Vuur – NaNoWriMo2019

Vuur het baie dimensies en baie gebruike. So ook vuurmaak. Dit kan ‘n braaivleisvuur wees of ‘n lekker aansitvuur by ‘n kamp, of ‘n veldbrand.

Kleintyd het my ma seep gekook in ‘n groot swart pot op die vuur. Ai, ek wens ek weet hoe sy dit gedoen het, maar ek was regtig nog te klein en toe ek oud genoeg begin raak het, kon ‘n mens al lekker Sunlight seep in die winkels kook. Tog was dit vir my ‘n spesiale ondervinding wat ek altyd sal onthou. 

As ‘n mens by die kombuis uitgestap het na regs, verby die buitekombuis op linkerhand, verby die vleiskamer op regs, het jy by ‘n oop stuk gekom. Links van dit was vertrekke wat ek nie regtig kan plaas nie. ‘n Deel daarvan was sementdamme, maar die kamertjies weet ek nou regtig nie meer of dit stoorkamertjies was nie. Ek dink dit dateer nog uit die tyd wat my ouma-hulle daar gewoon het. My ma het baie laat verander aan die huis, dit baie gemoderniseer. 

Daar was ‘n vertrek wat hulle later vir my as pophuis ingerig het, en ek het aanvanklik lekker gespeel daar, tot ek begin glo het dat daar spinnekoppe is. Eintlik is ek maar nie iemand wat daarvan ho bom alleen, eenkant in ‘n buitegeboutjie te speel nie. 

Die vleiskamer was ‘n vertrek met sifvensters waar my ouma-hulle hul vleis gehang het. My ma-hulle het dit ook aanvanklik gedoen voor vrieskaste gekom het. Ek sien nou die dag die naam, ‘safe’, en dink dat hulle dit so genoem het. ‘n Veilige plekkie waar die slaggied kon hang sonder dat vlieë daarby kon uitkom. 

Toe ons in Egipte getoer het, het ek baie keer ‘n bees so sien hang, net in die oopte en nie met sif of gaas bedek nie. Wanneer hulle dan vleis nodig het, sny hulle net die snit af. 

Dis hoe my ouma-hulle ook gemaak het. Ek weet net nie hoe lank jy ‘n skaap so kon laat hang het nie. Ek dink dit was op die koelste plek, beslis aan die suidekant van die huis en die wind kon lekker daar deurtrek om dit koel te hou. In daardie jare het hulle in die plaaskombuis vir die werkers ook kos gekook, ‘n skaap is seker gou opgeëet. 

Dis ook hier waar ons met die leer opgeklim het solder toe. Ons was mal daaroor om na die solder toe te gaan. Dit was ’n lekker groot vertrek, die hele grootte van die huis en Bosfontein het in elk geval ‘n groot huis gehad. 

As dit gereën het, het die huishulpe die wasgoed op die solder gehang. Sommer gou-gou was dit droog. Op die solder was baie goed wat oor jare gestoor was en nog nie regtig weggegooi kon word nie. Ons mag nie vreeslik daar tussen die goed gekrap het nie, baie was nog dokumente en goed van my oupa. 

Nou, dit was omtrent ‘n lange draai wat ek nou geloop het, maar ek kon nie help om, toe ek aan die seepkokery gedink het, hieraan te dink nie, want die pot seep is gekook in daardie oop gebied.

So lief soos ek ‘n braaivleisvuur is of ‘n vuurtjie waarby ‘n mens sommer net in die veld sit vir die geselligheid, of ‘n kaggelvuur in die winter, net soveel vrees ek ‘n onbeheersde veldbrand wat alles verslind wat voorkom. Ons fynbos hier in die Overberg brand maklik en raak maklik uit beheer, veral as die Suid-Oostewind verwoed waai. Dis vir my of veldbrande deesdae al hoe erger raak en al hoe meer voorkom en sommer dorpe ook in die proses uitbrand. Raak die wêreld droeër? Het dit te doen met aardverwarming? Is die beheer deesdae minder en maak mense nie meer voorbrande nie? Word veld toegelaat om ruier te word as in die verlede? Ek sien daar is baie droeë hout in die veld wat, as daar net ‘n vonkie val, sommer maklik kan brand. 

Ek het ‘n vuurfobie gehad wat spruit uit iets wat baie jare gelede gebeur het. Ons huis het aan die brand geraak toe ek net vyf jaar oud was. Die brand het ontstaan in die kamer waar ek lê en slaap het. Hierdie is so ‘n duidelike voorbeeld van hoe lewendig en bewus jou onderbewussyn van jou omgewing is terwyl jy self nie eers weet dat jy dit beleef het nie. 

