Dit wat ons glo

Dis mos ‘n erkende feit dat ons onderbewussyn alles glo wat ons hom vertel, of dit nou die waarheid is of nie. Sou ek aanmekaar vir myself vertel dat ek niks werd is nie, die swartskaap in die familie, ‘n afskuwelike neus het, of wat ook al, glo my onderbewussyn dit en kan ek nou maar maak wat ek wil, dít is wat ek in my hart glo. Daarom is dit so belangrik om te kyk wat ons oor onsself praat en dink.

Aspaai het vandag hierdie geplaas:

https://metamorfosevirmysiel.wordpress.com/2017/10/17/gedagte-vir-die-dag-6/

‘n Rukkie gelede het ek vertel van Dr Pieter van Jaarsveld se boek, ‘Dink jouself gelukkig.’ Hy raai aan dat ons konsekwent vir minstens 21 dae aanmekaar vir jou iets sê, iets wat jy wil verbeter aan jouself of jou omstandighede.

Net daar besluit ek: Hierdie name vergetery van my kry NOU end. Hierdie blokkasie in my brein moet WEG. Dis sommer NONSENS dat ek nie name kan onthou nie. Ek begin dit vir myself vertel dat ek regtig oulik is met name. Ek vertel dit ook grappenderwys vir my vriende en hulle lag en praat saam. As jy nie weet wat iemand se naam is nie, vra net vir my, ék sal jou sê, ek is mos eintlik baie goed met name. 🙂 Ry ek in die dorp by mense verby, kom die name skielik in my kop op en dan sê ek: “Sien jy, jy ís goed met name!” Ek begin weer belangstellend vir mense vra wat hulle name is, met die doel om dit te onthou en nie met die gedagte dat ek dit in elk geval gaan vergeet nie. Ek skryf hier en daar ‘n naam neer en laat lê dit op my kombuistafel en stadig, maar seker, is my namebank weer aan die opbou en is daar sommer stof wat weggevee word op ou name wat ek lankal vergeet het. Ek begin glo in myself. Dit werk! Ek kan sowaar name onthou. (Nog nie heeltemal almal nie, ek werk mos nog daaraan, maar gee kans!)

Ek het dieselfde gedoen met trappe wat die laaste tyd vir my ‘n probleem begin word het. Ek het keer op keer vir myself vertel dat ek jonk en fiks is en wat is ‘n paar trappies nou? Dit verg steeds ‘n bietjie konsentrasie en oorreding, maar deesdae hardloop ek sommer weer trappies uit asof dit niks is nie.

Komaan, vertel vir jou onderbewussyn mooi dinge. Oortuig hom! Vertel hom hoe oulik, slim, mooi jy is. Hoe goed jy met mense regkom. Selfs al glo jy dit nie nou nie, vertel dit vir jou onderbewussyn. Jy sal verstom staan oor die resultate!

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Toe haal ons die maskers af

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap