Boere

Uit die aard van ons werk en belangstelling, gebeur dit dat ons by baie boere kom, regoor die wêreld, en as daar een ding is, ‘n boer is ‘n boer is ‘n boer.

Of dit ‘n skatryk, vooruitstrewende boer is, of ‘n klein boer is wat ‘n sukkelbestaan voer, ‘n boer is ‘n boer is ‘n boer. Armgat, windgat, luigat, fluks, dit maak nie saak nie.

Of dit ‘n appelboer is in Grabouw, of ‘n koringboer is in die Overberg, ‘n wingerdboer in Robertson, ‘n volstruisboer in De Rust, ‘n boer is ‘n boer. Jy ken hom uit. Daar is ‘n gasvryheid, ‘n gulhartigheid, wat uitkenbaar is. Ook ‘n planmakigheid.

Jy kuier ewe lekker by die melkboer in die Suid-Kaap as by die mielieboer in Mpumalanga of die katoenboer in die Springbokvlakte.

In Parys is dit die boere in die groep wat die te kort tydjie gebruik om gou met die Eiffel op te gaan, in plaas van doelloos in die koue rond te staan. Al die boere het soos een man gehardloop om dit te doen en slegs die boere het dit gedoen.

Pla jy ‘n mielieboer in Orania in oestyd, kan hy net nie ophou gesels nie. Gou hoor jy dat hulle ook maar al harde bene moes kou in hulle leeftyd, nes die meeste ander boere in die wêreld.

Dieselfde liefde wat die grondboontjieboer vir grond tussen sy vingers het, sien ek in die Wes-Australiese boer se oë, wat se vrou ‘n pik as trougeskenk gekry het om duwweltjies uit te kap. Hoor ek wat my Oos-Australiese boerevriendin frustreer, sou ek dink sy woon in die Wes-Kaap.

Kom ek in Amerika by die mielieboer waar die mielies ver bo ons koppe uittroon, sien ek dieselfde trots van geslagtelank boere wees, as die oupa, pa en seun ons saam inwag.

In Denemarke het ons seker 20 boere besoek: Groot boere, klein boere, gerekenariseerde stalle, organiese boere. Orals het ek tuis gevoel, dieselfde boeredraad was daar. Ook húlle weet van spartel met die natuur, van kalwers wat vrek. Ook hulle ken die reuk van koeimis, voel dit aan hulle vel.

Selfs in Skotland, waar ek sommer aan Bell en Isabel se deur gaan klop het, was die vreugde groot dat ‘n boervrou uit Suid-Afrika vir hulle kom hello sê en met trots het hulle die een koei in die skuur gaan wys, en ek weet dat hulle nog vir dae daarná daaroor sou gesels.

Kom ‘n bus vol Australiese boere vir ons besoek, kan hulle hul geluk nie glo as ons hul agterop bakkies laai en hulle die skape en springbokkies kan geniet nie. Die tydjie is net áltyd te kort!

By ‘n forelplaas sê die vrou sy kan aan ons uitklim en loop sien dat ons boere is. ‘n Stadsvriendin kon nie glo dat ons plat op die gras sit nie!

Al waar ek nie die boeregevoel gekry het nie, was in Egipte, waar dit eintlik maar stad is, selfs al is dit plaas. Ek vermoed dat ons net in die boerderygebied gekuier het, dalk nie by boere self nie. Tog was die gasvryheid besonders.

Maar ek hou daarby: ‘n Boer is ‘n boer is ‘n boer. Dis in ons bloed, dis in ons gene.

Groetnis

Toortsie

Advertisements

10 thoughts on “Boere

  1. Ek het duidelik nog nie soveel boere ontmoet soos jy nie (wat ‘n blessing moet dit nie wees nie!), maar een ding is verseker – die paar wat ek al ontmoet het is almal dieselfde: passievol oor elke stukkie van hulle grond, gasvry en altyd gereed om iets te drinke aan te bied! Jou werk klink ‘amazing’!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s