Die Krugergeheim

Die Krugergeheim is toe nié waar oom Paul sy miljoene begrawe het nie, die Towerinne het mos in elk geval lank gelede daardie geheim ontrafel.

Wat die Transvalers wel vir ons Kapenaars geheim hou, is hoe ongelooflik mooi die wildtuin hierdie tyd van die jaar is. Ons Kapenaars kom mos tradisioneel Junievakansies Kruger Wildtuin toe, ander tye is dit te … te uhm … wat nou weer?

Nadat ons ‘n paar jaar gelede in September by die wildtuin was, het ek gesê: van nou af kom ek altyd September. Die veld is só droog, jy sien baie diere. En leeus. Sommer langs die pad. Of dalk was ons net ekstra gelukkig?

Elke keer sê my man dat hy graag wil kom as die veld mooi is. In die reënseisoen. Dan dink ek dat jy min diere sal sien, want die veld is mos dan ruig.

So besluit ons om vir Paasnaweek wildtuin toe te kom. Wat ‘n wonderlike verrassing! Wag! Eintlik moet ek nie eers vir julle vertel nie, dan stroom almal van julle in die toekoms in April hierheen en dan is dit vol as ek wil kom. Die veld is onbeskryflik mooi. Dis ‘n lushof! Tot Satara, waarvoor ek nooit lief is nie omdat dit altyd so droog is, is lieflik groen.

Hier is heeltemal genoeg diere om ons te vermaak en hulle doen behoorlik moeite om vir ons plesier te verskaf.

Hier is ook heelwat kleintjies (babatjies) wat aanmekaar ‘n koor van aaaaauuuu veroorsaak. Die olifante geniet hulleself in die poele wat diep genoeg is sodat hulle sommer kan diep insak daarin. Dis nou sommer poele langs die pad waar daar gewoonlik nie eers water lê nie. Tot die seekoei maak ‘n lekker omdraai sodat haar voetjies bo die water uitsteek. Ons verkyk ons aan hulle en geniet elke sekond.

Ek is van voor af verlief op die wildtuin en dink nou by myself dat April beslis die tyd is om hier te wees.

Leeupan

Kyk nou net vir Leeupan. Ek het hom nog nooit so mooi gesien nie. Die vorige keer wat ons huer was, was dit kurkdroog en nie ‘n dier in sig nie. ‘n Ander keer wat ons hier op ‘n bossafari was, is ons te viet om die pan en het ons twee olifante, ‘n renoster, buffels en kameelperde raakgeloop.

Het ek gesê dat ek van voor af verlief is op die wildtuin? Ag, dan sê ek dit sommer weer! Hopeloos verlief, dis wat dit is.

Toortsie

Ns, Transvalers, julle het sekerlik nóg geheime, maar ek het julle nou uitgevang op hierdie een!

Kattetoer

Hier is dit nou ons laaste namiddag by die wildtuin. Wat ‘n wonderlike ruskansie was dit nie!

Ons Kapenaars kom gewoonlik in die Junie-vakansie, so dit was ‘n heel ander ervaring om in September te kom. Die veld is defnitief droër as hoe ons dit in Junie ervaar.

Aanvanklik het ek gedink ons sien min diere, maar dat dit wat ons sien elke keer spesiaal is, sommer teen die pad. Op die ou end kan ek sê ons het baie diere gesien.

Vir my word die geslaagdheid van die wildtuin mos eintlik gemeet aan die aantal, maar ook die aantal kere wat ons olifante sien. Hulle het nie teleurgestel nie!

Ons het baie renosters gesien, ook seekoeie, ‘n paar krokodille, troppe buffels, kameelperde, natuurlik rooibokke, skilpaaie!, njalas, blouwildebeeste.

Ek steur my gewoonlik nie te veel aan die katte nie, maar hierdie was regtig ‘n kattetoer. Tien leeus! Twee luiperds, en twee keer jagluiperds gesien, een keer een met ‘n kleintjie. Al hierdie was teen die pad en net ‘n plesier.

Dankie, ons het heerlik gerus en sal nou weer die uitdagings op ons pad in die oë kan kyk. 😊

My ou selfoontjie doen sy ding, né? Liza van Country Living het belowe dat ons mooi goed gaan sien, net omdat ek nie ‘n groot bazuka vir ‘n kamera het nie! 🤪

Toortsie

Salig

Ons kuier net suid van die wildtuin by ‘n wildsplaas wat semi deel is van die Kruger Wildtuin. Die seekoeie swem sommer hier naby en ons sien troppe olifante in die verte, rooibokke, selfs buffels. Ons hoor ‘n mannetjiesleeu.

Maar Toortsie wil wildtuin toe. Mens ry nie 1800 km, drie dae aanmekaar, net om die wildtuin te beskou van oorkant die rivier af nie.

