Boere

Uit die aard van ons werk en belangstelling, gebeur dit dat ons by baie boere kom, regoor die wêreld, en as daar een ding is, ‘n boer is ‘n boer is ‘n boer.

Of dit ‘n skatryk, vooruitstrewende boer is, of ‘n klein boer is wat ‘n sukkelbestaan voer, ‘n boer is ‘n boer is ‘n boer. Armgat, windgat, luigat, fluks, dit maak nie saak nie.

Of dit ‘n appelboer is in Grabouw, of ‘n koringboer is in die Overberg, ‘n wingerdboer in Robertson, ‘n volstruisboer in De Rust, ‘n boer is ‘n boer. Jy ken hom uit. Daar is ‘n gasvryheid, ‘n gulhartigheid, wat uitkenbaar is. Ook ‘n planmakigheid.

Jy kuier ewe lekker by die melkboer in die Suid-Kaap as by die mielieboer in Mpumalanga of die katoenboer in die Springbokvlakte.

In Parys is dit die boere in die groep wat die te kort tydjie gebruik om gou met die Eiffel op te gaan, in plaas van doelloos in die koue rond te staan. Al die boere het soos een man gehardloop om dit te doen en slegs die boere het dit gedoen.

Pla jy ‘n mielieboer in Orania in oestyd, kan hy net nie ophou gesels nie. Gou hoor jy dat hulle ook maar al harde bene moes kou in hulle leeftyd, nes die meeste ander boere in die wêreld.

Dieselfde liefde wat die grondboontjieboer vir grond tussen sy vingers het, sien ek in die Wes-Australiese boer se oë, wat se vrou ‘n pik as trougeskenk gekry het om duwweltjies uit te kap. Hoor ek wat my Oos-Australiese boerevriendin frustreer, sou ek dink sy woon in die Wes-Kaap.

Kom ek in Amerika by die mielieboer waar die mielies ver bo ons koppe uittroon, sien ek dieselfde trots van geslagtelank boere wees, as die oupa, pa en seun ons saam inwag.

In Denemarke het ons seker 20 boere besoek: Groot boere, klein boere, gerekenariseerde stalle, organiese boere. Orals het ek tuis gevoel, dieselfde boeredraad was daar. Ook húlle weet van spartel met die natuur, van kalwers wat vrek. Ook hulle ken die reuk van koeimis, voel dit aan hulle vel.

Selfs in Skotland, waar ek sommer aan Bell en Isabel se deur gaan klop het, was die vreugde groot dat ‘n boervrou uit Suid-Afrika vir hulle kom hello sê en met trots het hulle die een koei in die skuur gaan wys, en ek weet dat hulle nog vir dae daarná daaroor sou gesels.

Kom ‘n bus vol Australiese boere vir ons besoek, kan hulle hul geluk nie glo as ons hul agterop bakkies laai en hulle die skape en springbokkies kan geniet nie. Die tydjie is net áltyd te kort!

By ‘n forelplaas sê die vrou sy kan aan ons uitklim en loop sien dat ons boere is. ‘n Stadsvriendin kon nie glo dat ons plat op die gras sit nie!

Al waar ek nie die boeregevoel gekry het nie, was in Egipte, waar dit eintlik maar stad is, selfs al is dit plaas. Ek vermoed dat ons net in die boerderygebied gekuier het, dalk nie by boere self nie. Tog was die gasvryheid besonders.

Maar ek hou daarby: ‘n Boer is ‘n boer is ‘n boer. Dis in ons bloed, dis in ons gene.

Groetnis

Toortsie

oor klokke en klokstelsels

Dis seker nou al meer as 20 jaar wat ons loon-stelsel só lyk: Ons aanvaar al ons mense val ‘n sekere tyd in en ‘n sekere tyd uit, en dan is daar tye in die dag vir etes. Indien iemand vroeër inval, of later uitval, of oor sy etenstyd werk, hou hyself boek daarvan. Op ‘n Maandag moet die vorige week se oortyd dan op ‘n briefie geskryf wees, wat in my man se bakkie in die wasgoedpennetjie, wat spesiaal vir daardie doel in sy bakkie vasgeplak is, vassteek. Hulle kan dit ook onder sy kantoordeur steek. Manlief skryf almal se oortyd op ‘n bladsy en ook alle ander probleme wat daar mag wees, en wanneer ek dan maandeliks my lone doen, gebruik ek net die papier. Maklik. Almal is gelukkig.  Pappa voel in beheer, hy kan presies sien wat aangaan, waar iemand probeer kul, en die werkers is ook tevrede. Maar Departement Arbeid sê: NEE. Dit moet daagliks (of weekliks) in ‘n boek opgeskryf word deur die werkers self. Soos ons dit doen is nie reg nie.