My pa het die buurplaas, Kathoek, gekoop en toe die mense die dag uit die huis getrek het, het hulle die aand by ons kom slaap. Die grootmense het nog in die sitkamer gekuier terwyl ek solank in my ma-hulle se bed gaan lê het. Toe ek die bedliggie afsit, het die skakelaar nie die normale kliekgeluid gemaak nie. 

Gelukkig het my ma ‘n rukkie later kamer toe gekom om iets in haar handsak te kom kry. Toe sy die kamerdeur oopmaak, is daar net rook. Verstikkende rook. Die bedliggie moes ‘n kortsluiting gemaak het en die elektriese drade het begin smeul. Gelukkig was daar nog nie flamme nie. Hulle kon die vuur betyds stop en natuurlik vir my ongedeerd uit die kamer kry. 

Ek het eers die volgende oggend daarvan te hore gekom toe ek wakker word. Die beddens was afgetrek in my ouers se slaapkamer, oral teen die mure waar die kragdrade was, was brandplekke, die vensters wawyd oop om die rookreuk te verwyder. 

Vir jare het ek daardie vrees gevoed. Vir jare het ek angstig geraak as ek rook sien trek iewers in ‘n berg, selfs al is dit meer as ‘n honderd kilometer van ons af en dit ons nie bedreig nie. Vir jare raak ek angstig as ons iewers ry en daar is ‘n brand aan die voorkant waarby ons dalk verby moet ry. 

Brand Huis ten Bosch twee koshuise van ons af, staan ek asof gehipnotiseerd en kyk, gereed om te vlug. Hierdie fobie het veroorsaak dat ek bang is vir donderweer, want donderweer steek die veld aan die brand. Ook bang vir ‘n kar wat omslaan, want in TV stories slaan die kar dan gewoonlik aan die brand. 

Want, wat sou gebeur het as my ma nie daardie aand iets in die slaapkamer nodig gehad het nie? Wat as hulle nie betyds op die vuur afgekom het nie? Wat as die rook my sou oorval? Sê nou ek het versmoor? Wat as?

Totdat God my een dag in ‘n TPM-sessie gewys het dat Hy daar was daardie aand. Dat daar geen ‘wat as’ betrokke was nie, want dit was Hy wat my ma kamer toe gestuur het. Dit was Hy wat gesorg het dat ek nie daardie aand versmoor het nie. Dit was Hy wat gesorg het dat daar nie groot vlamme gekom het en ons pragtige huis in Bosfontein afgebrand het nie. Die alomteenwoordige goue draadjie. 

Ek wil graag glo dat my vuurfobie genees is. Nee, ek gaan steeds nie in vuur speel nie. Ek gaan ook steeds nie gemaklik voel om in die rigting van ‘n massiewe veldbrand te ry nie. Ek gaan vuur steeds met respek behandel, maar daardie dag met Dewet en Didi se troue en die wind stormsterk in ons rigting gewaai het en die vuur verbete gebrand het, het ek nie gevlug soos ek normaalweg sou doen nie. Om die waarheid te sê, ek was rustig. Dit, terwyl ander my dopgehou het om hulle te waarsku as die vuur te gevaarlik sou raak. God het ook daardie dag die wind laat draai. 

‘n Heel ander vuur is natuurlik ‘n braaivleisvuur. Hoe kan jy ‘n Suid-Afrikaner wees, ‘n skaapboer ook nog, en jy maak nie vuur nie? Ons het nie so baie gebraai op die plaas nie, maar wel baie as ons vakansie gehou het op Struisbaai. My ma was ‘n bobaas onthaler en was lief daarvoor om mense te nooi om by ons te kom eet. Op die plaas sou sy eerder gekookte kos voorsit as braai. 

Ons is steeds baie lief vir braai. Sommer net gewone vleis en wors, sosaties en skaapstertjies. Niks vreemde goed soos wat ek sien ander mense braai nie, sommer net gewone kos.

Toortsie

Wat ‘n Saterdag!

Die heel week hou ons al troue. Eers was dit die voorbereidings. As moeder van die bruidegom wil ek geweldig baie eer gee aan die bruid se ouers wat ‘n pragtige geleentheid gereël het.

Die onthaal was op die plaas en hul het ‘n groot markiestent opgeslaan.

Soos julle weet, brand dit in die Suid-Kaap en Donderdagoggend sien ek ‘n rokie trek in die berg reg agter ons. Ek wonder of hulle bewus is van die vuur, maar sien toe die reeds afgebrande stuk, dit brand blykbaar al die heel week.

Maar Vrydag begin die vuur versprei.

Saterdag waai daar ‘n sterk bergwind, reg in ons rigting en dis digte rook en ek staan en kyk hoe die vuur sommer amper by ons brand, kyk waar oral bome groei en ek vrees dat dit die troue gaan kniehalter. Ek en skoonseun bid, en ek weet, vele ander mense bid ook.

