So, wat is volgende?

Wel, tot op hede het die volgende items alles gebeur die afgelope vier jaar:

Toortsie 3 Skedule (Sedert 2017):

1. Verwerk en toets van resepte, rofwerk resepte, resepte oor en nogmaals oormaak en oorskryf en tik in rekenaar.  – AFGEHANDEL

2. Resepte tik op rekenaar, druk. – AFGEHANDEL

3. Kosmaak van gedrukte kopié, foute regmaak. – AFGEHANDEL

4. Proeflees deur koskenner. – AFGEHANDEL

5. Foto’s en weer eens resepte toets. – AFGEHANDEL.

6. Resepte waar onsekerheid is, verander en weer eens toets. – AFGEHANDEL.

7. Alle foute regstel op rekenaar. – AFGEHANDEL.

8. Foto’s merk met resepname, verseker dat elke resep ‘n foto het, elke foto ‘n naam. – AFGEHANDEL.

9. Alle ander aantekeninge, ens wat nog in die boek moet kom, skryf. – AFGEHANDEL.

10. Konsepboek ingestuur vir proeflees. – AFGEHANDEL

11. Voorblad kies – wat ‘n storie! – AFGEHANDEL

12. Eerste proefleesresultaat terugontvang, voorstelle deurgegaan, weer geproeflees, terug ontvang. – AFGEHANDEL.

13. Alles nog ‘n keer deurgaan en verseker dat daar nie iewers iets met ‘n hoeveelheid of bestanddeel of metode verlore gegaan het nie. – AFGEHANDEL

14. Teks stuur vir die uiteensetting van die boek. – AFGEHANDEL

15. Uiteensetting saam met haar deurgaan. – AFGEHANDEL

16. Boek terugkry, dit weer eens woord vir woord deurgaan om te soek vir moontlike foute wat deurgeglip het. – AFGEHANDEL. Weer eens en weer eens en weer eens woord vir woord deurgegaan, drukkersduiwelfoute reggestel. AFGEHANDEL.

…………………………………..

17. Finale boek na drukkers stuur.

18. Proefkopié ontvang, deurgaan en goedkeur.

19. Die finale druk! 

20. Die groot bemarkingstorie. Want ‘n mens koop ‘n boek net een keer, dan het hy hom. Nie elke maand weer een nie, tensy hy vir iemand anders ook die boek wil koop.

Ja! Ek is nou daar wat ek wag vir verskillende drukkers om vir my kwotasies te stuur. Die bladuitleg is klaar. Alles is klaar. Dis berge oor tot hier, maar hier is ons nou! En ek is opgewonde, want dit gaan mooi mooi mooi wees.

Toortsie 3, is dit nie? Lekker kos vir Banting, Keto, Intermittent fasting, diabete en sommer vir almal wat hou van lekker eet.

Groete

Toortsie

Herinneringe lê oral opgesluit

Ek is besig om al die kosfoto’s in lêers te sit, een vir elke dis. Want al die foto’s is deurmekaar in Google Drive en al het ek elkeen van die baie foto’s se naam en bladsynommers bygesit, is dit steeds nie georden volgens naam nie. Dit maak die werk vir die grafiese kunstenaar onnodig moeilik, want hoe moet sy nou kies wátter een van die vyf of ses foto’s van elke dis die mooiste een is?

Dit maak my natuurlik honger en lus vir kosse wat nie hier in die huis is nie, maar behalwe dit, sluit dit ander herinneringe oop.

Kyk, ek wys vir jou:

Sjinese bakkies uit my ma se goed. Sy het ‘n volledige stel aangeskaf toe Sjinese kos in die mode was. Ek weet nie wat van die stokkies geword het nie.
Die glasbakkie waarin die patatskywe gepak is, is deur my neef en sy vrou vir my as trougeskenk gegee. Dit is deel van die pragtigste stelletjie met ‘n kleine kristal suikerpotjie en melkbekertjie. Sy lewe lankal nie meer nie, is sommer skielik oordag dood aan ‘n asma-aanval.
Hierdie twee wit bakkies was ‘n kombuisteegeskenk van ‘n meisie wat saam met my skoolgehou het.
‘n Bord uit my ma se mooi blou versameling en een van haar pragtige wit porseleinborde waarmee sy die bloues vervang het.
Pragtige teestel van my ma.
Blou eetstel – Trougeskenk van my oorlede broer en sy vrou.

Wag! Laat ek dadelik ophou met foto’s wys! Netnou is julle net so honger soos ek en dit net van foto’tjies kyk! Toortsie 3 is hopelik binnekort klaar. Teen Vrydag as alles goed gaan, ontmoet ek en die grafiese ontwerper om net die finale verstellinkies te doen voor dit na die drukkers gaan, hopelik teen einde volgende week.

Mooi loop!

Toortsie

Ns. Jajaaa, al hierdie kossies kom uit Toortsie se kombuis!

Mensig, ek is opgewonde!

So met die geharwar van die einde van die jaar dinge wat moet klaarkom, dis borduur, en brei en jaareinde en kosmaak vir Toortsie 3 en Nanowrimo en en en het die foto’s van Toortsie 3 gekom, maar het ek nog nie regtig tyd gehad om dit behoorlik deur te gaan en mooi te bekyk nie. Mense! Dit is uit ‘n ander wêreld! Dit is al wat ek kan sê.

Ek het vanoggend begin om dit deur te gaan, net om seker te maak daar is ‘n foto van elke gerig. Ek is so bang ons moet dalk op die ou end weer ‘n foto neem … en is ek nou geïnspireer! Sjoe! Nou moet ek aan die werk spring en dit voltooi. Dalk nie in hierdie jaar nie. Beslis nie in hierdie jaar nie, want Kersfees kom, Kersfees kom … maar niemand keer my mos om intussen deur al die foto’s te gaan en hulle te merk, seker te maak dat al die woorde in die boek is en reg is en en en nie … sodat ek dit vroeg in die nuwe jaar vir die proefleser kan stuur en kort daarna vir die een wat die bladuitleg doen en dan vir die drukkers nie … niemand keer my mos nie, né? Dit is mos net ekself … wat dringend ‘n klompie borduurwerk moet klaarkry en ‘n babakombers moet klaarbrei … want ek geniet mos die VLV so baie. 🙂

Kyk net hier:

Is jy nie ook skielik honger nie?

Toortsie