Toortsie se Toeka Tokkel oor broers

In opdrag van Scrapydo.

As ek oor my broers moet skryf kan ek baie skryf, dat hulle my baie geterg het toe ek klein was, maar ook beskerm het. Ek kan vertel hoe laf ons soms is, hoe ons al drie na mekaar kyk, nou nog, nou is ons net twee oor. Ek kan vertel hoe my dogter, wat versigtig was vir mans, eerder saam met my ouboet van die dorp af wou ry as saam met ‘n ander geleentheid, net omdat dit soveel meer pret was. Of ek kan vertel hoe my boeta my bestuurderslisensie in ‘n padblokkade vir die spietkop gewys het en dit toe ‘reg’ was, of van ons twee se lekker trippie deur die Britse Eilande, hoe ons saans blyplek gesoek het en bereid was om ‘n kamer te deel, maar beslis nie ‘n bed nie, selfs nie toe dit die enigste bed was wat oop was in die hele dorpie nie! Of hoe laf hy was toe ons by die Skotse boer en boervrou sommer net aangery het en gestop het, hulle het dit só geniet! Of ek kan vertel dat hy my Sôtie-pop se vinger in die gasstoof gebrand het toe ons in 1973 in LM was, sy dra nou nog die letsels! 😉

Maar nou wonder ek, ek het mos ‘n Ursula. Sal my broer ook so iemand hê? En as hy het, sal dit mos ‘n manlike een wees en wat sal sy naam wees? Petrus? Simon? Nicodemus? Ja! Ek noem hom Nicodemus. 🙂 Maar ek wonder darem of hy so iemand het. Hy is so slim en hardwerkend en vreeslik eerlik, regtig ja, baie eerlik, ek dink Nicodemus gaan sy goed deurmekaar krap! Ek vermoed, as hy ‘n Nicodemus gehad het, dat hy hom al by sy eerste kantoor iewers geliasseer het en in die kluis toegesluit het en toe hul na ‘n ander kantoor getrek het, het Nicodemus dalk daar agtergebly en nou is hy al uitgedroog en verkaiing, totaal verval in eensaamheid, arme Nicodemus! Ek wonder tog of Ursula nie dalk een of ander tyd in die kluise van al die vorige kantore waar hul gewerk het, moet gaan loer nie! Dalk vind sy hom!

Ek het 2 broers gehad, nou net een oor. Hulle is vir my uiters spesiaal en omdat ons soveel vir mekaar omgee, is dit juis die een groot rede hoekom ek dit altyd by my eie kinders ingeskerp het: ‘Onthou, julle moet na mekaar kyk, veral as ons nie meer daar is om dit te doen nie.‘ Wat my eie kinders daarmee maak, is hul eie besluit, maar die band tussen broers en susters kan die sterkste band wees wat bestaan. Mens kan onder mekaar roei en stoei, maar biologie is wat jou aanmekaar verbind het.

So wat kan ek van my broers sê anders as dat ek verskriklik lief vir hulle is, en dat ek deur woestyn en modder vir hulle sal loop?  Sonder twyfel kan ek dieselfde van hulle ook sê. Love you! Ruil julle vir NIEMAND in die wêreld nie.

Toortsie

Toortsie by Finesse: Google is ‘n dame

Toortsie se Faceboekpage

Toortsie se Bantingboerekos faceboekpage

Toortsie’s LCHF Journey

Finesse Blogger van die week. 

Toortsie se getuienis: Radio Tygerberg

11 thoughts on “Toortsie se Toeka Tokkel oor broers

  1. Dis seker ‘n vreemde gedagte, maar ek wens soms ek kan weet wie my bloginskrywing met ander gedeel het. Ek bedoel, geshare het op faceboek. Ek waardeer dit opreg, ek wonder sommer net daaroor.

    Like

  2. Klink of jy en jou broer ‘n goeie verhouding het. Ek wens ek het ‘n ouboet gehad…. nou sal ek nooit weet hoe die lewe met ‘n ouer broer in die huis sou gewees het nie. Nou weet ek net van ousus wat niks verkeerds kon doen nie.

    Like

  3. Ag, dis te lekker. Mens het tog sulke lekker ondervindings wat mens onthou. Daardie beskerming van mekaar is natuurlik n groot ding. Ek het ook nie broers nie maar met my man en seun het ek baie goed die gevoel van broers gekry. Mooi geskryf, jy mag maar hoor!

    Like

Gesels saam, asseblief!