Maar God hoor en die wind en die rook gaan lê en ons het ‘n pragtige middag en aand gehad. Die hele aand was daar ‘n rooi gloed en het ons tog maar kort-kort gekyk hoe die vuur sommer naby ons bloedrooi brand.

Perde is my skoondogter se groot liefde en het ‘n prominente rol gespeel.

(Ek het party van hierdie foto’s op Facebook gesteel)

Dit was ‘n pragtige, feestelike geleentheid en ek voel dankbaar en trots dat ek deel hiervan kon wees.

Vandag het ons gaan kyk waar die vuur oral gebrand het. Ja, ons het skade, maar daar was baie genade ook, soos ‘n baie duur masjien wat behoue gebly het terwyl dit rondom hom gebrand het. Bekyk die foto baie mooi.

By die buurplaas het ‘n huis bly staan met ‘n klompie groen bome om hom, terwyl alles verder verbrand het. Genade, dis wat dit is. Net genade.

Hierdie was vanmiddag by ons op die plaas.

Maar ook hier was God genadig. Terwyl die vuur voortwoed, dink ek dat dit hier by ons tans redelik onder beheer is. Net genade. Dis meestal die veld wat brand en genadiglik het dit by ons nie na die lande versprei nie. Maar as die wind weer begin opsteek, dan kan ek nie help om bekommerd te wees nie.

This too shall pass. ❤️

Groetnis

Toortsie

Vuur!! Brand!!

Dis somer in die Kaap. En DROOG. Baie graan is van die lande af, orals is net kort, goudgeel stoppels.

Maar dít spel gevaar: Brandgevaar! Een van die grootste gevare in oestyd is dat ‘n stroper aan die brand kan raak.

Gister het die padmense die gras gesny langs die teerpad en ‘n brand het ontstaan. Gou-gou het die vuur versprei, en die boer het net daar oor die 500 bale verloor. Daar was ‘n massawa met graan op die land, maar genadiglik het dit niks oorgekom nie.

Die boere in die omtrek het gou gekom en na ‘n paar uur is die vuur geblus. Weer eens net genade dat die wind nog nie gewaai het nie. November is mos bekend vir wind in die middae! Op ‘n stadium kon ek drie verskillende vure net van my huis af sien.

Dis egter nie net die stoppellande wat maklik brand nie.

Kaapse fynbos brand net so maklik. As ‘n vuur hoog brand, slaan die fynbos sommer aan die brand, net van die hitte!

Dit IS so dat fynbos moet brand om te kan ontkiem, maar onbeheerde brande spel net gevaar. Dis nie ons plig om te sorg dat die fynbos brand nie, daar is blomboere wie se blomme dit is, wat self sorg vir beheerde brande!! Dit gebeur regtig dat hier sommer ‘n hele paar blomplase afbrand in ‘n dag se tyd, en dit as gevolg van nalatigheid van ‘n verbyganger.

Dis vir my ‘n groot bekommernis dat ons nie vuurbewus is in Suid-Afrika nie. Dink net aan die groot brande wat hier al vanjaar in die Vrystaat was!

Wat kan ons doen om meer vuurbewus te word?  In Australië is daar jaarliks in die somer ‘n “fireban” wanneer GEEN vuur gemaak mag word nie, nie eers ‘n braaivleisvuur in jou kaggel nie!

Ek glo nie ons sal dit hier in SA regkry nie, hier is net te veel arm mense wat staat maak op ‘n vuur vir hulle kos. Ons sal iets anders moet doen.

By Australië is daar ‘n bord soos hierdie by elke dorp om mense bewus te maak van die brandgevaar. DIS dalk iets om te doen??

Ek dink, as elkeen van ons wat hier lees meer vuurbewus is en iets daaraan doen, is dit al ‘n entjie gevorder.

In die eerste plek moet ons sorg dat ons nie een sigaretstompie sommer net by ‘n venster uitgooi nie. As ons ‘n braaivleisvuur maak, moet ons doodseker maak dat dit heeltemal geblus is as ons dit verlaat.

Ons kan ons eie kinders vuurbewus maak en leer om nie met vuur en vuurhoutjies te speel nie. Met ons werkers moet ons praat oor waar hulle ‘n kers/olielamp neersit en dat hulle ook hulle kinders moet leer.

In ons skole kan ons BAIE meer daaroor met ons leerders praat. Dalk op TV en die radio? Watter voorstelle het julle?

Kom ons raak vuurbewus. Kom ons raak VOORBEREID sodat ons pro-aktief kan optree.  As daar ‘n rokie trek, maak dit DOOD! Moenie wag tot dit ‘n onbeheersde vuur geword het nie. Asseblief!

Groetnis

Toortsie