Omkap

Ek lees daar by Christa van die verskriklike seer inspuiting wat sy moes kry in haar hand, soveel so dat sy amper, of dalk heeltemal, omgekap het.

Ek hou nie baie van bloed nie. Eintlik is ek glad nie ‘n verpleegster nie. Tog wonder ek of my aversie vir bloed nie met tyd gevoed is nie? Want kleintyd het ek graag bygestaan as daar slaap of vark geslag is. Dalk is dit net mensbloed wat die probleem is. Ek het skoon angstig geraak op universiteit as die studente in my groep siek raak, want ek weet glad nie wat om te doen terwyl die ander HK-lede presies weet hoe nie. As een van my kinders seergekry het, sou ek die situasie goed kon opsom en vir die dokter bel. Die kind selfs behandel presies soos die dokter sê ek moes, geen eie inisiatief met die gedoktery nie. Ek het tog biologie tot matriek gehad en dit redelik interessant gevind.

Op skool het ons mos Jeugweerbaarheid gehad. Elke Woensdag vir ‘n driekwartier. Gewoonlik het ons drilpeloton dan geoefen, maar gedurende die Jeugweerbaarheidperiode het ons ook onder andere noodhulp gehad.

Een warm Woensdag in die Jeugweerbaarheidklas het die tannie vertel wat gebeur as ‘n mens skrik. Of skok opdoen. Jou bloedvate vergroot. Die bloed vloei na jou voete toe. Jy kap om … ek raak al hoe meer sweterig … visiualiseer die bloed wat afvloei in jou bloedvate na jou voete … voel sleg … staan op … en hulle help my uit die klas uit …

My dogter se neus het op ‘n stadium baie maklik gebloei. En as dit begin bloei het, het dit vir dae aangehou totdat daar iets grillerigs gebeur en dit ophou. Ek wonder of die Disprins wat ek my kinders gegee het as hulle siek was, dit dalk aangehelp het? Dit was ook baie keer verbind aan verkoue.

Een keer het my man uithuisig gewerk. Dit was omtrent die begin van die neusbloeiery. Sus slaap by my in die bed. Die neus bloei en bloei en bloei. Sulke goed gebeur mos in die nag. Wanneer jy nie die dokter wil pla nie. Ek gryp die noodhulpboekie wat ek een keer by Leserskring gekoop het. Kan nie meer onthou wat dit gesê het nie. Bel die dokter. Hy sê, moet asseblief nie iets in die neus indruk om die bloed te stop nie, dan loop dit in haar keel af. Kop vorentoe. Druk net neus toe vir vyf minute. Toe raak dit ‘n baie lang proses. Neus bloei, ek druk neus toe, so tussen die half omgekaptheid, vyf minute om, kind nies, bloei weer, ma druk neus toe so half uitgepass, neus hou op bloei, ens … vir baie lank daardie nag.

Met tyd het ek én sus mooi geleer wat om te doen. Sy het slimmer geraak, ek ook. Later sou sy net in die gang af roep, met ‘n toegedrukte neus: “Ma, my neus bloei. Bring asseblief ‘n nat waslap,” en sy sou dit self uitsorteer terwyl ek by haar sit. Sy het juis so moedeloos geraak in die laerskool as die noodhulpjuffrou elke keer wattetjies in haar neus druk om die bloeding te stop. Sy sê wat dan in haar keel gebeur is om van naar te word. Maar hoe kan ‘n dogtertjie in die laerskool vir die noodhulpjuffrou vertel presies wat eintlik die regte ding is om te doen?

Gelukkig het ek ‘n man wat nie gril vir bloed nie. Hy is die een wat maar my wonde versorg, en as dit daarop neerkom, sy eie ook. Ek help darem soms ‘n wond skoonmaak en pleister opplak sonder om flou te val.

Toortsie

15 thoughts on “Omkap

  1. Ek was die ousus en moes almal se wonde versorg van kleins af. In noodsituasies raak ek vreeslik klinies en skrik later. Die ergste waf ek al gesienhet is n kind wat teen n ruit feval het, dit breek en sny hom oop tot teen die been. Na ons hom by die dokter gekry het met n handdoekdrukverband en allerhande noodhulpreels, het die skrik gekom. Die prentjie sal ek nooit vergeet nie

    Liked by 2 people

      1. die ergste is, toe is die kind se stiefma kwaad omdat ons haar nie eerste gebel het nie, want die lugmagkind moes basis toe gaan, nie plaaslike dokter nie en nou is dit ‘n probleem met die betaling. Ek bid jou aan!

        Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s