebakke vir Andries uit. Wat is sy plan? Wil hy regtig sy kragte een Boeliebul meet? Lagwekkend! Húlle sal vir hom wys hoe dit gedoen word. Húlle sal vir hom wys waar Dawid die wortels begrawe het. Húlle sal sy grootmond sommer vinnig toemaak. Vol brawade lag hulle vir hom uit. Terwyl die ander seuns bang en versigtig terugstaan. Hier kom moeilikheid wat kon gebly het.

Maar Andries weet wat hy doen, en sê, ja, hy daag vir Boeliebul uit vir armdruk.

Uiteindelik besef Boeliebul: Andries is ernstig en hy gaan nie hier uitkom nie. Hy sal self moet armdruk teen Andries.

Hy kom sit en hy en Andries neem hande. Eers is Boeliebul nog grootmond, vol brawade, maar sommer gou besef hy: Hier het hy ‘n teenstander. ‘n Groot teenstander wat nie vir hom bang is nie. Ook nie vir die Bullebakke nie. En hy raak bang. Want vandag gaan hy iets aan almal moet erken: Hy is eintlik glad nie sterk nie. Om die waarheid te sê, hy is sommer swak. Hy is net so groot, maar het eintlik glad nie uithouvermoë nie. En A L M A L op die eiland gaan dit sien. en gaan dit weet. WAT GAAN HY MAAK?

Sommer gou druk Andries sy arm plat. Hy kyk vir Boeliebul in sy oë. En hou sy hand daar. Boeliebul wil nog sy hand wegtrek, maar hy kan nie. Andries kyk en kyk en kyk vir hom. En sê niks. Almal is tjoepstil. Almal wag om te sien wat gaan gebeur. Al wat Andries doen, is om Boeliebul se hand vas te druk en hom in sy oë te bly kyk.

Uiteindelik praat hy: “Boeliebul, ek weet wie jy is. Ek weet dat jy eintlik ‘n bang seuntjie in ‘n groot lyf is. Dat jy eintlik glad nie so sterk is soos wat jy wil voorgee nie. Dat jy die ander seuns in jou Bullebakbende gebruik om jou vuil werk te doen. Dat jy dink dat jy mag verkry deur so te wees, maar eintlik kry jy net die weersin van die ander. Weet jy wat, ek sal graag jou maat wil wees, maar dan moet jy die Bullebakbende los. Dan moet jy die saggeaarde seun wees wat jy regtig is. Ophou baklei soek met almal. Ophou afbrekend wees. Sommer net seun wees wat lekker speel.”

Almal hou hulle asem op. Wat nou? Wat doen Andries nou? Is hy heeltemal van sy kop af?

Boeliebul bly lank stil. Hy dink diep. Dan sê hy: “Dankie, Andries. Dankie dat jy my maat wil wees. Weet jy, dit is ook nie vir my lekker om so altyd te moet baklei nie. Van nou af sal die Bullebakbende een wees wat lekker saamspeel, wat ander kinders help, wat ophou baklei soek. Wat seuntjies sal leer om sterk te wees, maar nie ongeskik hoef te wees nie. Dankie, Andries, baie dankie.”

Al die seuntjies juig en klap hande. Hulle is maar nog bangerig, maar weet dat dinge op hierdie eiland nou gaan verander.

Toortsie

Kareltjie van Comono Eiland

Die wêreld verander teen ‘n vinnige spoed, ons kleinkinders word met ‘n selfoon en tablet in die hande groot. Hulle draai ‘n kraan oop, kry lopende water, sit ‘n skakelaar aan en daar is elektrisiteit. Sit ‘n TV aan en kyk ‘n storie. En dink selfs oumas is, soos Steve Hofmeyr oor spoke sing, so bietjie dom as ons nie so vinnig met die tegnologie is nie. Maar, daar is baie wat hulle nie weet nie, want ons oumas was ook kinders. En ons kan stories vertel … ‘n Bundel kinderstories uit die pen van die Goue Vroue. Kliek op hierdie skakel om die ander stories te lees.https://fresh.inlinkz.com/p/d9a4e9bae6aa4e179beee4acc3690247

……………………………………………………

Kareltjie is ‘n seuntjie wat woon op Comono Eiland, of sommer Seuntjie-eiland, soos ons dit noem. Dit is ‘n eiland waar daar net seuntjies is en geen dogtertjies nie. Dogtertjies hoort nie daar nie. Dogtertjies is jegggg. Dogtertjies is te pieperig en dra stories en hou nie daarvan as seuntjies rof speel met hulle nie. Op Seuntjie-Eiland is daar nie reëls nie. Almal speel rof en lekker saam. Soms gaan dit tè rof en kry hulle seer, maar seuntjies kry mos nie eintlik regtig seer nie.

Kareltjie is ‘n klein bietjie anders as die ander seuntjies. Dit voel soms vir hom of hy nie so heeltemal inpas nie. Kareltjie het rooi, krullerige haartjies wat woes staan. En Kareltjie dra ‘n bril.

Die probleem is dat Kareltjie nie regtig ‘n bal kan raakvang nie. En seuntjies kan almal bal vang. En skop. En gooi. En seuntjies kan dit sommer goed ook doen.

Maar as Kareltjie die bal gooi, gaan dit baie keer in verkeerde rigting. Of die bal trek nie ver genoeg nie. Of hoog genoeg nie. En as hulle krieket speel, kry hy nie die ander uitgevang nie. Of raak geboul nie. By rounders is dit dieselfde probleem. Hy kry nie ander uitgevang nie. Rugby dieselfde. Dit help nie eers hy probeer skop na die pale toe nie, dit werk nie en die outjies wil hom sommer glad nie in die lynstaan hê nie.

Eintlik wil hulle hom ook nie in hulle krieketspan hê nie. Of in hulle Volly Ball span nie. Of rugbyspan nie. Of enige span waar daar met ‘n bal gespeel word nie. Elke keer wanneer hulle spanne bymekaarmaak om teen mekaar te speel, bly hy hoopvol sit, maar hulle kies nie vir hom nie. En hulle fluister lelike goed vir mekaar. Hulle sê sommer reguit dat hulle nie vir Kareltjie moet kies nie. Dit maak Kareltjie baie hartseer. En eensaam. Want hy wil graag deel wees.

Maarrr Kareltjie is slim! En Kareltjie kan planne maak. Op die hele eiland kan Kareltjie die mooiste en beste en sterkste vlotte bou. Wanneer hulle vlotte bou, wil álmal in Kareltjie se span wees. Want sy vlot vaar altyd die heel beste. Sy vlot val nie uit mekaar nie. Dit vaar die vinnigste ook. As hulle saam met hom op sy vlot is, sal hulle sommer heeldag op die rivier rondhang. Dán is ou Kareltjie se hartjie sommer bly. En voel hy geliefd. En weet hy hy is eintlik nie so sleg nie. Dat hy sy eie goeie kwaliteite het.

Toortsie