In dieselfde week het ons ook ‘n dieseloudit gehad (verlede jaar). Op ons plaas word DIESEL gebruik. Liters en liters daarvan. Hier is 31 voertuie wat diesel gebruik, waarvan slegs een vir privaatdoeleindes gebruik word. Hierdie (privaat)voertuig gooi nie eers elke week diesel in nie!! Daar is ‘n dieselrabat omdat plaasvoertuie nie eintlik van paaie gebruik maak nie en daarom nie die heffings moet betaal wat padverbruikers betaal nie. Destyds is die reël toe só gemaak: Jy mag die rabat eis op 80% van jou dieselgebruik. Ons aanvaar 20% mag dalk wees vir privaatgebruik. Toe skielik in verlede jaar tref die skok die boerenasie: ONS MOES BOEKHOU VAN ELKE KILOMETER!! Mense, ons werk met mense wat nie kan lees en skryf nie, ons werk in stof en modder en grond en wind… HOE moet dit gedoen word? Die uiteinde is dat ons dit nog verkeerd verstaan het ook. As ons R100 se diesel gekoop het, mag ons slegs 80% van 80% daarvan eis… My Honda-karretjie gebruik NIE soveel privaat diesel nie. Regtig nie.

Maar toe word daar TEN DUURSTE ‘n dieselbeheerstelsel en ‘n lone-klokstelsel op 3 verskillende punte ingesit. Ek praat van derduisende rande. Penny wise, pound foolish. En almal se monde is dik. Want dis ‘n ongerief vir al wat leef en beef, werker én werkgewer.

Nou ja, hier is ons nou twee maande aan die gang, en weet julle wat? Die goed werk!! Sowaar!!! Ek dink ons is oor die groeipyne. En ek vermoed dit kan dalk ‘n “blessing” wees. Al moet ons vir die man wat nie kan lees nie, ‘n rekkie om die regte drukknoppie sit, sodat hy dit vir die regte kostesentrum uitboek… 😉

Nuwe dae nuwe dinge

maarvorentoegaanonstoorts

Of gaan ons?

Toorts se troutip: Het jy al vir jou huweliksmaat dankie gesê dat hy/sy juis vir jou tussen al die duisende gekies het?

 

Jy is betrokke by landbou

Ek gebruik nou my vriend, Tjoppie, se woorde, maar hy het dit so mooi gestel, ek kan nie anders as om dit te herhaal nie: “Vandat jy in die oggend jou oë oopmaak, is jy betrokke by landbou.” Nie net die boere, die kunsmis-agtent, die landbou-voorligter, die persoon wat by die koöperasie werk nie. Nee, ELKE MENS, ek, ook jy wat dalk in die stad woon en nog nooit op ‘n plaas was nie, dalk nie eers ‘n boer of boervrou ken nie, vandat ons ons oë in die oggend oopmaak, is ons betrokke by landbou!!

Want sien, daardie eerste koppie koffie of rooibostee is deur ‘n boer vir jou daar neergesit. Dit behels die koffiepitte wat ek nie eens weet waarvandaan dit kom nie, die suiker wat van Natal af kom, die melk wat iewers 4 vm uit ‘n koei se speen getrek moes word. Selfs as jy Cremora gebruik, is daar melkvastestowwe in, wat uit regte melk onttrek is.

Jou ontbytpap word iewers op ‘n graanplaas vir jou geproduseer, of dit nou oatspap (hawer!!) is, of mieliepap (mielies!!) of All Bran (koring). Die muesli is saamgestel uit ‘n klomp verskillende produkte wat van orals in die land bymekaargemaak word, dis vrugte wat gedroog word, neute, en wat nog alles? Die joghurt kom natuurlik van daardie selfde melk wat ek hierbo genoem het.

Die vrug wat ons so met sorg by die winkel uitsoek, moes vroegtydig met die hand gepluk wees, versigtig hanteer word, met slegte paaie vervoer word mark toe, weer eens vervoer word winkel toe tot dit uiteindelik op die winkelrak verskyn.

Ons is steeds nog net by ontbyt. Wat van daardie heerlike volgraanbrood? Dis ‘n lang proses van graan wat geplant en ge-oes word, tot by die meulenaar, dan die bakker en uiteindelik beland dit op jou bord.