Vroeërjare het ek ‘n tipe angstigheid in my gehad as ons die wildtuin besoek het: Watter diere sien ons? Sien ons genoeg diere?

Tot ek agtergekom het: Eintlik is al wat saakmaak dat ek ‘n paar keer olifante sien. Die res is ‘n bonus.

Ons ry ons eerste dag en God stuur troppe en troppe olifante. En natuurlik rooibokke en kameelperde en sebras. Krokkodille. Apies. Koedoes. Waterbokke. Die mooiste blou voëltjies.

Maar dit gaan oor meer as dit. Die afgelope week of wat se gekrap in my gemoed raak ligter, uitgesorteer in die bosveld. Ek raak rustig in my hart. Dit was gister. Ek vra vir manlief of ons vandag weer kan ry.

Hierdie keer sien ons amper nie diere nie. Dis net ek en my gedagtes in die bos en die vrede sak terug in my hart. Die onstuimigheid verdwyn. Skielik besef ek dat dit regtig nie saakmaak dat ons nie diere sien nie.

Toe stuur God die Swartwitpens. Raar. Ewe statig staan hy daar.

Ons besluit om deur die wildtuin te ry na ‘n ander hek, eerder as buite-om. En daar, in die pad, staan sewe witrenosters. Hulle hardloop tussen die bosse in, net om vir ons te gaan inwag in die volgende oopte!

Skielik is daar net orals diere! Sebras, kameelperde, bokke, ‘n hele trop buffels en weer eens renosters. Wat ‘n seën!

Het ek vertel dat ons elke middag die kar iewers onder ‘n boom intrek en ‘n middagslapie vang? 😱😂 Die beamptes het kom vra wat ons maak en was heel tevrede met ons antwoord dat ons ‘n bietjie slaap. Kan jy dit nou oorvertel! 😱

Groetnis

Toortsie

Boskamp

Terwyl ek vir 3 dae in die Kruger Wildtuin te voet tussen die bosse en diere deurgebring het, het ek soveel keer die woorde in my kop gehad wat ek hier wou kom skryf. Maar dan het ek nie my rekenaar by my gehad nie en nou het daardie lekker woorde in die bos agtergebly… nes my spore…. 🙂

Al wat ek weet, is dat dit een ding is om in die wildtuin in ‘n motor te ry en die trop olifante kom voor jou verby gestap. Dis ‘n heel ander ervaring om te voet te wees, enkele meters van die olifant af, met net ‘n dunne doringboompie om agter te skuil, dít terwyl die betrokke olifant heeltemal daarvan bewus is dat jy daar staan, én nie lekker voel nie, want hy was in ‘n geveg betrokke en daar is ‘n gat in sy kop…   Dis sulke tye wat jy leer wat is totale oorgawe, want jy weet jy kan op die aarde niks doen nie. Nie hardloop nie. Nie skree nie. Net stilstaan en vertrou in God en in die veldwagters wat duidelik weet wat hulle doen. Video.

Weet julle hoe voel dit om naby naby aan ‘n trop zebras verby te stap, terwyl hulle vir jou kyk, met ‘n kameelperd wat versigtig agter jou aanstap, net om seker te maak jy loop wel weg?

Om in die aand in Etosha in ‘n kamp te sit, veilig agter drade, en die wit renosters baklei voor jou by ‘n watergat wat verlig is, is ‘n ervaring wat jy nooit vergeet nie. Om egter ‘n hele dag lank in digte bos te stap, oral die spoor en merke van renosters te sien, uriene wat nog warm is… om gewaarsku te wees dat ons op swart renosters kan afkom, wat glo in die beste van omstandighede uiters aggressief is… en dan ‘n hele trop van hulle (swartes) raak te loop terwyl twee bulle verwoed baklei…   onbeskryflik!

Om ‘n boskamp in die Kruger Wildtuin mee te maak is iets van die mees spesiale dinge wat ek in my lewe gedoen het. Soveel bederf. Elke aand ‘n ekstra lang nagrit waar diere wat jy gewoonlik nie sien nie, te sien is. Allerhande soorte baie skaars katte. Weet julle hoe lyk 6 jagluiperde by mekaar? Dis ook blykbaar ‘n rariteit om soveel saam te sien. Weet julle hoe fantasties is dit as jy ‘n hele trop wit renosters in die pad kry in die nag? en hulle kom rustig nader en nader aan die voertuig? Sundowners by watergate en uitkykpunte…

Baie baie dankie aan die erewagte van die Oos Rand Streek. Dis al wat ek kan sê. Dankie. Baie baie dankie aan die twee veldwagte, Jannie Jurgen en Scott Walker vir die manier wat julle die diere, die veld en die mense in julle sorg hanteer het. Danksy julle het ons veilig gevoel.

willetoorts