Vóór die week om is en ek nie geskryf het nie, laat ek dit sommer nou doen. Hoeveel keer, wanneer ek Scrapy se uitdagings sien, dink ek dat ek ook wil deelneem net om ‘n week later die volgende uitdaging te sien en nie geskryf het nie. Die ding van bloguitdagings is dat dit jou aanmoedig om te skryf, veral soms oor onderwerpe wat jy nie normaalweg sou skryf nie. Dit leer jou om buite die boks te dink en ontwikkel beslis jou skryfwerk.
Opwinding. Opgewonde.
Dit ís maar my geaardheid dat ‘n bietjie adrenalien vir my woema gee. Dit maak jou moeg, maar dit gee beslis vir my ‘n huppel in die stap.
Ek is opgewonde (lees dankbaar) dat my jaar uiteindelik begin het, soos reeds genoem. Ek het beslis gefrustreerd begin raak. Knorrig. Kort van draad. Maar my dinge begin nou weer op dreef kom, is al op dreef en ek is bly. Ek wil nie vanjaar weer so ‘n hopballetjie op steroïede wees soos verlede jaar nie, asseblief tog nie, maar ek wil regtig darem ook nie net ‘n jellievis wees wat op die sand uitgespoel het nie. Dit sal my mal maak en vir julle ook!
Ek is opgewonde. My borduurwerk is amper klaar! Hopelik vandag nog, maar as dit nie die geval is nie, behoort dit die naweek te gebeur. So, ek voel rustig. Ek dink dat ons dalk nie Seegogga se vissies moes rondskuif nie, hare was meer in balans, maar ek voel geweldig tevrede, dankbaar, opgewonde oor my borduurstuk. Ek sal dit eers later vir julle kan wys, want dit is ‘n kompetisiewerk. Dit was die eerste keer in my lewe wat ek Swartwerk doen. Ek het wel die vorige jaar ‘n stukkie ingewerk in my stekelap. Ek het baie patrone leer doen, dit is nogal ‘n uitdaging, hoor! Want die geheim is dat jy ‘n sekere ritme in elke patroon moet uitdink, jy mag nie twee keer oor dieselfde plek aan die voorkant gaan nie en jou ritme mag nie verander as jy eers begin het nie. Die agterkant moet ook dieselfde lyk, nie presies dieselfde nie, maar dit word met vier oë beoordeel. As myne uitval in die proses van beoordeling, gee ek glad nie om nie, want ek het elke steek wat ek gemaak het, geniet en soveel geleer.
En ek is opgewonde oor volgende jaar se VLV-uitdagings. Die boeke lê klaar reg. Die borduurwerk is weer eens Swartwerk, maar hierdie keer daag hulle ons uit om kleur waaghalsig te gebruik. Ja, en julle weet hoe voel ek oor kleur gebruik né? Nie drie of vier ou kleurtjies nie. O nee, elke kleur wat moontlik bestaan plus ‘n paar ekstra nog. Ek weet wat ek wil doen en kan nie WAG nie. Ek is bevrees, ek wil reeds weer baie meer doen as die 750 vierkante sentimeter, anders gaan my prentjie nie inpas nie. Oeeeee ek kan nie wag nie!
En die ekstra uitdaging wat hulle vir volgende jaar gee, is ‘n macrame muurbehangsel. Ek het in my jongdae ‘n bietjie macrame gedoen. Net pothangers. Nooit ‘n muurbehangsel nie. So, voor my bed lê rie handwerkboeke wat ek nou intens bestudeer.
En ja, my Toortsie 3 vorder ook so tussendeur. Ek is daaroor ook regtig opgewonde, dit is op die hond se stert. Eers wil ek net gou vanjaar se VLV-uitdagings klaarkry om dit betyds in te handig, dan is die afhandel van hierdie boek eerste prioriteit.
En ek is opgewonde oor iets baie lekkers wat DV hierdie jaar gaan gebeur, sommer binnekort, maar ek gaan nou nie hieroor uitpraat nie, hoor. 🙂
En ek is opgewonde oor ‘n Here wat vir my kreatiwiteit gegee het en y die geleentheid gee om dit te ontwikkel. Hy het ook vir my my persoonlikheid gegee, en ja, ek is dalk maar erg die meeste van die tyd, ook vir myself, maar dit is wie ek is. 🙂
Nou toe! ‘n Mens kan opgewonde wees soos jy wil. Ongelukkig gebeur niks solank jy met jou rekenaar op jou skoot sit en vertel waaroor jy opgewonde is nie. Die dinge gebeur nie vanself nie. Julle moet ‘n mooi dag hê.
Toortsie
Ag, ek het skoon vergeet om te noem! Die grootste opwinding is dat ons al weer in die berg rondloop. Beslis nog stadiger as voorheen, maar ons loop!

Mooi, Toortsie! Hou die momentum!!
LikeLiked by 1 person
Dankiedankie. Jy gaan ook makrame nè?
LikeLike
Jy doen mos eintlik sommer alles. 😁👏🏻👏🏻👏🏻🥂
LikeLike
Jy gaan heerlik besig bly.
LikeLiked by 1 person
Jajaaa 😁
LikeLike
Mooi man, dis omtrent baie om oor opgewonde te raak. Baie om na uit te sien en doen.
LikeLiked by 1 person
Liewe!!! Jy is voorwaar ‘n bol energie. Hoef seker nie te sê sterkte met alles nie… jy is meer as ‘n oorwinnaar.
LikeLiked by 1 person
Kom ons kyk eers wat gebeur. 😁
LikeLiked by 1 person
Lekker om so kreatief te wees! Laat waai!
LikeLiked by 1 person
😀
LikeLike