Ek hoef sekerlik nie aan te gaan na middagete, die vleis- en groenteproses hier te verduidelik nie. Ek dink ek het my punt gemaak.  Wat ek wil vra, is, asseblief, respekteer die boere. Elke dag. Ons het ‘n enorme taak om die wêreld te voed, en die mense raak steeds meer, landbougrond raak minder, omstandighede raak moeiliker, wetgewing strenger. Boere is nie deel van groot maatskappye waar miljoene rande deur aandeelhouers gedeponeer word nie. Nee, boere is vir elke sent wat hulle waag, self verantwoordelik. Moenie dit vir ons nog moeiliker maak nie. As dit met die boere van ‘n land sleg gaan, gaan dit met die hele land sleg. Geen land kan bekostig om nie selfvoorsienend te wees nie. Ons mag nie ons voedselsekerheid op die weegskaal plaas nie.

Soos vriend Tjoppie sê, ek, jy, elkeen van ons is betrokke by die landbou!!

Mooi jaar vir julle

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Om te pendel saam met jou man

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

oor die einde van die wêreld, huwelike, en nog wat….

Ek was ongeveer in standerd 4 toe daar ‘n baie groot artikel was oor vandag, 21 Desember 2012. Dit was in 1974… daar rond. Baie ontstellend. Veral vir ‘n laerskooldogtertjie. As ek reg onthou het die artikel voorspel dat al die planete dan nou vandag in ‘n reguit lyn sou lê en dat die aantrekkingskrag van almal en ook nog dié van die son sou maak dat die hele spul mekaar sal aantrek en inmekaar konk. ‘n Big Bang!!!!! DOEF!….. wel, dit lyk of ons dit darem gespaar is….

Soveel mense haal dan graag die Bybel aan, naamlik dat niemand weet wanneer die einde van die aarde is nie, selfs Jesus weet nie, en dan leef ons rustig voort. Ander weer, haal aan dat Jesus nie sal terugkeer voordat almal nie van Hom weet nie. As ek reg het, sê die vers, voor alle volke nie van Hom weet nie…., dan leef ons in gemak voort, want nie almal weet van Hom nie, so dit gaan nie gou gebeur nie. Intussen vergeet ons dat ons binne die volgende sekond of 2 ons laaste oomblik kan beleef. Ook vergeet ons dat Jesus REGTIG gaan terugkeer en ons vergeet van Sy allerlaaste, allerbelangrikste OPDRAG….. “Maak dissipels van ALLE nasies…..” en dat die opdrag bedoel is vir ELKEEN wat Hom as sy Verlosser erken….

Ek hoor van soveel kennisse wie se huwelike in krisisstadiums is, òf hulle is reeds uitmekaar, of hulle probeer weer, of hulle probeer nie…. Die wêreld waarin ons leef is nie huwelik-vriendelik nie. Soos iemand gesê het, toe sy in haar nood op die internet geswerf het om hulp te soek toe haar huwelik verpletter, was, behalwe op hierdie blog, GEEN iemand wat vir haar aangemoedig het om te probeer vasbyt nie. Mense, ek praat nie van huwelike waar mense aangerand word nie. Sommer net huwelike waar huweliksmaats vere voel vir mekaar en vir hulle huwelik, waar mense moedeloos raak en nie meer weet hoe om hulle onbelangstellende huweliksmaats gelukkig te hou nie. Mans se mond water as die buurman ‘n nuwe jong dingetjie nadertrek. Gesprekke rondom die braaivleisvuur is nie gunstig vir huwelike nie. Huweliksmaats dink niks daarvan om mekaar te verneuk nie. Niks. Wel, al wat ek kan sê is dat ek al moes help optel aan die stukke wat so iemand agterlaat….. en DIT IS GEEN GRAP NIE!! Daarom smeek ek julle!!! Veral oor hierdie feesseisoen, maar ook in jou alledaagse lewe – pas jou huwelik op! Werk daaraan. Dit is beslis nie elke dag maanskyn en rose nie, maar dis beslis die moeite werd!! Die eerste 2 mense wat God gemaak het het hy as man en vrou gemaak, as gesin, omdat dit is hoe Hy wil hê ons moet funksioneer. Hy het hulle nie as ‘n komitee gemaak nie!!!

Vir oulaas…… Dink aan die boer as jy daardie lekker happie in jou mond druk!! 😉

Geniet die feesseisoen saam met die man/vrou van jou jeug, die een met wie jy getroud is.

Toorts