The Love Dare – Waag dit om lief te hê

As daar ‘n boek was wat ons geweldig baie gehelp het, is dit die boek, Waag dit om lief te hê. Die 40-dae uitdaging.

Hierdie boek is gebaseer op die Christelike fliek, Fireproof, ‘n fliek wat ek regtig vir elke getroude paar wil aanbeveel om te kyk. Ook War Room. Die fliek is reeds ‘n paar jaar gelede uitgegee, dit sal seker op die internet beskikbaar wees.

Verhoudings is in die duiwel se visier, hy maak dit sy prioriteit om verhoudings moeilik te maak en om ‘n verhoudng te laat werk, moet ons eerstens God se hulp inroep, maar ook hard daaraan werk. Ons almal begeer tog ‘n gelukkige huis, of hoe? Ons kan mos nie ons lewe lank bly vat en los en vlug sodra dinge nie reg loop nie? Dis juis deur te werk aan jou huwelik, deur vas te hou in swaarkrytye, wat jy ook die goeie daarvan ervaar en nuwe dimensies van liefde ervaar omdat jou verhouding verdiep. Die beloning is groot as jy bereid is om vas te byt en jou deel te doen.

In die boek, Om lief te hê ten spyte van seerkry, praat van die spelonk van getroudes. Dit is die graf wat Abraham vir Sara gekoop het en waarin die aartsvaders begrawe is, almal getroude pare. Hy noem ‘n belangrike ding, dat, om in die spelonk vir getroude pare begrawe te kan word, huwelikspare deur goeie én slegte tye bymekaar moet bly. Elke huwelik kry sy goeie én sy swaar tye en as ons die swaar tye deurleef, is die goeie tye daarná net soveel beter. Hierdie boek is beslis ook ‘n boek om te lees en te herlees.

Waarvan ek baie van Waag dit gehou het, was dat dit oor veertig dae elke dag iets in die huwelik aangespreek het. Sonder versuim het hy elke dag goeie raad gedeel, maar ook op iets gewys wat die dames graag doen wat die huwelik benadeel en wat die mans ook doen wat nadelig is vir die huwelik. Aan die einde van die hoofstuk is daar ‘n uitdaging om te doen in die volgende 24 uur, soos byvoorbeeld om nie een negatiewe ding vir of oor jou maat te sê nie.

Hier is ‘n opsomming van die uitdagings wat ek hier raakgeloop het: http://www.shenzhoufellowship.org/main2/files/old/SpecialTopics/TheLoveDare.pdf

Dalk het jy lus om die uitdaging vir veertig dae te aanvaar? Geen huwelik kan onaangeraak bly as daar vir veertig dae daadwerklik en positief daaraan gewerk word nie, of hoe? Kom ons maak weer ons huwelike goeie huwelike en ons goeie huwelike uitstekend.

Waag dit!

Love Dare Uitdaging 1: Vandag sê ons niks negatiefs vir of van ons geliefde nie.

Toortsie

Vir nog van my boekbesprekings, kliek HIER, of volg my by Pinterest.

Huweliksverryking

Ons is mos nooit te oud om te leer nie, né? Toe ek as 20-jarige die huwelik betree het, het ek nie veel daarvan geweet nie.   Wat ek van die huwelik geleer het, het ek in my eie huwelik geleer en deur dit wat ek by ander gehoor en gesien het. En deur huweliksverrykingskampe en boeke oor die onderwerp.

By die eerste huweliksverrykingskamp het ek die belangrikste les ooit gehoor: Kyk waar kan EK verander, wat doen EK verkeerd, hoe kan EK weer meer aandag aan my man gee, wat is sy behoeftes. Huweliksverrykingskampe werk nie regtig as jou huwelik alreeds totaal verval het nie, maar dis wonderlik om net weer nuwe vuur in jou verhouding te blaas. As jou huwelik alreeds op die rotse is, is ‘n Christelike Berader wat jy nodig het.

Ek glo dat as ‘n mens in  enige iets wil groei, dit help om daaroor te lees. Hier is ‘n klompie boeke wat vir my baie beteken het:

Die Huweliksdaad – Tim en Beverley Lahaye

Toe ons in 1985 getrou het, was hierdie ‘n boek op almal se lippe. Predikante het dit baie aanbeveel. Ek sien die boek nog steeds in boekwinkels. Seks is ‘n geskenk van God aan getroudes. Hierdie boek bespreek egter nie net seks nie, maar die hele huweliksverhouding. Alhoewel ek dit baie baie lank gelede gelees het, kan ek dit nog steeds aanbeveel.

The Five Love Languages
met sy afrikaanse weergawe, Vyf tale van die liefde. Dis beskikbaar in boekvorm en ook as ‘n bybelstudie vir pare of groepe. Dis ongelooflike boeke wat die huwelik en verhoudings uit ‘n heel ander hoek beskou. Ek wil dit regtig aanbeveel. Ons het die bybelstudieboek in ons groep gedoen en ons kan werklik getuig van verandering in ons huwelike.

Vrou na ‘n man se hart. Hierdie is ook ‘n ouerige boek, maar ek sien dat dit nog beskikbaar is as jy dit by Google intik. Hierdie boek bekyk die onderwerp, “onderdanigheid” en ons rol as vrou in die huwelik. Ons as moderne vroue wil nie altyd hoor wat hier geskryf is nie. Toe ek destyds die boek gelees het, het dit vir my baie beteken.

Waag dit om lief te hê. My gunsteling. Uit persoonlike ervaring kan ek getuig watter verskil dit in my huwelik gemaak het. Dis ‘n ongelooflike boek wat dinge op die naam noem waar ons kan verbeter in ons verhouding. Begin met die 40 dae uitdaging, en as dit verby is, lees die dagstukkieboek saam met jou huweliksmaat. Komaan! Waag dit!! 

Haal die konflik uit jou lewe. ‘n Boek oor konflikhantering.

…………………………………………………………………..

Op die internet bied Revive our Hearts wonderlike 30-dae uitdagings wat ek regtig kan aanbeveel.

……………………………………………………………………..

Ons is so gewillig om geld en tyd aan baie dinge te spandeer, maar ons skeep ons huwelike af. Uit ondervinding weet ek dat geen geld of tyd wat ek aan my huwelik spandeer het, leeg teruggekom het nie. Om geld en tyd aan my huwelik te spandeer is oor en oor van die beste beleggings wat ek ooit kon maak. Doen die moeite, verryk jou huwelik. Soveel vreugde soos wat jy daaruit gaan put, gaan jy nêrens anders kry nie.

Toorts