Trots Suid-Afrikaans

Ek is trots om my mense, my land se mense, wat gister saamgestaan het en saam gebid het. Swart mense, bruin mense, wit mense, wat hulle tot God gewend het vir hulp.

Ek verkies om die negatiewe nuus te ignoreer en te sien dat ons regtig vrede en samewerking in ons land wil hê. Die negatiewes sal altyd daar wees, dis ons keuse of ons ons aan hulle sal steur of nie. Die meerderheid mense smag na vrede en liefde en die beste nanier om dit te kry, is om dit te gee. Mag God hulle wat steeds onmin wil saai, se harte verander dat ook húlle eerder vrede en liefde wil saai.

Baie dankie vir elkeen wat deelgeneem het. Dit het ons moraal gelig. Dit gee ons boere die moed om ons werk te doen. Nie net ons boere nie, die moraal van baie Suid-Afrikaners is gelig. Ons het saamstaan ervaar, saamstaan tussen alle rassegroepe, alle beroepe, ryk, arm, gesond, gestremd. Ongeag van wie jy is, ons het saamgestaan.

Baie dankie vir elke persoon in die buiteland wat deelgeneem het. Meegeleef het. Thank you for every person that showed us their sympathy, even those who aren’t South Africans. We appreciate it. Really, we do. Thank you for every photo that was placed on Facebook of peaple wearing black, feeling with us, feeling our pain.

Mag misdaad totaal uitgewis word in ons land. Nie net groot misdaad nie, ook klein misdaadjies. Dit begin by onsself. Daardie pen wat ons in die kantoor vat, die spoedgrens wat ons nie hou nie, stop op stopstrate. Facebook in werksure waarvoor ons betaal word. ‘n Lepeltjie koffie uit ‘n ander ou se blik.

Laat ons ander mense behandel soos ons behandel wil word: Met respek. Met liefde. Kom ons begin met ‘n groet. My pa het altyd gesê, Madelé, groet die mense. Weet julle watter verskil maak ‘n vriendelike groet? Lig net jou hand van die stuurwiel af en glimlag vir die persoon in die ander motor. Raak aan mense. Klein dingetjies. Ons kan ‘n verskil maak. Die verskil begin by my en jou.

Ek glo in ‘n God van wonderwerke. Ek het al te veel wonderwerke in my lewe beleef om dit mis te kyk. God bedoel dit goed met ons, ons moet Hom net toelaat. Onthou om, as jy ‘n wonderwerk sien, hoe klein of gering dit dalk mag lyk, te deel met ander. Dit bring hoop.

Groetnis

Toortsie

Vryheidsdag

Ek is nie goed met al hierdie vakansiedae nie en hou gewoonlik nie eers kop met watter een dit is nie. Hier en daar sien ek ‘n facebookinskrywing oor vandag.

Maankind het eerste my oog gevang. Sy skryf: Vryheid is om keuses te hê. Vryheidsdag het eintlik ‘n politieke konnotasie, maar vir my beteken Vryheid om myself te wees, met my eie oortuigings en opinie. Vry om te kies hoe ek my werk wil doen, en wanneer. Vryheid is keuses.

Vryheid van keuse, iets om voor baie dankbaar te wees as jy dit het. Wat ‘n wonderlike iets om te hê. Hoeveel mense is vasgevang in hulle situasie, met ‘n onvermoë of onkunde om te kan kies! Vry om myself te wees. Ek sit vryheid van geloof by, dankbaar dat ek nog toegelaat word om my Christenskap uit te leef, sonder vrees vir vervolging, terwyl vervolging wêreldwyd toeneem. Mag ons dit altyd so beleef en mag ons hierdie vryheid nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Ek is amper ook soos Trisa, vry om my werk te doen, hoe en wanneer ek wil, al moet dit dan soms in die nag wees! 🙂

My neef, Andries, se gedagtes is behoorlik op loop met ontwikkelings wat die afgelope aantal jare gebeur het. Hy noem die Gautrein wat vergelyk met die bestes ter wêreld, en terloops, besef julle dat daar ook ‘n professionele trein vir professionele mense in die Kaap is?

Hy skryf: Vryheidsdag en ek dink aan positiewe ontwikkeling. In 1990 was Jan Smuts n klein lughawe waar jy na jou vliegtuig moes loop of per bus ry. Daar was 49 geskeduleerde vlugte per week (bron effens twyfelagtig) en vandag is dit n massiewe lughawe met twee massiewe terminale, lugbrûe en 308 vlugte per dag. Boonop het Gauteng nou ook Lanseria en Wonderboom. Kom ons vier daardie vooruitgang.

