Vuur!! Brand!!

Dis somer in die Kaap. En DROOG. Baie graan is van die lande af, orals is net kort, goudgeel stoppels.

Maar dít spel gevaar: Brandgevaar! Een van die grootste gevare in oestyd is dat ‘n stroper aan die brand kan raak.

Gister het die padmense die gras gesny langs die teerpad en ‘n brand het ontstaan. Gou-gou het die vuur versprei, en die boer het net daar oor die 500 bale verloor. Daar was ‘n massawa met graan op die land, maar genadiglik het dit niks oorgekom nie.

Die boere in die omtrek het gou gekom en na ‘n paar uur is die vuur geblus. Weer eens net genade dat die wind nog nie gewaai het nie. November is mos bekend vir wind in die middae! Op ‘n stadium kon ek drie verskillende vure net van my huis af sien.

Dis egter nie net die stoppellande wat maklik brand nie.

Kaapse fynbos brand net so maklik. As ‘n vuur hoog brand, slaan die fynbos sommer aan die brand, net van die hitte!

Dit IS so dat fynbos moet brand om te kan ontkiem, maar onbeheerde brande spel net gevaar. Dis nie ons plig om te sorg dat die fynbos brand nie, daar is blomboere wie se blomme dit is, wat self sorg vir beheerde brande!! Dit gebeur regtig dat hier sommer ‘n hele paar blomplase afbrand in ‘n dag se tyd, en dit as gevolg van nalatigheid van ‘n verbyganger.

Dis vir my ‘n groot bekommernis dat ons nie vuurbewus is in Suid-Afrika nie. Dink net aan die groot brande wat hier al vanjaar in die Vrystaat was!

Wat kan ons doen om meer vuurbewus te word?  In Australië is daar jaarliks in die somer ‘n “fireban” wanneer GEEN vuur gemaak mag word nie, nie eers ‘n braaivleisvuur in jou kaggel nie!

Ek glo nie ons sal dit hier in SA regkry nie, hier is net te veel arm mense wat staat maak op ‘n vuur vir hulle kos. Ons sal iets anders moet doen.

By Australië is daar ‘n bord soos hierdie by elke dorp om mense bewus te maak van die brandgevaar. DIS dalk iets om te doen??

Ek dink, as elkeen van ons wat hier lees meer vuurbewus is en iets daaraan doen, is dit al ‘n entjie gevorder.

In die eerste plek moet ons sorg dat ons nie een sigaretstompie sommer net by ‘n venster uitgooi nie. As ons ‘n braaivleisvuur maak, moet ons doodseker maak dat dit heeltemal geblus is as ons dit verlaat.

Ons kan ons eie kinders vuurbewus maak en leer om nie met vuur en vuurhoutjies te speel nie. Met ons werkers moet ons praat oor waar hulle ‘n kers/olielamp neersit en dat hulle ook hulle kinders moet leer.

In ons skole kan ons BAIE meer daaroor met ons leerders praat. Dalk op TV en die radio? Watter voorstelle het julle?

Kom ons raak vuurbewus. Kom ons raak VOORBEREID sodat ons pro-aktief kan optree.  As daar ‘n rokie trek, maak dit DOOD! Moenie wag tot dit ‘n onbeheersde vuur geword het nie. Asseblief!

Groetnis

Toortsie

13 thoughts on “Vuur!! Brand!!

    1. Ek is so bly jy het onthou van die glas!! Dankie Xena! 🙂 Ek onthou in my kinderdae was daar sulke borde by die bosbouplantsies met ‘n bokkie wat huil. Sulke goed maak regtig ‘n impak, want as jy daar verby ry, vra die kinders watter bord dit is en dit word bespreek en onthou… Is hier dalk bosbouers hier rond in blogland wat weer sulke borde kan opsit, asseblief??

      Like

  1. Ek was verlede week in die Etosha Nasionale Park waar amper 300000vkm afgebrand het en soveel diere! Die stories oor diere wat in vlamme moes vlug is iets verskrikliks en dit alles oor nalatigheid tydens voorbrand. Seker die mense kan met goeie raad doen.

    Like

  2. Toortsie…vandag was ek sommer uit my vel…ons Graad 10’s moet ‘n mondeling voorberei en daar lees ek waaragtig jou blog vir die leerders…hierdie einste blog oor Vuur!! Brand!! Ek wei effens toe uit en vertel van jou awesome blog…dit was ‘n voorreg om dit voor te kon lees vir die Gr 10’s…ek is seker hulle het nou ‘n idee oor oorsake, gevolge van vuur en hatuurlike beheer van vure ens…

    Like

        1. Interessant hoe die blogs ontdek word…dankie vir jou kompliment…ek kom eenvoudig net nie by myne uit nie…hopelik binnekort…ek gaan hierdie oordra aan die kids…dink hulle sal dit geniet om te hoor dat jy geëerd voel…groete…

          Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!