Errie die erdwurm

Aalsie het ons uitgedaag om stories vir ons kleinkinders te skryf.

Hello maatjies, my naam is Errie. Ek is ‘n erdwurm. Toe dit laas so hard gereën het, is ek gebore. My huisie was die dik rooi kombers op Toortsie se stoep. Die hondekombers waarop hulle in die son lê.

Ek het baie groot geskrik. Ek het nog so lekker in my huisie gelê toe moet ek net klou vir al wat ek het. Ek het nie geweet wat aangaan nie. Dit het gevoel of my hele huisie bewe en skud.

Toe val ek uit my kombershuisie, op die harde sement met my sagte lyfie. Ek was so bang. Elke keer kom daar ‘n groot hondepoot en trap naby my. Ek moet net koes en weet nie wat om te doen nie.

Terwyl my hartjie baie vinnig klop omdat ek so bang is, kom ‘n groot mensehand en tel my op. Oe! Ek was bang die groot vingers druk my fyn! Dan is ek regtig dood! Ek kriewel my lyfie heen en weer om af te spring van die groot hand af, maar dit wil nie werk nie.

Toe kantel die hand en ek gly af. Ek het sommer net my ogies toegemaak, want ek was te bang om te sien wat gebeur. Waar gaan ek val met my sagte lyfie? Maar ek het geval op iets sags.

Eers het ek net doodstil gelê, te bang dat daar nog iets gebeur. Toe ruik ek dit! Kos! Blaartjies. Kompos! Ek maak my ogies oop en sowaar, ek was in die komposhoop tussen al die nuwe blaartjies en skille wat daarin lê. Ek was so bly en het dadelik begin grawe ondertoe, na die regte kompos. Ek was gered!

20 thoughts on “Errie die erdwurm

Gesels saam, asseblief!