Ja, hier is baie verkeerde dinge in ons land, en as ons gaan begin opnoem, dink ek nie ek gaan die einde van hierdie bloginskrywing sien nie en teen vanaand gaan ons almal depressief en neer teen die grond wees. Ons land het ook soveel positiewe dinge, ook te veel om op te noem. As ek sommer op grondvlak kyk, hier in my dorp, en sien hoe het ons hier al oor grense beweeg, kan ek nie anders as om verskriklik dankbaar te wees nie.

Ja, ons het nog ver om te gaan. Ek hoor netnou op RSG dat sekere van die gesindheidsveranderinge wat ons al lankal sou verwag, nou raakgesien begin word. 1994 was nie ‘n dag met ‘n towerstaf nie, ons almal se harte moes verander word, en ja! Ons harte IS besig om te verander.

Mag ons almal vry wees! Ek daag jou uit om by die kommentare iets te skryf waaroor JY bly is in ons land. Kom ons beïnvloed mekaar positief, dis die moeite werd.

Groetnis

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Om te pendel saam met jou man

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

Oorsig

Gedagtes aan emigrasie is nie vreemd nie. Ons ken almal mense wie ge-emigreer het.

In 2002 het ons die eerste keer vir ons familie in Australië gaan kuier. Toé was die hoofgesprek die verskille tussen hier en daar, hoe goed dit met hulle gaan, hoe goed hulle inpas en aanpas. Moeite is gedoen om ons met verskillende mense in aanraking te bring – “regte” Australiërs wat suksesvol boer, Suid-Afrikaners wat met niks soontoe is en as ‘n “farmhand” ‘n sukses maak, ‘n boerevriend wie nie so suksesvol is nie…. Ná die kuier het ons gesê: “Baie dankie, dit lyk wonderlik, maar Australië is ‘n bitter droë land en as dit nie nodig is nie, gaan ons nie ons eie droogtes wat ons so goed ken, verruil vir die droogtes daar nie.” Die veiligheid was oorweldigend. Huise word nie gesluit nie, vrugte word langs die pad verkoop met geen mens in sig nie. Jy sit net die geld daar neer…

Desember 2004 het ons weer gaan kuier. Ons was nog méér beindruk met hoe wonderlik hulle aangepas het. Weer eens die veiligheid. Ons gesels baie oor op watter maniere ‘n mens kan toelating kry tot Australië – “sponsership”, of “business owner”, of die “puntestelsel”, wat nog als!

Ek maak somme, wil so graag ‘n agterdeur oophou vir ás dinge regtig erg raak hier en ons vinnig moet glip, maar ek wil nie ‘n verpligting op onsself lê, soos om twee jaar daar te móét gaan werk nie. My man is haaks, maar ek begin toe korrespondeer met ‘n agent in Perth.  Die gedagte was om as “business owner” aansoek te doen. Op daardie stadium sou dit só werk: Wanneer die aansoek eendag goedgekeur is, wat langer as ‘n jaar kan duur, het jy 4 of 5 jaar om dit toe te pas. Als gaan goed met die onderhandelinge, tot ek R35 000 moet neersit, net om aansoek te doen, en geen versekering dat jy goedgekeur kan word nie. 😯 Net daar stop ek dit, want met soveel geld kan ek baie doen, dis mos nie dat ek beslis wil gaan nie!

Nou, na my derde keer, is ek so dankbaar dat ons so bevoorreg is om steeds hier in SA te wees. Dit gaan regtig goed met die Suid-Afrikaners daar. Dit voel amper of jy maar net in ‘n ander SA dorp woon, so tussen al die Suid-Afrikaners. Maar dit gaan regtig goed met ons hier ook. Dankie dat ek my kinders nog hier kon grootmaak. Dankie dat hulle nog na Stellenbosch Universiteit toe kan gaan. Dankie vir hulle vriende.

Ek weet nie wat die toekoms inhou nie. Sou dit ooit oor my pad kom dat ek móét skuif, sal ek dit doen. Maar tot dan bly ek trots en dankbaar net hier!

Ns. Ek besef dat hier soveel dele in ons land is waar dit onuithoudbaar geword het. Ek het regtig geen probleem met enige persoon wie voel om eerder te emigreer nie.