
Jare gelede het ek ‘n reeks boeke deur Tim LaHaye en Jerry B Jenkins gelees. Dit het gehandel oor die Wegraping. Alles wat in Openbaring gebeur is verwerk in ‘n fiktiewe storie. Dit was die eerste keer wat ek van die Wegraping gehoor het. Al die beelde wat in Openbaring gebruik is, het lewe gekry voor my oë. Alles is letterlik opgeneem en wat met die mense wat agter gebly het gebeur het, was angswekkend. Ons moet gereed wees. Ongeag of die Wegraping gaan gebeur en of Jesus net kom en of ons dalk gaan sterf voor dan, ons moet gereed wees.
Ek het die idee van die Wegraping glad nie verstaan nie. Jesus gaan mos een maal kom en klaar. En ons weet nie wanneer dit gaan gebeur nie. Hoe kom Hy en gee ons nog ‘n kans en oor 7 jaar kom Hy weer?

Maar nou het ‘n ander boek in my skoot beland: After the Rapture – An end times guide to survival deur David Jeremiah. En skielik maak dit vir my meer sin. Nee, Jesus kom nie en kom weer nie. Hy roep net Sy kinders wat in Hom glo voor die heel laaste tye aanbreek. Die boek is geskryf vir mense wat agterbly ná die Wegraping. En nee, die Wegraping het nog nie gebeur nie. En ek hoop van harte dat ek nie een sal wees wat agterbly wanneer dit gebeur nie. Jeremiah bekyk Openbaring vanuit ‘n ander perspektief.

Ek is baie lief vir Openbaring. Dit is vir my ‘n boek van hoop vir hulle wat in Jesus Christus glo. ‘n Boek wat Openbaring op ‘n baie duidelike manier verklaar, is Openbaring Ontsluit deur Riekert Botha.
Die merk van die dier. Jeremiah skryf aan hulle wat agterbly: MOENIE DIE MERK NEEM NIE. Wanneer die Antichris jou sal dwing om die 666 op jou liggaam te laat tattoëer of hoe dit ookal aangebring sal word, moenie dit neem nie. En ja, jy gaan verhoed word om te koop of te verkoop. Om kos te koop. Om dokter toe te gaan. As jy nie die merk gaan neem nie, gaan jou alledaagse lewe hel raak. Gaan vervolging van hulle wat in Jesus Christus glo, baie vererger.
Terwyl ek dit lees, kry ek so ‘n effense benoudheid oor my. Ek dink aan die druk wat daar was om die inenting teen Covid te kry. En nee, die inenting was NIE die merk van die dier nie. Ek het baie oor die inenting gelees, veral wat navorsers daaroor geskryf het. Nie sommer net ‘nonsens’ wat oral op Facebook en Twitter verskyn het nie. Ek het selfs ‘n kursus daaroor gedoen by Nutrition Network. Ek was nie teen die inenting nie. Ek het wel gevoel dat ek, omdat ek toe reeds Covid gehad het, selfs beter beskerm was as wat die inenting vir my sou beteken. Maar die druk was groot en hulle wat fanaties ‘vir’ die ent was, wou na geen rede luister nie. Groepsdruk het gemaak dat ek my daardie dag laat ent het, selfs al het my hele wese daarteen geskree. En noudat die bewyse steeds begin instroom, is die ontkenning steeds groot by soveel wat ‘vir’ die ent was.
Ek dink dat die druk om die 666 te neem, net soveel groter gaan wees as die ou bietjie druk vir die ent. Die probleem is dat, anders as die ent, die 666 ewigheidswaarde gaan hê. Dit gaan nie net ‘n liggaamlike ent wees nie, maar ‘n merk wat ‘n invloed op die res van tyd gaan hê.
Mag ons wat glo in Hom wat lewe, sterk staan teen die aanslae en veral die druk. Mag ons oë gevestig wees en bly op Jesus Christus en mag ons gereed wees wanneer Hy kom. Mag ons eerder die 777 kies.
Toortsie