Resensie

Sy vra dat ek ‘n resensie moet skryf op die internet. Of so dink ek dat sy dit vra. Want my Engels is maar min en hare is heeltemal op. Of dalk het sy dit nog nooit gehad ook nie. En my Italiaans beperk tot die paar musiekterme wat ek in my hoërskooldae vir musiekteorie-eksamens moes leer en dit wat sy gesê het, het nie soos een van hulle geklink nie.

Ek het vandag ons huurkar verloor. Of dalk nie so heeltemal verloor nie. Eintlik net die papiertjie. Die bewys dat ons ons kar by daardie parkeergarage ingegee het. Toe ek kos gekoop het. Of my neus wou blaas en ek die sakkie snesies uit my piepkleine handsakkie wou uithaal. Of dalk toe ek my selfoon die hoeveelste keer uit dieselfde piepkleine handsakkie wou haal om foto’s te neem. En ek juis gedink het dat dít darem nou regtig ‘n goeie koop was, die selfiestok. Selfiestok maak foto’s darem net ‘n bietjie meer natuurlik as selfies waar een persoon altyd duidelik uitstaan as die een met die arm wat die foon vashou.

In elk geval, toe ons by die parkeerplek kom, is die papiertjie weg. En ons weet nie eers behoorlik watter soort kar dit is nie, wat nog te sê wat die registrasienommer is. En húlle het die sleutel by hulle, want hulle gaan parkeer die kar op ‘n veilige plek.

Gelukkig het die dame by die verhuuragentskap vir my ‘n e-pos gestuur toe ons die kar gehuur het. Ek kon vir haar die registrasienommer vra terwyl my man en die karhuurman die kar loop soek het.

‘n Paar uur later besef ek dat, toe ek ietwat paniekerig met die verhuuragentskap besig was, ek die selfiestok neergesit het en nie weer gevat het nie. Op ons terugtog met die erg nou pad wat eintlik ‘n eenrigtingpad moet wees, maar ‘n tweerigting waar selfs busse by mekaar verby moet knyp, draai ons toe maar weer met die eenrigtingpaadjie af na die parkeerplek.

En daar lê die selfiestok! En ek is so bly! En sy vra vir ‘n resensie of dalk iets heeltemal anders. Maar, hier is dit. As jy parkeerplek soek, die eerste parkeeragentskap wat jy kry op die eenrigtingpad nadat jy afgedraai het na Positano, gebruik dit! Hulle is wraggies oulik!

Toortsie

17 thoughts on “Resensie

    1. Die ergste is… toe ek die papiertjie in my handsakkie sit, het ek nogal gedink dat ek dit nie moet verloor nie. Maar aan die einde het alles goed afgeloop. Ons het die huurkar én die selfiestok gevind. Ek hou van die Italianers.

      Like

  1. Wat ‘n storie Toortsie! Ons het spesiale “toer sakkies” wanneer ons die wa-pad vat en daar is hierdie een zip sakkie wat bedoel is vir belangrike goete, soos ‘n “boarding pass”, bus kaartjie of iets dergliks … en keer op keer beland daar ‘n sneesdoekie tussen-in en dan is die hele “sisteem” in sy dinges! Maar in julle geval … end goed alles goed!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!