Hello 2021

Ja. Toortsie het gearriveer. Opgedaag. Sy is nou ook in 2021. Uiteindelik.

Soos almal weet, het 2021 vir my vreemd afgeskop. Op 3 Januarie 2021 is ek geinfekteer met … julle weet wat. Wat beteken het dat alles anders verloop het.

Onder ‘n siek wolk is ons die dag terug huis toe van die see af. Ek het net genoeg krag gehad om ons klere in te pak en die meeste skottelgoedjies te was. Die huis is vuil agtergelaat met nóg ‘n bak of twee wat nie gewas was nie.

Die dorpshuis het mos toe al ‘n hele ruk leeg gestaan, en julle weet mos hoe so ‘n huis lyk. Nie lekker om in te leef nie. Ons het maar so bokant die stof oorleef. Geveg om aan die lewe te bly. Geveg met wat ons het. Nie gesteur aan ‘n huis wat nie is soos wat hy moet wees nie. Gelukkig kon kuiergaste nie ‘n myl van ons af met gemak verbystap nie, so hier was darem nie ‘n toestroming nie.

Iewers het ek weer begin asem kry. Lewe kry. Krag kry. Maar die dierbare vrou wat my help, het haar eie gesondheidsgeveg om te veg, wat gehelp het dat my huis ook maar stuk-stuk weer begin leef het.

Maar iewers in hierdie proses het ek heelwat van my draad verloor. Die draad het kort geraak tussen min asem, min krag, frustrasies wat al vir baie lank aankom, mense wat nie hulle beloftes nakom nie …

Nou, terwyl ek Transformation Prayer Ministry se You-tube opnames van lewendige opleidingsgesprekke kyk, ook in my stiltetyd, ook in my alledaagse gedagtes, begin ek wonder: Was ek nie arrogant in my geloofsuitsprake nie? Was ek nederig genoeg? Was ek nie in só ‘n vegtende modus dat ek op sommige plekke onnodig geveg het nie? Té reguit was waar dit regtig nodig was nie, maar ek weet mos hoe reguit ek regtig soms kan wees. Is daar plekke waar ek moet gaan regmaak? Ek weet mos dat ek nie profeet moet wees as ek kwaad is nie. Moet ek kyk na my kort van draadheid?

Ja, my 2021 het gekom. Dit voel of ek ook aangekom het. My huis is silwerskoon, danksy mense wat my kom help het. Die hemelhoë hoop strykgoed is weggewerk, amper weggepak. Dit lyk of ek dalk my borduurwerk betyds sal klaarkry, dis nog net die soom wat gewerk moet word. Dinge begin weer sy normale gang gaan. Ja, daar ís uitdagings op die pad, maar watter pad het dit nie?

En my God? Hy ken my hart. Hy weet wat ek bedoel het, selfs al het dit dalk hooghartig of arrogant oorgekom. Na Hom kyk ek net met dankbaarheid, want as Hy nie langs my gestaan het nie …

Vandag is ‘n helder dag. Swellendam se berg is duidelik te sien. Die windtorings draai duidelik daar ver, eintlik wil ek sê op die horison, maar dit is nie reg nie, want die berg is nog ágter dit.

In TPM leer ek, dat jy optree volgens wat jy glo. Dit wat jy diep in jou hart glo, selfs al sê jy anders.

Nou toe! Laat ek 2021 aanvat! Voor hy verby is en ek nog niks gedoen het aan hom nie! Dit sal darem ‘n vreeslike skande wees.

Toortsie

13 thoughts on “Hello 2021

    1. Baie dankie. Ons dominee het vanoggend sy afskeidsoreek gehad. Hy het in die hospitaal gaan draai en so vinnig genoem hoe hy maar die suurstofppmpie dopgehou het, want té gereeld word iemand uitgestoot wat dit nie gemaak het nie. Sjoe. Ek het baie om voor dankbaar te wees.

      Like

Gesels saam, asseblief!